Skip to main content

Jesaja 8:23-10:4

Lig aan die einde van die tonnel!

Ons lees vanaf Jesaja 8:23 omdat dit ‘n eenheid met die eerste deel van hoofstuk 9 vorm.

Die uitkoms wat die Here gaan bring in Jesaja 8:23-9:6 word skerp gekontrasteer met die oordeel wat in die res van die hoofstuk aangekondig word: Jesaja 9:7-10:4. Laasgenoemde vorm op sy beurt deel van ‘n oordeelsboodskap teen Assirië (Jes 10:5-19, 28-34) waarbinne weer uitkoms vir ‘n oorblyfsel van die volk aangekondig word (Jes 10:20-27).

Teks en konteks

Jesaja 8:23-9:6

Jesaja gee hier ‘n prentjie van uitkoms in die toekoms. Dit sal groot verligting bring vir die duisternis waarin gebiede van Sebulon en Naftali, die pad na die see van Galilea, die Jordaanstreek en die gebied van die heidene net te vore gedompel is (lees in Markus 5:1-20 meer van Jesus se bediening aan die Grieke van Dekapolis wat heel moontlik die gebied van die heidene is wat hier bedoel word).

Hierdie noordelike gebied van Israel het meesal eerste die aanslag – donkerte – van vreemde leërs moes trotseer. Onder andere is ‘n deel van hul bevolking deur Tiglat-Pileser III weggevoer in 732 vC soos ons al gelees het (2 Kon 15:29).

Hierdie twee seuns en later hulle stamme het uitdagings gehad. Dit was nie maklik in die huis van Jakob nie. Hulle was sesde en tiende op die lys, Naftali ‘n seun van die slavin Silpa, en Sebulon die tiende en laaste kind van Lea, die een wat sy juis sy naam gegee het omdat sy gedink, nou sal Jakob van my hou. Nou sal hy by my bly… maar tevergeefs.

Jakob het nie veel van ‘n seën op sy sterfbed aan hulle toegesê nie. Hy het darem erken dat Naftali ‘n mooi en vlugvoetige man was en dat sy mense ook só sal wees (Gen 49:21): “Naftali is ’n takbok wat vry rondloop, hy het ’n mooi nageslag.” Oor Sebulon het hy eintlik voorspel dat hy in die vergetelheid sal wegraak.

Moses was wel in sy beoordeling van die stam wat uit Naftali gegroei het in Egipte meer positief. Hy verwoord die seën van die Here oor hulle (Deut 33:23): “Naftali geniet baie guns, hy word ryklik geseën deur die Here en besit die see en die suide.” Dieselfde oor Sebulon: “Jy moet bly wees, Sebulon, as jy op pad gaan.” (Deut 33:18). Hy wou hê dat Sebulon met oorgawe moes leef.

Maar dit het gelyk of dié seën tot niks gaan kom nie, want toe die twee stamme in die beloofde land inkom, het hulle nie ‘n groot bydrae met die Intog gelewer nie en gevaar geloop om eerder deel van die Kanaäniete te word (Rigt 1:30,32).

Daar was soms opflikkerings, soos dié keer dat hulle darem onder die leierskap van Debora hulle deel gedoen het in die oorlog en vir hulle doodsveragtende optrede geloof is (Rigt 4:10; 5:18). Hulle het ook albei hulle deel gedoen met die feesvieringe toe Dawid later koning geword het, en het volop meel en vyekoeke, rosyntjiekoeke, wyn en olie, grootvee en kleinvee gebring vir sy inhuldiging (1 Kron 12:40).

Maar hier word hulle begroet met ’n volgroeide belofte van die verandering wat die beloofde Messias vir hulle en ander sal bring.

Met verwysing na die verlossing wat God deur Gideon vir die volk gegee het in sy oorlog teen Midian (Rigt 6), word voorspel dat die volk weer versamel sal word en hulle in God se teenwoordigheid sal verbly.

Dié uitkoms word dan spesifiek verbind aan ‘n Seun wat vir hulle gebore sal word, waarvan die titels sy uitstaande kenmerke uitspel wat Goddelik van aard sal wees: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, en Vredevors. Hy sal die Dawidsryk herstel, maar anders as Dawid wat bekend was vir sy militêre optrede, sal Hy vrede en voorspoed bring, en dit vir altyd.

Jesus se vestiging in die dorp Kapernaum, juis in dié gebied, was vir die evangelieskrywers ‘n duidelike vervulling van die eerste deel van die profesie oor Sebulon en Naftali – Matteus 4:12–17. Jesus is dus die lig waarna Jesaja in die profesie uitgesien het. En die koninkryk wat Jesus kom stig het, is die vervulling van die tweede deel van die profesie oor die Dawidsryk.

Jesaja 9:7-10:4

In skerp kontras met die vorige hoopvolle gedeelte, word die oordeelsboodskap oor die Noordryk – Jakob, Israel genoem – egter onomwonde beklemtoon. Die hoop op uitkoms sal eers in vervulling gaan ná die voltrekking van die oordeel.

Let op hoe die hele volk aangespreek word oor hulle selfversekerdheid. Hulle wys die hand van God weg wat hulle kan red en vra nie na sy wil nie, wat sy straf op totale vernietiging laat uitloop: Hy sal kop en stert, palmtak en biesie, afsny (Jes 9:13).

‘n Donker prentjie word van die politieke leiers (Jes 9:14), die geestelike leiers (Jes 9:15) sowel as die korrupte leierskap in die regstelsel (Jes 10:1-4) geteken. En die bevolking se omgee-loosheid maak dat hulle letterlik hulle eie krag verteer (Jes 9:19) – mensig! Dit is wat gebeur as die bron van lewe verlaat word en jy net sit met die donkerte van jou eie goddeloosheid. Dit brand soos ‘n vuur wat alles in ‘n rookwolk laat verdwyn.

Nog donkerder is egter die reaksie van die Here wat sulke dinge nie ongestraf laat bly nie. Hoe afgryslik om te moet leef met die uitgestrekte hand van die Here teen jou … ‘n God wat nie meer vreugde vind in ‘n volk se jongmense nie (Jes 9:16).

Boodskap en betekenis

Agt eeue later breek die lig waarvan Jesaja praat aan met Jesus se vestiging in die dorp Kapernaum, juis in dié gebied, die gebied van Sebulon en Naftali. Dié feit was vir die evangelieskrywers ‘n duidelike vervulling van die eerste deel van Jesaja se profesie oor Sebulon en Naftali, soos ons in Matteus 4:12–17 lees. Jesus is dus die lig waarna Jesaja in die profesie uitgesien het.

En die koninkryk wat Jesus kom stig het, is die vervulling van die tweede deel van die profesie oor die Dawidsryk wat uiteindelik vir die nasies die lig van God se vrede gebring het.

Dit is hoe die Here werk. Die Messias bring lig in die donkerte, die donkerte wat ons in ons omdra, die donkerte wat ander aan ons doen. En dit is bedoel vir die gewone mense, vir elkeen van ons.

Jesus is die Lig aan die einde van die tonnel, vir Sebulon en Naftali, die Jode, vir alle nasies, vir ons. Daar is niemand soos Hy nie. Daar is niemand wat só ‘n groot omkeer vir kinders wat sesde en tiende in die ry is, kan bring dat hulle nie deur die orde van hulle geboorte gedefinieer word nie, maar deur die verlossing wat Christus vir hulle bring.

En dit is die boodskap ook vir jou. Jesus is daar vir gewone mense. Hy bring lig vir gewone mense. Hy is die lig aan die einde van die tonnel. Hy verdryf die duisternis in ons lewens en maak dat ons skynende ligte in hierdie wêreld word.

Verbly jou dus in die lig wat Hy vandag in jou lewe inskyn. Ontvang dit. Vind jou vreugde in Jesus. En dien Hom met jou hele lewe.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…