Skip to main content

Jesaja 45:9-46:13

Die Skeppergod alleen kan red.

In twee beeldryke gedeeltes word God se keuse van Kores as sy instrument van redding gemotiveer in sy Skeppingsmag (Jes 45:9-25) en die mensdom se dwase voorkeur vir magtelose afgode ontbloot (Jes 46).

Teks en konteks

Jesaja 45:9-25

Jesaja spreek die volk aan oor die fundamentele misverstand van die verhouding tussen God en die mense. Dit verlei hulle om onafhanklik van God te probeer lewe, terwyl Hy die Pottebakker is en hulle die klei; Hy die Vader, hulle die kinders.

So waarom sou Israel God se plan bevraagteken? Hy is volledig in beheer.

Ten spyte van hulle onbegrip is God egter vas van plan om hulle te red deur Kores: “Dit is Ek wat hom opgewek het, met die oog op geregtigheid. Al sy paaie sal Ek gelyk maak. Dit is hy wat my stad sal herbou en my ballinge sal vrylaat.

Trouens, dié redding gaan die Here ook as ’n getuienis aan die nasies gebruik: “Hulle sal agter jou aan loop… by jou sal hulle biddend pleit, ‘Waarlik, by jou is God, en daar is geen ander nie, ja, geen ander God nie.’ ” (vgl Sagaria 8:23 wat die beloftes herhaal vir die Messiaanse toekoms)

Let weereens op hoe sy Goddelikheid uitgespel word in terme van sy Skepper wees en sy beheer van die Geskiedenis, soos dit al verskeie kere in Jesaja die geval was. Die Here alleen is God. Hy is die Here, die Heerser oor alle magte, ook in die geskiedenis. En dit sal tot in ewigheid só wees.

Die wegkruip van God in vers 15 het te make met die feit dat God ver bo die skepping, en in daardie sin verborge is, maar hy streef ook na ‘n verhouding met mense en maak Homself aan ons bekend. soos vers 19 bevestig.

Let ook op die woorde: “ my woorde gee lewe” (Jes 45:19). Petrus eggo dit aan Jesus: “U het die woorde wat ewige lewe gee“ (Joh 6:68).

Die uitspraak lei ’n besondere appèl aan die nasies in, waarin hulle – soos die volk in Jesaja 1 – opgeroep word tot bekering: “Kom na My toe dat julle gered kan word, almal op die aarde, want Ek is God, daar is geen ander nie” (Jes 45:22)

Daaraan word God se belofte gekoppel dat sy woord betroubaar is, en vervul sal word onder al die nasies: “voor My sal elke knie buig, in my Naam sal elke tong ’n eed aflê.” (Jes 45:23)

Jesaja 46:1–13

In Jesaja 46 kondig God die val van Babilon aan deur te verwys na Bel en Nebo, twee van hulle tradisionele gode, wat dit nou ontgeld in die verwoesting wat van die Persiese leërs sal kom (Jes 46:1-2; vgl ook Jes 47:1-15).

Maar, die klem val hier nog nie soseer op Babel nie, maar op die hardkoppigheid van Israel wat sy verlossing nie sonder meer wil aanvaar nie (Jes 46:3-13; later ook in Jes 48:1-19).

Let op hoe God sy betroubaarheid in vers 4 uitspel vir die hele lewe: “Tot in julle ouderdom is Ek daar; tot in julle gryse ouderdom is Ek die Een wat julle dra. Dit is Ek wat dit gedoen het: dit is Ek wat optel, dit is Ek wat dra en verlos.”

Weereens word die nutteloosheid van afgode wat met die hand gemaak word, uitgespel. Mesopotamiese gode is met sekere stede geassosieer. Tydens ‘n god se fees was dit ‘n teken van eer vir die godheid om ‘n naburige stad te besoek. Om die beweging van die god te simboliseer, is sy standbeeld in ‘n rituele optog van een stad na die ander gedra. Jesaja spot met die ritueel deur daarop te wys dat die lasdiere wat die afgode dra, meer lewe en krag het as die afgode self. Uiteindelik word die beeld van die optog omskep in ‘n beeld van die afgode wat in ballingskap weggesleep word.

En word hulle herinner daaraan dat daar niemand soos God is nie, hier uitgespel in die feit dat Hy iets aankondig voor dit gebeur, en dan gebeur dit. Sy raadsbesluit sal standhou; alles wat Hy wil, sal Hy uitvoer.

Israel verdien nie wat hulle gaan kry nie – genade en nie oordeel nie. Maar, dit berus op die besluit van die Here: “Luister na My, trotses van hart, julle wat ver is van geregtigheid. Ek het my geregtigheid nader gebring; dit is nie meer ver nie. Die verlossing wat Ek bring, sal nie talm nie. In Sion sal Ek verlossing skenk, aan Israel my heerlikheid.”

Boodskap en betekenis

Jesus begin in die Bergrede die saligsprekinge met die klem op hierdie afhanklikheid van God (Matt 5:3). Dit is wanneer ons regtig die beeld van die Pottebakker en die klei, die Vader en sy kinders, ernstig neem dat ons lewe sin en betekenis begin kry. Afhanklikheid bring berusting en beskerming.

Dit laat ons ook ontspan in ons verhouding met ander mense. Paulus gebruik die belofte in Jesaja 45:23 dat al die nasies voor God die knie sal buig, om gelowiges op te roep om nie veroordelend teenoor mekaar te wees nie, want ons almal sal voor die regterstoel van Christus gestel word en aan God rekenskap gee (Rom 14:10-11).

Ons kan bekostig om in genade na ander uit te reik, om te vergewe, om te verdra, want alle nasies sal uiteindelik voor die verheerlikte Jesus neerkniel (Fil 2:10-11), sommige tot ‘n ewige heerlikheid, en sommige tot ‘n ewige skande (2 Tess 1:3-12).

Mag ons optrede bydra om mense tot inkeer te bring, sodat die wederkoms vir hulle ‘n heerlike ontvangs in God se koninkryk sal verseker.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.