Skip to main content

Numeri 1-2

Inleiding

Numeri fokus op die veelbewoë reis van Israel deur die woestyn. Dit is die verhaal van twee generasies se reis met God. Die eerste generasie verspeel hulle kanse om die beloofde land in te neem weens hulle arrogante opstand teen en ongeduldige wantroue van die Here. Die Here gee egter nie moed op om sy doel met sy volk te bereik nie. Hy bring die tweede generasie ná veertig jaar na Kanaän in vervulling van sy verbondsbeloftes in Genesis aan Abraham, Isak en Jakob. Sy verbond met die aartsvaders is dus die dryfkrag agter die Uittog uit Egipte én die uiteindelike Intog in Kanaän.

God is daarom nie net die God van beloftes en bevele soos in Genesis, Eksodus en Levitikus nie. Hy is ook die God wat bevel neem en sy mense begelei deur sy Gees en sy Woord, soos in Numeri en Deuteronomium hierna. In hierdie verhouding met God speel vertroue en gehoorsaamheid steeds die primêre rol, ook vir ons. Al hierdie verhale leer ons hoe om Jesus as die Leidsman en Voleinder van die geloof te volg, soos die Hebreërskrywer later sou skryf.

Die boek is saamgestel rondom twee dele van hierdie reisverhaal.

  • Die eerste deel (hfst. 1-14) vertel die verhaal van die trek van die eerste generasie van die volk van Sinai tot by die oostekant van die beloofde land. Dit eindig met die gebrek aan vertroue in God om die land in te neem en is die begin van die gevolglike verdere dekades lange omswerwinge in die woestyn.
  • Die tweede deel (hfst. 15-36) fokus op kwessies van leierskap en priesterskap, met die gepaardgaande voorskrifte, ‘n aantal oorwinnings in die woestyn en eindig met die aankoms van die tweede generasie van die volk in Moab, oos van die Jordaan, gereed om die beloofde land in te neem.

In ‘n sekere sin help die boek ons dus verstaan hoe ‘n mens nie as volk van God moet optree nie. Dit is ‘n versameling van “slegte voorbeelde” wat in die NT tereg as ‘n waarskuwing vir die geloofsgemeenskap voorgehou word. Ek brei daarop uit in ‘n gedeelte oor die gebruik van Numeri in die NT.

Wat dus uitstaan van hierdie reis is die Israeliete se voortdurende klagtes en ongehoorsaamheid. Dat die tweede generasie dit wel maak om by die land Kanaän aan te kom, het meer met God se beloftes en voorsiening te make, as met die getrouheid en gehoorsaamheid van sy volk.

Maar van ‘n ander kant gesien, is Numeri ‘n perspektief op die God wat sy doel met hulle deurvoer al beproef die eerste generasie sy geduld tot die uiterste toe. Hy gee eenvoudig nie bes nie, en bring die volk in Kanaän, in vervulling van sy beloftes, al is dit met die tweede generasie.

Daarmee bewys God dat Hy getrou is aan sy verbondsbeloftes in Genesis aan Abraham, Isak en Jakob. Sy verbond met die aartsvaders is dus die dryfkrag agter die Uittog uit Egipte én die uiteindelike Intog in Kanaän. Abraham se “saad” sal die beloofde land in besit neem al bars die bottel.

Vir meer inligting veral oor die probleem van geweld in die OT sowel as die wyse waarop die NT by die boek Numeri aansluit, kan jy hierdie skakels volg:

https://bybelskool.com/inleiding-n-reisverhaal/

https://bybelskool.com/indeling-twee-generasies/

https://bybelskool.com/ekskursie-geweld-in-die-ot/

https://bybelskool.com/ekskursie-numeri-in-die-nt/

Numeri 1-2

Elkeen kry sy plek in die kamp

Teks en konteks

Die tyd vir die volk van Israel om die reis deur die woestyn voort te sit na die beloofde land Kanaän het aangebreek, veertien maande ná die Uittog uit Egipte. Die Tabernakel is voltooi, die voorskrifte van die wet is gegee, en elkeen het goed geweet hoe hulle in gehoorsaamheid aan die Here en mekaar moet leef. Hulle was gereed om die Here te volg na die plek wat Hy vir hulle in Kanaän sou aanwys.

Vir die uitdagings waaraan hulle in die woestyn blootgestel sou word, was daar egter nog ‘n paar finale voorbereidings om te tref. Hulle moes militêr, sosiaal en geestelik as ‘n eenheid saamgesnoer word vir die uitdagings wat hulle in hulle konflik met ander nasies sou ervaar. Hulle moes ook leer hoe om in die praktyk as families binne die groter geheel met mekaar en God te leef.

Die militêr weerbares word getel

Die eerste opdrag aan Moses en Aäron is om die weerbare manne wat vir militêre diens geskik is, te tel. Daarmee is hulle aandag gefokus op die weerbaarheid wat hulle nodig sou hê nie net op die reis deur die woestyn nie, maar ook met die Intog in die beloofde land.

Die feit dat die Here dié opdrag gee, is betekenisvol, want Dawid moes dit ontgeld toe hy die volk wederregtelik getel het onder aanhitsing van die Satan (1 Kron. 21:1; vgl. ook 2 Sam. 24:1 waar dit die Here self is wat hom daartoe aanhits, omdat die Here toornig was oor Israel weens ‘n ongespesifiseerde rede). God wil hiermee aan elkeen ‘n plek gee binne die geloofsgemeenskap. Dit sluit die militêre, sosiale en geestelike dimensies van die volk in.

Let op dat daar twaalf leiers uit die stamme aangewys word om saam met Moses en Aäron die sensus te behartig. Levi was uiteraard nie deel van hierdie proses nie, aangesien hulle nie ooit militêr aangewend is nie. Hulle is wel later getel met die oog op hulle spesifieke verantwoordelikhede (Num. 4:34-49).

Josef se nageslag het in twee stamme ontwikkel, Efraim en Manasse. Met die leiers uit dié twee stamme was die aantal leiers dus steeds twaalf in getal. Laat ‘n mens dink aan die aanvulling van die getal van die dissipels in die NT dat hulle die volle getal twaalf kon bly (Hand. 1:21-22).

Elke Israeliet kry ‘n plek in die kamp

Die tweede opdrag aan Moses en Aäron was om aan elke Israeliet ‘n plek in die “kamp” te gee rondom die Tabernakel van die Here. Elke persoon se plek by sy eie familie en stam was belangrik, sowel as hulle plek in verhouding met die ander stamme en ook met die Tabernakel.

Dit gaan nie net oor ‘n sosiale en geestelike hiërargie waarin elkeen sy plek moes ken nie, maar om te sorg dat elkeen wat aan die volk behoort inderwaarheid ‘n plek gehad het om sy eie te kan noem. Só sou dit immers ook met die uiteindelike verdeling van die land gebeur, soos ons reeds met die sensus van die tweede generasie agterkom (Num. 26).

Die vaandel (děḡěl – banner/signal) waarvan ons hier lees, was ‘n uitkenningsteken vir die stam (vgl. Hoogl. 2:4 waar dieselfde woord gebruik word: “His banner over me was love”). Daarbenewens was daar ook ‘n teken (ʾôṯ) vir elke familie, ‘n soort familie embleem, soos die reënboog interessant genoeg ook as teken van God in Genesis beskryf word (Gen. 9:12).

Hierna sou die reëlings rondom die Levitiese gemeenskap (hfst. 3) en hulle ampspligte volg (hfst. 4), die voorskrifte vir die reinheid van die geloofsgemeenskap (hfst. 5) en die Nasireërs, sowel as die Aäronitiese seën (hfst. 6), en die voorsiening vir die Levitiese werk (hfst. 7), hulle reiniging (hfst. 8) en die viering van die tweede Paasfees (hfst. 9) in voorbereiding vir die reis deur die woestyn.

Betekenis

Om hierdie twee hoofstukke se betekenis vir jouself toe te eien, kan jy aan twee ooreenkomste met die NT verhale dink.

  1. Dit is in die eerste plek opmerklik dat die Here Jesus moeite doen in sy laaste onderrig aan sy dissipels om hulle van ‘n plek in die hemel te verseker, ‘n plek wat Hy gaan gereedmaak vir hulle: “In die huis van my Vader is daar baie woonplek … En as Ek gegaan het en julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Joh. 14).

Dink vandag daaroor dat jy in die geloof ‘n heenkome vir ewig het by God die Vader; dat daar in sy huis nie net baie woonplek is nie, maar ‘n plek vir jou, ‘n plek wat Jesus vir jou gereedmaak. Wanneer dit klaar is, kom Hy jou haal om vir ewig by Hom te wees.

  1. Dit is ook insiggewend in die tweede plek dat die geloofsgemeenskap as sodanig in die NT as ‘n “laer” beskryf word. Johannes gebruik in Openbaring 20:9-10 hierdie idee van die “kamp” in die woestyn as beskrywing van die wyse waarop die geloofsgemeenskap as ‘n eenheid in ‘n “laer” moet vasstaan in die oorlog wat die Satan teen hulle voer (vgl. ook Ef. 6:10-13). Hierdie idee sal later aangevul word in Numeri 9:18-23 met die opdrag dat die volk telkens in gehoorsaamheid aan die Here moet beweeg. Wanneer God beweeg, beweeg die geloofsgemeenskap.

Dink vandag dus ook daaroor dat jy aan die een kant in die geloofsgemeenskap ‘n plek het, dat jy deel is van die liggaam van Jesus Christus, en dat jy aan Hom behoort, dat jy Hom aanbid, maar dat jy tegelykertyd saam met almal wat in Hom glo, van betekenis is in die stryd vir geloof op ons reis in hierdie wêreld, daar waar jy vir Hom leef. “Worship and war”, soos Alan Stibbs dit beskryf (Search the Scriptures).

Daarmee word twee van ons grootste behoeftes aangespreek: om te behoort en van betekenis te wees. Sê vir die Here dankie daarvoor en sorg dat jy jou plek saam met die kinders van die Here volstaan in aanbidding en die geloofstryd!

 

 

 

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…