Skip to main content

Genesis 41

Josef se lot word dramaties verander van vergete na vrugbaar

Teks en konteks

Josef – die sewentienjarige tiener wat dertien jaar lank in die tronk vergeet is – se lot word dramaties in sy dertigste jaar verander (1885 vC). Hy word gevra om farao se drome te interpreteer en bestyg met die positiewe uitleg daarvan die hoogste posisie wat enigiemand in Egipte kon beklee, uitgesonderd die koning.

Josef se status word van ‘n vergete slaaf in die tronk verander na ‘n vrugbare leier wat nie net die volk van Egipte help om die voorspoed van hulle oes ekonomies voortreflik te bestuur nie, maar vir die hele wêreld in hongersnood ‘n uitkoms te bied. Sy twee kinders kry name wat dié twee aspekte van sy lewe simboliseer: vergete (Manasse) en vrugbaar (Efraim). “The vale of tears has proved to be the valley of soul making.” (Wenham)

Farao het twee drome. In die eerste droom word sewe mooi vet koeie deur sewe lelike en maer koeie opgevreet. In die tweede droom word sewe mooi vol are deur sewe skraal are ingesluk.

Geeneen van farao se waarsêers en raadgewers kon dit vir hom uitlê nie, totdat die hoof van die skinkers Josef se droomuitleg in die tronk onthou het. Die farao het Josef laat roep. Josef is geskeer en ander klere aangetrek om hom respektabelik te maak vir die Egiptiese koning.

Interessant genoeg kry ‘n mens dit op ‘n paar plekke in die Bybel dat die skeer van hare ‘n simboliese betekenis gehad het. Ons lees op een plek dat net die helfte van die baard van ‘n paar manskappe afgeskeer is as ‘n minagtende gebaar teenoor Dawid, iets wat die Ammoniete suur bekom het (vgl. 2 Sam. 10:4). Ons lees ook van die skeer van alle liggaamshare as iemand van ‘n velsiekte gereinig is (Lev. 14:9).

Simson se skeerdery van sy sewe haarlokke het hom egter suur bekom (Rigt. 16:19), hoewel die skrywer die uiteindelike oorwinning van Simson aankondig met die onheilspellende opmerking: “Daar het sy hare wat afgeskeer was, weer begin groei.” (Rigt. 16:22).

Meer in lyn met Josef se ervarig, lees ons egter ook dat die baard sowel as die kophare afgeskeer is ná die tydperk van ‘n besondere nasireërgelofte van toewyding aan die Here voltooi is (Num. 6:9). Dit is presies wat Paulus op ‘n keer doen in Jerusalem om sy getrouheid aan die wet te bewys, deur saam met vier mans wat ‘n gelofte afgelê het, te betaal dat hulle almal hulle hare (baard en kop) kan laat afsny (Hand. 21:22-26).

Dit laat ‘n mens onmiddellik dink dat wat die Egiptenare hier doen aan die een kant inpas by hulle eie gebruike. Die meeste van die lande van die Ou Nabye Ooste het nie hulle baarde en hare geskeer nie, die Egiptenare wel. Die Egiptiese priesters het selfs hulle kop geskeer. Dit verklaar waarskynlik ook hoekom Josef se broers hom nie herken het toe hulle uiteindelik in sy teenwoordigheid toegelaat is nie. Hy het nie meer gelyk soos hulle hom onthou het nie.

Aan die ander kant laat dit ‘n mens die gedagte kry dat die tydperk in die tronk vir Josef soos ‘n tyd van toewyding aan die Here was. Hy is nou getoets deur dié tyd van ontbering en toewyding en geskik bevind vir die taak wat die Here vir hom verder gehad het.

Let op hoe Josef ontken dat hy drome kan uitlê, slegs dat die Here vir farao ‘n goeie antwoord sal kan gee. Ná hy na die drome geluister het, gee hy daarom ook onmiddellik vir farao die uitleg dat die twee drome eintlik maar net een boodskap dra: “Wat God wil doen, het Hy aan u meegedeel.

God het farao laat sien het wat Hy wil doen. Daar sal in die hele Egipte sewe jaar groot oorvloed wees waarna sewe jaar van hongersnood sal aanbreek. Dit sal die hele land op sy knieë bring weens die strawwe droogte en hongersnood.

Die feit dat die droom twee keer na farao toe gekom het, beteken maar net dat die saak vas staan by God. “Hy sal dit binnekort uitvoer.

Dan gaan Josef aan om in lyn met sy verstommende organisatoriese en bestuursvermoë die farao raad te gee om die jare van oorvloed behoorlik te organiseer. Op ekonomiese voortreflike manier beveel hy aan dat daar met mening gespaar word deur die oorvloed van koring op te gaar vir die maer jare wat sal kom.

Almal – die farao en al sy amptenare – het Josef se raad goedgevind. Trouens, farao sê-vra: “Waar kry ons so iemand, ’n man met die verstand van ’n god?” Inderdaad. Josef is deur God gestuur!

Farao stel hom daarom oor sy paleis en die hele Egipte aan en betoon aan hom groot eer met klere en ‘n entourage wat hom op die tweede beste wa van die farao laat ry het.

Farao besluit ook om Josef ‘n Egiptiese naam te gee – Safenat-Paneag, dit beteken moontlik “verborge ontdekker”, soos Josephus dit vertaal het – en laat hom trou met Asenat, dogter van Poti-Fera priester van On, dit is die stad Heliopolis (16 km noord-oos van Kaïro) van die songod Ra.

Josef het nie gras onder sy voete laat groei nie en onmiddellik die opdrag van farao in werking gestel. In dié tyd, die tyd van oorvloed voor die hongersnood begin het, is daar vir Josef ook twee seuns gebore. Hy was dus nie net vrugbaar in sy bediening nie, maar ook in sy huis en familie. Josef het die oudste Manasse genoem, “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.” Hy het sy ander seun Efraim genoem, “want,” het hy gesê, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.

‘n Gepaste opsomming van sy lewe tot dusver.

Die voorspoed het ook ná sewe jaar in ‘n grootskaalse wêreldwye hongersnood oorgegaan wat nie net die hele wêreld van Egipte se voorsiening afhanklik gemaak het nie, maar binnekort vir Josef en sy broers weer in kontak met mekaar sou bring. Die tafel is gedek vir ‘n baie interessante verdere werk van God in die lewe van sy volk.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…