Skip to main content

Spreuke 27:1-27

Wees verstandig in beplanning en die uitvoering daarvan

Waar die vorige twee hoofstukke gefokus het op die twee hoof beskrywings van menslike gedrag: wysheid (hfst 25) en dwaasheid (hfst 26) – met die verskil wat veral lê in die respek vir allerlei grense al dan nie – fokus hoofstuk 27 meer op persoonlike houdings en emosies en hoe dit in sosiale gedrag na vore kom.

Telkens word dié spreuke met skerp pittige prentjies verwoord, waarvan sommige net onopsombaar mooi is en liefs net so gememoriseer moet word!

Spreuke 27:1-2

Vers 1. Moenie grootpraat oor môre nie. Jy kan per definisie nie van môre seker wees nie. Dit is ‘n belangrike waarheid wat Jakobus met die afhanklikheid van God verbind het, en waar ons idee van Deo Volente, as die Here wil, vandaan kom (vgl Jak 4:13-17; vgl Ps 37:3; Matt 6:34).

Vers 2. Moenie jouself prys nie. Dit lê ook aan die wortel van ons idioom: “Jakkals prys sy eie stert!” (vgl Joh 12:43)

Spreuke 27:3

Vers 3. Die ergernis wat ‘n dwaas veroorsaak, is ‘n amper ondraaglike las. Dit put jou baie meer uit as om swaar klippe rond te dra of sand te verskuif. Die geestelike en emosionele inspanning wat nodig is om dit te hanteer, is meer dreinerend as liggaamlike arbeid.

Spreuke 27:4-6

Vers 4. Woede en jaloesie ontsien niks en niemand nie. Daar is ‘n fyn lyn tussen kwaad word en sondig, soos Paulus ook in Efesiërs skryf: “As julle kwaad word (wat nog nie ‘n probleem as sodanig is nie), moenie sondig nie (bv deur te steel, of lelik te praat, of verbitter of opvlieënd te wees, te vloek of te skel nie)” – Efesiërs 4:26-31. Jaloesie is egter altyd verkeerd in Spreuke – wanneer jy jaloers is op mag (Spr 3:31), of van hartstog brand (Spr 14:30) veral vir ‘n ander man se vrou (Spr 23:27) of nog erger jaloers is op slegte mense (Spr 24:1,19). Die woord word soms in die res van die Bybel in ‘n positiewe sin gebruik, waar dit op enkelvoudigheid of lojaliteit dui, veral van God self (Eks 20:5). Maar dit is nie die geval in Spreuke nie.

Vers 5-6. Eerlikheid is altyd die beste. Selfs al ontbloot dit jou, en maak dit jou seer. ‘n Openlike bestraffing konfronteer jou om tot inkeer te kom, terwyl ‘n onsigbare liefde jou nie keer van ‘n verkeerde pad nie. Op eerlike mense se menings kan jy dus staatmaak. Hulle is jou ware vriende. Moenie daarvan terugdeins nie. Jy moet egter ook versigtig wees vir ‘n skynheilige soen. Dit kan ‘n hart wat haat wegsteek. Dink maar net aan Judas wat Jesus verraai het met ‘n soen.

Spreuke 27:7-9

Vers 7. Eetlus hang van jou versadigingsvlakke af. As jy versadig is, is alles bitter. As jy honger is, is alles soet. Ons het verskillende idiome wat dieselfde waarheid vasvang: “As die muis dik, is die koring bitter.” “Honger is die beste kok.”

Vers 8. Eensaamheid is bitter sleg. ‘n Mens kan hierdie spreuk verstaan soos wat die 1983-vertaling dit vertaal: “Soos ‘n voël wat sy nes net so los, so is ‘n man wat sy gesin in die steek laat.” Maar, dit kan ook doodgewoon die eensaamheid van iemand uitdruk wat weens watter rede ook al ver van sy huis af is. Die ervaring bly dieselfde. Of dit nou is weens immigrasie of vir besigheid of omdat jy gevlug het vir een of ander moeilikheid. Ek verkies laasgenoemde verstaan, omdat dit ook nader aan die oorspronklike is.

Vers 9. Die raad van ‘n vriend is kosbaar. Vriendskap se voordeel lê in die raad wat jy kry, nie net in die plesier daarvan nie. Dit is dus iets waarop ‘n mens moet fokus in jou vriendskappe. Dit moet jou keuse van vriende begelei, en die wyse waarop julle saam is. Die plesier is goed, die raad beter. Vergelyk die uitstekende vertaling van die ESV: “Oil and perfume make the heart glad, and the sweetness of a friend comes from his earnest counsel.”

Spreuke 27:10

Vers 10. ‘n Buurman wat naby is, is meer werd as ‘n broer wat ver is, Veral as dié reeds ‘n vriend van jou pa was. Langdurige vriendskappe met jou bure kan vir jou regtig baie werd wees (vgl Spr 18:24 – ‘n vriend kan nader aan jou wees as ‘n broer).

Spreuke 27:11

Vers 11. ‘n Goeie reputasie begin by jou huis. Soos Peterson vertaal: “Become wise, dear child, and make me happy; then nothing the world throws my way will upset me.” (The Message). Dit is ook waar in die geloofsgemeenskap. Vergelyk Paulus se vreugde oor die Tessalonisense se standvastigheid (1 Tess 2:19-20; 3:8).

Spreuke 27:12

Vers 12. Wees waaksaam. Verstandige mense loop oop oë deur die lewe en soek skuiling in gevaar. Naïewe en onervare mense sien die gevaar nie raak nie, en moet die prys betaal.

Spreuke 27:13

Vers 13. Verskans jou teen uitbuiting deur vreemdes. Dring aan op sekuriteit – bv ‘n man se bo-kleed as pand – of dit vir ‘n bona fide persoon (“vreemdeling”, ‘n nie-Israeliet) of ‘n prostituut (“vreemde vrou”) is. Onthou dat Spreuke eintlik borgskap in sy geheel afwys (Spr 6:1-5; 20:16). Vrygewigheid is goed en reg. Gee as iemand iets van jou vra. Borgskap is egter gevaarlik. Moenie vir ‘n ander se skuld instaan. Dit kan jou ruïneer.

Spreuke 27:14

Vers 14. Dit gaan nie net oor wat jy sê nie. Die hoe, wanneer, en hoekom jy dit sê, maak ook saak! Neem dus ander mense in ag, as jy van blydskap wil skree. Selfs as jy oor iemand ‘n seën wil uitspreek. Jou buurman kan dit miskien nog met jou uithou as jy vroegdag al uitbundig is, maar die ander wat daarna moet luister, moontlik nie!

Spreuke 27:15-16

Vers 15-16. ‘n Maat wat rusie maak oor alles is onuitstaanbaar sleg. Dit is soos die aanhoudende gedrup van ‘n lekkende dak in stortreën. ‘n Twisgierige eggenoot kan net so min beheer word as om die wind te probeer inperk, of olie met jou hand te probeer vashou. Peterson vertaal: “A nagging spouse is like the drip, drip, drip of a leaky faucet; You can’t turn it off, and you can’t get away from it.” (The Message)

Spreuke 27:17

Vers 17. Yster slyp yster, vriende vorm mekaar. Dié spreuk is só goed gestel, dit sou ‘n skande wees om dit te probeer anders stel. En dit is só waar!

Spreuke 27:18-20

Vers 18. Dit is tot jou eie voordeel om na jou werkgewer se belange om te sien. Jy sal die vrugte pluk as jy sy belange op die hart dra.

Vers 19. Jy is soos jy dink. Jou gedagtes is ‘n spieëlbeeld van jou menswees. Dit is soos om jou gesig in water te sien. Dit is waarom Spreuke soveel klem daarop lê dat ‘n mens versigtig met jou gedagtes moet omgaan. Dit bepaal jou hele lewe (Spr 4:23). Jy kan ook baie leer van jouself in ‘n “heart-to-heart” gesprek met iemand anders, soos die spreuk ook geïnterpreteer kan word. Jy sien dus jouself in hoe ander jou sien.

Vers 20. Begeertes is onversadigbaar. Jou oë is soos die doderyk (Sheol) en die onderwêreld (Abbadon). Dit word nooit versadig nie. Dit is waarom dit so nodig is om tyd in jou gedagtes te maak vir God en om te luister na wysheid, want dit is die enigste manier waarop jou begeertes nie oor jou sal heers nie.

Vergelyk hoe Johannes in die NT daaroor praat: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig. (1 Joh 2:15-17)

Spreuke 27:21-22

Vers 21-22. Die basiese karakter van ‘n mens kom veral onder druk na vore. Hier kry ons twee spreuke oor die basiese karakter van mense. Uiteraard kan dit nie alles sê nie, maar probeer hulle net ‘n kernwaarheid formuleer.

Soos silwer en goud se waarde deur ‘n oond getoets kan word, só kan ‘n mens se waarde getoets word deur die lof wat hy ontvang. Sy karakter bly dieselfde, selfs as hy geprys word.

Daarteenoor kan jy alles probeer om iets beter van ‘n dwaas te maak. Hom selfs fynmaal soos met graan in ‘n stampblok, maar dit sal nie slaag nie. Dwaasheid kry ‘n mens nie sommer uit iemand nie. Peterson vertaal dit só goed: “The purity of silver and gold is tested by putting them in the fire; The purity of human hearts is tested by giving them a little fame. Pound on a fool all you like — you can’t pound out foolishness.” (The Message)

Spreuke 27:23-27

Vers 23-27. Beplan jou werk sorgvuldig en voer dit nougeset uit. Hierdie uitgebreide spreuk druk ‘n baie belangrike aspek uit van ‘n mens se vertroue op die Here, en jou toewyding aan Hom. Net soseer as wat ‘n mens die Here moet vertrou met al jou weë, Hom daarin moet ken (Spr 3:1-12), en vir sy wysheid moet soek, moet jy, met die lig wat jy van Hom ontvang, jou roeping in die lewe uitvoer. Dit behels twee goed:

  1. sorgvuldige beplanning – sorg dat jy weet wat jou kleinvee nodig het, en
  2. voortdurende betrokkenheid – gee aandag aan jou veetroppe.

Vertroue op die Here vervang nooit beplanning en betrokkenheid nie, maar word juis daardeur bevestig. Dan sal daar iets wees om aan te trek en genoeg kos vir jou gesin en werksmense, selfs genoeg om ‘n nuwe stuk grond te koop. Wyse raad!

Die spreuk spreek ook die gemeenskap in die breë aan. Dit wil nie van almal boere maak nie, maar seker maak dat die gemeenskap begryp dat dit moontlik moet wees vir boere om te floreer. ‘n Gemeenskap wat nie sy boeregemeenskap beskerm nie sal nie oorleef nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar