Skip to main content

Daniël 8

’n Nader beskrywing van die koninkryk van die Mediërs-Perse en veral die Grieke

Daniël kry die tweede groot visioen in Belsasar se derde regeringsjaar, naamlik 553 vC. Hy is waarskynlik wakker terwyl hy dit sien en nie in ’n droom staat nie, hoewel hy vir ’n kort tydjie wel bewusteloos was weens die impak van die openbaring. Die boek word hiervandaan verder in Hebreeus geskryf, waarskynlik omdat die inhoud meer van toepassing was op die Joodse geloofsgemeenskap.

Teks en konteks

Weereens is die vertelling in twee dele, die beskrywing van die visioen (Dan 8:2-14) en die verklaring daarvan (Dan 8:15-26) met ’n inleidende en afsluitende vers (Dan 8:1,27).

Die visioen van die skaap- en bokram

In die visioen bevind Daniël homself by die Ulairivier by die vestingstad Susan, in die provinsie Elam. Dit is dieselfde stad waar Ester se verhaal met Xerxes (Ahasveros) gaan afspeel (eerste helfte van die 5de eeu vC) en Nehemia nog later die berig oor Jerusalem sal kry en die proses om die mure te herbou begin met die goedkeuring van Artaxerxes (Artasasta, Xerxes se seun – 444 vC in sy 20ste regeringsjaar).

In sy visioen sien Daniël die volgende:

  • ’n Skaapram wat by die rivier gestaan het en met sy twee horings amok gemaak het in alle rigtings net soos hy wil. ’n Beskrywing wat op die ryk van die Mediërs-Perse van toepassing gemaak kan word.
  • ’n Bokram wat vinnig uit die weste gekom het (’n baie raak beskrywing van Alexander die Grote se uitbreiding van die Griekse koninkryk en die oorwinning van die Mediërs-Persiese ryk in 334-331 vC), die skaapram vermorsel en baie magtig word, totdat sy mag (horings) in vier verdeel is (die generaals Kassander, Lysimachus, Seleukus, en Ptolemeus), waarvan die Seleukiede mettertyd buitengewoon magtig geword het, onder andere in die tyd van die regering van Antiochus IV Epiphanes in die 2de eeu vC, die klein horing wat groot word. Hy het die “pragtige land” in gedrang gebring met die “hemelse leërmag” (dit kan ook op die priesters dui) wat deur hom uitgedaag is deur die tempel te ontheilig en die daaglikse offers aan God af te skaf. Dit het inderdaad in die tyd van die Makkabeërs gebeur dat Antiochus in 168 vC die offers afgeskaf het in Jerusalem (1 Makk. 1:45 – julle kan dit hier lees – vgl. veral hfst. 7 en 9 vir die tydperk).
  • ’n Hemelwese wat die tydsduur van dié dinge uitspel as 2 300 oggende en aande (wat dui op die offers twee keer ‘n dag – Eks 29:38-39), dit is 1 150 dae, dws ongeveer 3 jaar, wat ooreenkom met die tyd wat die offerdiens afgeskaf is tot 25 Desember 165 vC toe die offers weer hervat is. Die getal is ook ‘n simbool daarvan dat dit ‘n beperkte tyd sou wee, en dat daar dus ‘n einde aan die vervolging en verwoesting sou kom. Die Makkabeërs het in 165 vC die juk van die Grieke afgewerp en hulleself vir meer as ‘n eeu lank regeer tot die Romeinse tyd begin het.

Let op dat dié visioen net die Mediërs-Perse en Grieke betrek uit die vorige visioene. Die res sal wel weer later aan die orde kom.

Die verklaring van die ramme as die Mediërs-Perse en die Grieke

Daniël soek dan ’n verklaring vir die visioen en Gabriël (man-van-God) kry die opdrag om die gesig vir Daniël te verklaar. Ons leer net twee engele se name ken in die OT, Gabriël en Migael s’n (Dan 10:13). Interessant genoeg is dit ’n mensestem wat uit die Ulai rivier die opdrag gee, maar wat met goddelike gesag optree.

Gabriël se naderkom is egter net te veel vir Daniël se gestel en hy val bewusteloos neer tot dié hom oprig om die verklaring te gee:

  • Die skaapram met die horings staan vir die koninkryk van Medië en Persië, soos ons nou al afgelei het.
  • Die bokram staan vir die koninkryk van Griekeland, soos ons ook alreeds weet. Die buitengewoon magtige koning word hier as hardvogtig en slinks beskryf wat selfs die hoogste Regeerder sal uitdaag, maar uiteindelik vernietig sal word. Hy staan dus ook as ‘n simbool van die Antichris. Ons sal in Daniël 11 verder hieroor lees.

Die fisiese en emosionele prys vir dié openbaring was baie groot en Daniël het vir lank siek gelê.

Boodskap en betekenis

Sommige dele van hierdie visioen kan ‘n mens met historiese gebeure in verband bring, soos die verwysing na die koninkryke van die Mediërs-Perse en die Grieke. Asook die gebeure in die 2de eeu met Antiochus IV Epiphanes en die ontheiliging van die tempel in 168-165 vC. Die Jode vier tot vandag toe nog hierdie gebeure met die fees van die tempelwyding (Hannukah), ‘n fees waarvan ons ook in die NT lees (Joh 10:22-23).

Maar, sommige dele daarvan sal eers in die eindtyd bewaarheid word, soos Gabriël dit self ook vir Daniël uitlê: “Jy moet verstaan, mens, dié visioen slaan op die eindtyd.” (Dan 8:17) Openbaring trek daardie gordyn wyer oop met die boodskap dat die Antichris uiteindelik vernietig sal word deur God se finale oordeel (Openb 19).

Hierdie gesigte van Daniël onderstreep God se soewereiniteit, sy vermoë om die boosheid van die koninkryke wat teen Hom opgestel word, nie net te oordeel nie, maar tot ‘n einde te bring, en uiteindelik sy mense volledig van hulle invloed te verlos.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…