Skip to main content

Nuusbrief Augustus 2026

Ek deel graag in hierdie nuusbrief ‘n refleksie “Wanneer die storm kom”, ‘n paar veranderinge in my opdrag in Veritas, twee getuienisse van ons MA studente, ‘n getuienis uit die Libanon waar ons fondasie opleiding regtig grond gevat het, ‘n paar gebedsversoeke onder andere vir die groei in my bediening en ek sluit met ‘n persoonlike woord van bemoediging.

Lees meer…

Skryf hier in vir die nuusbrief

Nuusbrief Februarie 2026 – Veritas in Namibië

Die afgelope maand het ek en Herman Steyn (regs bo) deur Namibië gereis vir Veritas, ‘n reis wat Herman spitsvondig as ‘n “Paulus en Barnabas” reis getipeer het. Hierdie nuusbrief fokus op die dinge wat ons daar ervaar het.

Die beplanning vir die reis het reeds in Oktober 2024 begin op ‘n Predikantekonferensie waar ek as spreker opgetree het. Die behoefte is daar uitgespreek vir die aanbied van module 1 op ‘n paar plekke in Namibië. Uiteindelik sou Keetmanshoop, Windhoek, Tsumeb en Aroab op hierdie reis as opleidingsentra dien.

Lees meer…

Nuusbrief Mei 2025

Beste Leser

Van hierdie “happy space” werk ek al die afgelope twee jaar vir Veritas College International as hulle direkteur vir bediening en geestelike vorming. Op die skerm links is my Bybelprogram, Logos, oop by Spreuke 8-9 wat ek besig is om voor te berei vir die MA klas binnekort oor die wysheidsliteratuur (OT602). Aan die linkerkant van daardie skerm is 9 Bybels oop wat met mekaar sinkroniseer soos ek vers vir vers daardeur werk. Aan die regterkant is 12 kommentare oop wat ook daarmee sinkroniseer wat ek van tyd tot tyd raadpleeg.

Op my rekenaar in die middel is die Spreuke 8-9 teks oop wat ek besig is om te eksegetiseer vir die memorandum wat ek gaan gebruik vir die assessering. Die kleure is om die onderskeie karakters en temas in die lang gedig oor Vrou Wysheid van mekaar te onderskei. Die blokke is om die betekenis eenhede te kan onderskei van mekaar met opmerkings aan die regterkant wat die boodskap daarvan opsom om uiteindelik die absolutes te kan formuleer wat ‘n mens vandag ook kan toepas in jou geestelike lewe. Langsaan aan die regterkant is my iPad wat ek vir leeswerk gebruik.

Dit is hier waar my aanlyn zoom klasse gebeur. Onder andere die volgende een waarin ons oor die wysheidsliteratuur gaan gesels en die studente ‘n taak gaan uitwerk om Spreuke 8-9 te eksegetiseer, toe te pas, en aan ‘n groep van hulle keuse te kommunikeer.

Die is ook hier waar my Bybelskool bydraes hulle ontstaan het. Voorwaar ‘n vreugde en voorreg om in hierdie fase van my bediening soveel dieper te kan werk met die insigte wat die Woord vir ons gee.

Skryf in vir die nuusbrief en lees verder

Nuusbrief Februarie 2025

Ek skryf hierdie nuusbrief vanaf die 78ste jaarvergadering van The Association for Biblical Higher Education (ABHE) in Orlando, Florida, saam met Dawie van Vuuren (dekaan, heel regs), en Bennie Wolvaardt (president, net links van Dawie).

ABHE is die liggaam in die VSA wat die internasionale akkreditasie van ons Graduate School hanteer.

Besonder treffend was die bydrae van Dr. Michael Lindsay. Hy is ‘n Invloedryke leier in opvoeding in die VSA en tans die president van Taylor University in Upland, Indiana.

Lindsay het gefokus op temas uit sy boek Hinge Moments: Making the Most of Life’s Transitions waarin hy skryf oor die geleenthede waar deure oop (of toe) gemaak word wat die koers van ons lewe radikaal verander.

Hy het dit geïllustreer met insidente uit sy eie lewe. Op persoonlike vlak met die geboorte van hul eerste dogter wat met ‘n raar genetiese afwyking gebore is. En op ‘n professionele vlak met die roepstem van die Here wat hom gelei het om van Gordon College na Taylor Universiteit te skuif tsv groot sukses in die hantering van groot uitdagings by Gordon College, onder andere om die vervolging van die Menseregtekommissie rondom LGBTQIA+ kwessies op hulle kampus die hoof te bied met groot persoonlike koste.

Jy kan hier na ‘n podcast luister waarin hy sy boek en van dié voorbeelde bespreek.

‘n Gebed wat hom in dié tye gehelp het, is ‘n gebed wat genoem kan word: “Prayer of indifference” (nav Ruth Haley Barton se boek met dié titel). D.w.s. ‘n gebed waarin jy eerder God se wil soek as jou eie; waar jy besluit om God se wil te doen, maak nie saak wat dit jou kos nie; waar jy in belang van ander intree by die Here, ongeag watter invloed dit op jou eie persoon en behoeftes het.

Soos Jesus in Getsemane: “My Vader, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.” (Matt 26:42)

‘n Goeie Afrikaanse vertaling is miskien: “Gebed van afstand” of “Gebed van berusting” (eerder as “onverskilligheid”, want dit kan verkeerd verstaan word).

Só ‘n gebed is noodsaaklik as ‘n mens die Here se wil soek rondom die skarnieroomblikke in jou lewe, anders kies ‘n mens te maklik vir dit wat gemaklik of bekend is.

Lees verder (en teken in op die nuusbrief)

Nuusbrief September 2024

‘n Aanhaling van John Watts in sy kommentaar op Jesaja wat nie net die toestand van Israel beskryf voor die ballingskap nie, maar ook die wêreld van ons dag wat in ‘n morele moeras verval het en konflik en vervreemding drasties laat toeneem, selfs in die kerk. Ons wêreld is soos ‘n toring Jenga blokkies waar een na die ander blokkie uitgetrek word en die struktuur verswak word tot die hele toring inmekaar val. Lees meer in my preek by Moreletapark oor wat ‘n mens te doene staan as die fondamente verkrummel…

Ek lees vanoggend in my stiltetyd die verhaal van koning Josia (2 Kronieke 34; 2 Konings 22:1-20; 23:1-3). Twee dinge staan vir my uit van sy verhaal.

Die eerste is dat hy nie gras onder sy voete laat groei toe hy die “verlore” wetboek van Moses gevind het nie. Hy sit onmiddellik met die bekwame hulp van die profetes Gulda ‘n hervormingsproses aan die gang wat die verval onder die volk verstadig het, en die aanbidding van die Here herstel het.

Die tweede is egter dat sy hervormings nie die gety kon draai nie. Die verval onder die volk was net te groot en hy self val vir die versoeking om teen die wil van die Here in ‘n dwase alliansie met Egipte te gaan.

Gelukkig is dit nie die laaste woord oor die volk van Juda nie, want die Here gebruik die oordeel om ‘n oorblyfsel te vorm wat Hom ná die ballingskap weer terug in hulle land sou dien. Die Here belowe:

“Ek sal die sonde van dié wat Ek laat oorbly, vergewe.” (Jer 50:26)

Dit bly die belofte van die Here ook vir ons tyd. Soos die skrywer van Kronieke sê:

“Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” (2 Kron 16:9)

Dit bly my hoop vir die gemeenskap van gelowiges wat versprei is in alle denominasies regoor die wêreld dat hulle in hulle vertroue op die Here sal volhard en die getuienis van Jesus Christus as die Here regoor die wêreld sal verkondig in woord en daad.

Die tyd vir herlewings is nie verby nie, ook nie in ons eie land nie. Lees weer hieroor en laat die Here jou hart in gebed en smeking roer vir verandering. Ek gee vir jou hier ‘n kort uittreksel uit Bennie Mostert se boek oor die 1857-62 herlewing in Suid-Afrika wat interessant genoeg eerste onder die Xhosas en Zoeloes uitgebreek het.

Lees verder hier…

Skryf hier in om die nuusbrief te ontvang.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda