Skip to main content

Hosea 8:1-9:9

Die tyd van afrekening het gekom

Soos in Hosea 5:8 word die volgende hoofdeel aangekondig in Hosea 8:1 met die opdrag om die ramshoring, die sjofar, te blaas as waarskuwingsteken. Die boodskap is tweërlei:

  • Hosea 8:1-14 – God se toorn het sy volle maat bereik. Dit gaan nou losbreek teen Samaria.
  • Hosea 9:1-9 – Die dae van afrekening het vir Efraim en Samaria gekom. Efraim gaan in ballingskap weggevoer word na Assirië.

Teks en konteks

Hosea 8:1-14 – God se toorn het sy volle maat bereik

Die ramshoring kondig die dreigende teenwoordigheid van ‘n roofvoël aan, ‘n arend, Assirië. Die rede vir dié toedrag van sake is Israel se verbondsverbreking en verset teen die wil (wet) van die Here. Hulle halfhartige hulpgeroep kon nie hulle verwerping van God wegsteek nie. Daarom laat die Here hulle oor aan hulle verkeerde keuse, hulle keuse téén die goeie en vír die kwade.

God se toorn teen Efraim het sy volle maat bereik. Die Here lys vyf redes vir dié situasie:

  • LEIERSKAP: Hulle het die Here nie geken in die aanstelling van konings en leiers Dié leiers het gevolglik ook nie die Here geken en gedien nie – Hosea 8:4a.
  • AFGODSDIENS: Hulle het afgodsbeelde van silwer en goud gemaak en dié aanbid: “Samaria, jou goue kalf is aanstootlik.” ‘n Duidelike verwysing na Jereobeam se verkeerde optrede deur twee heiligdomme by Bet-El in die suide en Dan in die noorde op te rig, met van alles, twee goue kalwers om te aanbid as die “gode” wat hulle uit Egipte uitgelei het. Dit herroep natuurlik ook die goue kalf van Aäron in die woestyn (Eks 32) – Hosea 8:4b-6.
  • POLITIEK: Hulle het alliansies met die wêreldleiers gesoek, en daarmee het hulle reeds hulle onafhanklikheid in die sorg van die Here ingeboet. Hulle weet dit nog nie in feite nie, maar: “Israel is klaar ingesluk.” – Hosea 8:8-10.
  • SELFBEVREDIGENDE GODSDIENS: Hulle het meer en meer altare gebou, maar in plaas daarvan om die Here daar te dien, het hulle eintlik offers gebring om hulle self te bevredig: “hulle bring offers sodat hulle dit self kan eet!” – v8:11-13.
  • SELFVERRYKENDE GODSDIENS: Hulle het gefokus op hulle eie voorspoed en gefokus op paleise en vestingstede as sekuriteit, in plaas daarvan om die Here te soek en van Hom afhanklik te lewe. Ons hoor hier alreeds die begin van Jesus se beklemtoning van die Bergrede weerklink: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matt 6:33).

In kort: ISRAEL HET SY MAKER VERGEET (Hos 8:14). Dit is nie vir die Here aanneemlik nie. Geen wonder dat die Here sê: “As mense wind saai, sal hulle ‘n storm oes.” Dié storm is die toorn van die Here wat Hom op hulle gaan wreek. Sy toorn het sy volle maat bereik.

Hoe verskriklik dat die Here se oordeel oor hulle is: “Al skryf Ek vir hom my wet tienduisend maal neer, dit word as iets vreemds gereken.” (Hos 8:12 – BDV). Hulle Godsbewussyn is onherstelbaar verbrokkel.

Hosea 9:1-9 – Die dae van afrekening het vir Efraim en Samaria gekom

Daarom raai die Here hulle aan om hulle feeste – feeste wat in elk geval onregmatig deur Jerobeam in Samaria ingestel is as ‘n teenvoeter vir die feeste wat die Here vir Jerusalem beveel het – te staak. Hulle moenie langer vrolik wees nie, want die skrif is vir hulle aan die muur.

Let op hoe die Here aankondig dat die normale vermoë van die land om hulle te onderhou, ingekort sal word. Die graan- en die wynoes sal hulle niks meer baat nie, want hulle sal weggevoer word. Ook hulle vermoë om só iets vir die Here te gee, om die oesfees in sy teenwoordigheid te vier, word ingeperk. “Hulle sal nie in die land van die Here bly nie.

Let ook op dat die Here sy eienaarskap van die land bevestig, soos Hy dit regdeur hulle geskiedenis gedoen het (Lev 25). Die pelgrims sal nie meer die tog na die tempel aanpak nie, want hulle sal in ‘n vreemde land bly en daar te sterwe kom.

Die dae van afrekening het aangebreek; die dae van vergelding het gekom – Israel sal dit ervaar.” (9:7 – BDV).

In ‘n klaarblyklike verwysing na ‘n verwyt wat sommige die profeet Hosea toegesnou het dat hy dwaas en waansinnig is om dié dinge te verkondig, herbevestig Hosea die logika en verantwoordbaarheid van sy oordeelsprofesie. Die oordeel kom weens hulle sonde en vyandigheid teen die Here. Die korrupsie in die land is soos in die Rigterstyd met die tragiese gebeure by Gibea toe geweld ook in die land losgebars het weens die Leviet se byvrou wat daar op grusame wyse verkrag en vermoor is. Sy, sê Rigters, het die oggend dood gelê: “in die deur met haar hande op die drumpel,” toe die Leviet, wat haar gruwelik versaak het, weer wou vertrek (Rigt 19-21).

‘n Mens het nie woorde vir sulke ongenadige gewelddadige optredes nie. Dié gebeure het amper tot die uitwissing van Benjamin gelei … gaan lees die hele afgryslike verhaal om die volle omvang van God se afgryse nou oor Israel se toestand goed te kan begryp.

Só is die land en sy mense nou vir die Here, verkragters en moordenaars, as ‘n mens die volle gewig van die vergelyking met Gibea in gedagte hou. God gaan daarom rekenskap van hulle eis oor hulle sondes. Die dae van afrekening het gekom vir Efraim en Samaria, net soos dit eenmaal vir Gibea gekom het.

Boodskap en betekenis

Sonde het altyd gevolge. Tragiese gevolge. Onmenslike gevolge. Gibea was ‘n werklikheid en word dit ook altyd weer waar waar die Here nie erken en gedien word nie. En dit gebeur nie soseer as gevolg van ‘n keuse vir geweld nie. Dit begin daar waar jou godsdiens eintlik net jou eie selfbevrediging en selfverryking dien. Want dan is jy met jouself besig en nie met God nie. Jou voet is dan op ‘n pad wat in skande en skade sal eindig.

Jesus se woorde in die Bergrede – om God se koninkryk en sy geregtigheid in die eerste plek te soek – is daarom ‘n wekroep aan ons om ons prioriteite reg te kry, en God bo alles te dien. Hy hou, soos ‘n Hosea, oor ons die wag. Waar Hy eerste gestel word, daar is nie net vrede en versoening te vinde nie, maar ook voorspoed en veiligheid.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…