Skip to main content

2 Kronieke 17

Josafat se hart was opgewonde oor die weë van die Here

Die volgende vier hoofstukke in 2 Kronieke – hoofstuk 17-20 – handel oor die verhaal van Josafat, koning van Juda, die seun van Asa, wat veral “sy voorvader Dawid se vroeëre lewe” nagevolg het:

  • In hoofstuk 17 lees ons van sy beginselvaste regering- en godsdienshervormings wat hom ’n formidabele koning gemaak het;
  • In hoofstuk 18 (wat ooreenstem met 1 Konings 22:1-51) lees ons van sy oordeelsfout om toenadering tot Agab van die noordelike ryk te soek en amper in die proses om te kom. Sy poging tot eenheid met Israel boemerang liederlik.
  • In hoofstuk 19 lees ons van sy planne om korrupsie te beveg met regters van integriteit;
  • In hoofstuk 20 lees ons van die groot oorwinning wat hy met God se hulp behaal.

Die skade van die verbintenis met Agab het verdere konsekwensies met Josafat se mislukte alliansie met Agab se seun, Ahasia (hfst. 20) en die effek op Josafat se seun, Joram, wat met ’n dogter van Agab trou en onder haar invloed, volgens die Kronis, ’n slegte koning was soos sy skoonpa Agab.

Dit het die Here genoop om die profeet Elia te beveel om Joram streng te berispe in ’n brief, waarna hy dood is aan ’n ongeneeslike siekte in sy ingewande (hfst. 21). Joram se seun, ook Ahasia, volg hom op (hfst. 22)

Teks en konteks

Josafat was ’n goeie koning wat ’n groot impak op sy mense gehad het.

Hy het die land op militêre gebied versterk – hy het vestingstede, wagposte, forte en voorraadstede gebou, oral soldate geplaas (garnisoene) en die beste soldate saamgetrek by hom in Jerusalem, een van hulle, Amasja, waarvan genoem word dat hy ’n vrywillige eed van trou aan die Here gesweer het.

Hy het die onderrig van die volk in die wetboek van die Here ernstig geneem en ’n groot groep amptenare (kategete), Leviete en priesters aangestel om dit regdeur die land te behartig. Hulle het die boekrol met die Wet van die Here oral met hulle saamgeneem na al die dorpe van Juda en die mense geleer.

Dit laat ’n mens dink aan Jesus se eie bediening waarin hy die 70 dissipels uitgestuur het om die koninkryk van God aan hulle te verkondig (Luk. 10). En die Groot Opdrag van Matt. 28:19 brei dié opdrag uit na al die nasies van die wêreld: “Leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”

Josafat het sy eer daarin gestel om persoonlik te leef soos die Here dit wil en vanuit dié beginselvastheid godsdienstige hervormings van stapel te stuur. Hy het nie die Baäls geraadpleeg nie, maar die God van sy vader. Sy gebooie het hy nagevolg, en nie die gebruike van Israel nie, die noordryk waar Agab regeer het.

Hoe pragtig sê vers 6 dit nie: “Sy hart was opgewonde oor die weë van die Here!”

Geen wonder dat hy groot aansien geniet het en baie ryk geword het nie en dat die Kronis hom vergelyk met sy voorvader Dawid se vroeëre lewe.

Hy het ook internasionale erkenning geniet – die Filistyne (Dawid het hulle mag gebreek, maar hulle het blykbaar nog in ‘n mindere mate gefunksioneer) en Arabiere vereer hom met geskenke en lewende hawe.

Boodskap en betekenis

Josafat beantwoord dus aan die ideaal wat Deuteronomium stel aan ’n koning:

18“Wanneer hy as koning oor sy ryk regeer, moet hy vir hom ’n afskrif van hierdie wet maak. Hiervoor moet hy die eksemplaar van die Levitiese priesters gebruik. 19Hy moet die afskrif by hom hou en sy lewe lank moet hy dit gereeld lees sodat hy kan leer om die Here sy God te dien deur gehoorsaam te wees aan alles in hierdie wet en om volgens al hierdie voorskrifte te lewe. 20Dan sal hy hom nie bo sy volksgenote verhef en ’n haarbreedte afwyk van hierdie gebod nie. As hy gehoorsaam is, sal hy lank lewe in sy koninkryk, hy en sy seuns tussen sy volk Israel.” (Deut. 17:18-20).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar