Skip to main content

Jeremia 35

Die Rekabiete word as voorbeeld van getrouheid aan Juda voorgehou

Jeremia 35 is ’n gevallestudie in getrouheid in skerp kontras met die ontrouheid van die konings en volk van Juda. Dit vind ook in die tempel en in die tyd van Jojakim plaas. Die jaar is egter nie gespesifiseer nie.

Teks en konteks

Jeremia 35:1-11 – Die Rekabiete bly getrou aan hulle voorvader se gebod

Jeremia kry die opdrag om die Rekabiete in die tempel wyn aan te bied om te drink. Hulle het geantwoord dat hulle nie die gebod van hulle voorvader Jonadab, seun van Rekab, kan oortree nie. Dit het ingesluit dat hulle benewens geen wyn nie, ook nie in huise mag woon of landbou bedryf nie. Hulle moes in tente woon en het wel weens die oorlog skuiling gesoek in die stad Jerusalem, maar wou op geen manier aan hulle verbond met mekaar ongehoorsaam word nie.

Die Rekabiete was dus waarskynlik nomadiese veeboere wat rondgetrek het en dié lewenstyl gekies het bo dié van die vestiging in dorpe en stede. Sommige geleerdes identifiseer die Rekabiete met die Keniete, omdat van die Keniete in die OT van ’n voorvader Rekab afgestam het (1 Kron. 2:55). Moses het bv. met ’n Keniet getrou (Rigt. 1:16), en sy skoonvader Jetro, ’n priester van Midian, was dus ’n Keniet (Eks. 3; 18).

Maar, die Keniete waarvan ons in die OT lees, het wel in stede gebly en selfs gehelp met die herbou van Jerusalem ná die ballingskap (Neh. 3:14). Die Rekabiete moet dus ook onderskei word van die Keniete, omdat hulle ’n ander lewenstyl as die Keniete gekies het. Meer weet ons ongelukkig nie van hulle af nie.

Jeremia 35:12-17 – Die veroordeling van Juda omdat hulle nie na die Here geluister het nie

Dié ervaring met die Rekabiete word die aanleiding vir die Here om ’n boodskap van oordeel oor Juda uit te spreek om hulle wys dat hulle doodgewoon net nie kan leer om na die woord van die Here te luister nie. Die Rekabiete luister na hulle voorvader oor ’n verbod op wyn. Die Jode luister egter nie na die woord van God nie, al het Hy vroeg en laat met hulle gepraat om hulle van hulle verkeerde dade te bekeer.

Daarom bring die Here al die rampe waaroor Hy oor tyd heen met hulle gepraat het, nou oor hulle: “Ek het hulle geroep, maar hulle het nie geantwoord nie.”

Jeremia 35:18-19 – Die belofte van die Here aan die Rekabiete vir hulle lojaliteit

Die Here gee ’n interessante belofte aan die Rekabiete. Hy beloon hulle lojaliteit aan hulle eie tradisie met ’n belofte dat altyd iemand uit hulle nageslag sal wees wat die Here dien! Dit is asof die Here sê, “Ek soek sulke mense as deel van my volk!” Iets om oor na te dink.

Boodskap en betekenis

Jeremia 35 prys lojaliteit as ’n onontbeerlike eienskap in die verhouding tussen mense sowel as in ons verhouding met God. Om die waarheid te sê, waar mense lojaal aan mekaar bly, bring dit soveel vreugde vir die Here, dat Hy sulke mense insluit as deel van sy volk. Dit beteken nie dat die lewenstyl van die Rekabiete nagevolg hoef te word nie. Maar, verseker die voorbeeld van hulle lojaliteit. Daar is min dinge wat God se hart só bly maak, as dat ons getrou is aan mekaar, want dít beteken normaalweg dat ons dan ook getrou aan Hom sal bly.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…