Skip to main content

Johannes 5

Lewe kom deur vertroue en gehoorsaamheid

Jesus wys met die genesing van die man by Betsata hoe genesing op sy eie nie noodwendig tot die regte verhouding met God lei nie. Hy illustreer dit deur te verklaar dat Hy nooit onafhanklik van sy Vader sal optree nie, want dit is juis daardie verhouding wat Hom die krag gee vir die werk wat God Hom opgelê het.

Teks en konteks

Jesus se derde wonderteken in Jerusalem: Hy genees ’n man by Betsata (Johannes 5:1-18)

Jesus genees ‘n man wat al 38 jaar by die poel van Betsata wag op genesing. Die man hoop dat hy gesond sal word as hy eerste in die water kom wanneer dit beweeg, maar hy het niemand om hom te help nie. Jesus vra hom of hy gesond wil word, maar in plaas van om direk hulp van Jesus te vra, verduidelik die man sy situasie. Jesus genees hom egter direk: “Staan op, tel jou slaapmat op, en loop.” Die man gehoorsaam, maar bedank nie Jesus nie en loop weg.

Hierdie wonderwerk, wat op ’n Sabbat plaasvind, lok kritiek van die Jode omdat die man sy slaapmat dra, wat volgens hulle Sabbatsreëls verbied is. Toe die Jode vra wie hom opdrag gegee het, kon hy nie sê wie Jesus is nie. Jesus vind hom later in die tempel en waarsku hom om nie meer te sondig nie. Die man rapporteer dan vir die Jode dat dit Jesus is wat hom genees het, wat hul teenstand teen Jesus verskerp.

Boodskap en betekenis

Die man mis die geestelike betekenis van sy genesing. Die verhaal wys dat gesondheid en wonderwerke nie outomaties tot geloof lei nie. Geloof is eerder die gevolg van ’n verhouding met God. Johannes skryf: “Hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo.” Dit beklemtoon dat die doel van Jesus se wonderwerke is om mense na geloof te lei.

Jesus verklaar dat die Seun niks uit Homself kan doen tensy Hy die Vader iets sien doen (Johannes 5:19-30)

Jesus verklaar sy eenheid met die Vader: “Die Seun doen net wat Hy die Vader sien doen.” Hy beskryf twee groot werke wat Hy van die Vader ontvang:

  1. Lewe gee: Jesus maak dooies lewend, soos God die Vader dit in die Ou Testament gedoen het. Hierdie krag demonstreer dat Jesus Goddelike outoriteit het.
  2. Oordeel uitspreek: God die Vader het die reg om te oordeel aan Jesus oorgedra. Wie Jesus eer, eer ook die Vader, en wie Hom verwerp, sal geoordeel word.

Boodskap en betekenis

Jesus se werke – om lewend te maak en te oordeel – bevestig sy Goddelike status as die Seun van God én die Seun van die mens. Die verhouding tussen Jesus en die Vader dien as model vir die verhouding waartoe ons uitgenooi word: gehoorsaamheid aan God se wil en deelname aan sy werk. Uiteindelik is dit ons geloof in Jesus wat ons van die dood na die ewige lewe bring.

Jesus se getuienis is groter as Johannes s’n, omdat Hy die werke van sy Vader doen (Johannes 5:31-47)

Jesus gebruik vier getuies om sy aansprake as die Seun van God te bevestig:

  1. Die Vader: God getuig oor Jesus deur die werke wat Hy aan Jesus toevertrou.
  2. Johannes die Doper: Johannes het getuig dat Jesus die Messias is, maar die Jode het sy getuienis verwerp.
  3. Jesus se werke: Die wonderwerke wat Jesus doen, wys dat Hy deur die Vader gestuur is.
  4. Die Skrifte: Die Ou Testament getuig van Jesus, maar die Jode het nie hierdie getuienis erken nie.

Boodskap en betekenis

Jesus wys dat kennis van die Skrifte nie genoeg is as dit nie lei tot geloof in Hom nie. “As julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het oor My geskryf.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar