Skip to main content

Josua 10

Josua loop die suide plat in een deurslaggewende veldtog

Teks en konteks

Die nuus van Josua se beheer van drie stede in die middel van Kanaän – Jerigo, Ai en Gibeon – het koning Adoni-Sedek van Jerusalem tot aksie laat oorgaan om ‘n koalisie te vorm met die konings van vier ander stede in die suide: Hoham van Hebron, Piram van Jarmut, Jafia van Lakis en Debir van Eglon. Hierdie vyf Amoritiese konings het teen Gibeon opgetrek om só Josua in ‘n geveg in te trek (vgl die soortgelyke verhaal van Abram in Genesis 14).

Op versoek van Gibeon en in opdrag van die Here het Josua die uitdaging aanvaar en deur die nag getrek – 35 km ver van Gilgal na Gibeon! – om die Amoriete te verras. Israel het ‘n groot slagting onder hulle aangerig en hulle verslaan. Let op dat die Here eintlik meer van die Amoriete doodgemaak het met haelstene – een van die plae van Egipte – as wat Israel met die swaard doodgemaak het.

Toe Josua egter sien dat die tyd uitloop om die geveg te voltooi, het hy die Here gevra om die son te laat stilstaan in Gibeon en die maan in Ajalonlaagte. En dit is presies wat gebeur het. Die Here het vir Josua geluister en op dié manier verder vir die Israeliete oorlog gevoer. Hulle het amper nóg ‘n twaalf uur bykomende daglig gekry om die oorlog af te handel.

‘n Mens kan hierdie wonderwerk probeer verklaar uit natuurlike oorsake, bv dat die aarde se draaibeweging vertraag is, of dat daar op een of ander manier ‘n weerkaatsing van die son van êrens af was. Maar sulke natuurlike verklarings is baie keer net te spitsvondig. Dit is beter om te aanvaar dat dit God se handewerk is waarin Hy gesorg het dat daar genoeg daglig was vir Israel om hulle werk klaar te maak. Hoe weet ons nie presies nie.

Die vyf konings is gevang waar hulle in ‘n grot in Makkeda gaan wegkruip het. Die oorwinning oor die vyf konings is gevier deur die simboliese minagtende voete op hulle nekke waarna hulle opgehang is en in die grot begrawe is.

Josua het dié gebeurtenis aangegryp om ‘n verdere veldtog te voer teen sewe van die stede in die suide. Die eerste twee was Makkeda en Libna. Volgende aan die beurt was twee van die stede van die suidelike koalisie, Lakis en Eglon, sowel as Geser.  Hierna het die ander twee stede van die suidelike koalisie, Hebron en Debir, geval, sowel as die inwoners van die buitedorpe.

Uit Josua 12:14-15 bly dit dat nog vier stede geval het: Geder, Gorma, Arad, Adullam, sowel as Jarmut wat nie hier spesifiek genoem is nie.

Boodskap en betekenis

Josua het dus die hele suidelike gebied platgeloop, soos die teks sê: “die Bergland, die Suidland, die Laeveld, die Hange, al die konings daar. Hy het niemand laat vrykom nie. Hy het alles wat asem het, uitgeroei, soos die Here die God van Israel beveel het.”

Josua het hulle platgeloop van Kades-Barnea af tot by Gasa, ook die hele Gosengebied en tot by Gibeon. Hy het al die konings en hulle lande in een veldtog oorwin, want die Here die God van Israel het die oorlog vir Israel gevoer. Daarna is Josua, en die hele Israel saam met hom, terug na die kamp toe in Gilgal.

Net Jerusalem het vrygekom. Dit is eers in Dawid se tyd onder Israelitiese beheer gebring.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…