Skip to main content

Spreuke 13:1-25

Welvaart is verbind aan die waardering van wyse woorde

Spreuke 13:1

Welvaart is verbind aan die waardering van wyse woorde. Dit is die oorhoofse tema van Spreuke 13. Vers 1 kontrasteer die wyse met die ligsinnige. Die wyse neem teregwysing in ag. Die ligsinnige luister nie eers daarna nie. Die ligsinnige is egter nie ’n grapjas of selfs iemand wat net oppervlakkig is nie. Die Hebreeuse woord lîṣ dui eintlik ’n “spotter” aan. In Engels word die woord vertaal met “scorner”, “scoffer” of “mocker”.

Dit dui dus op iemand wat met geen respek praat van ander en wat vir hulle belangrik is nie; wat spot met wat vir ander heilig is; wat wysheid op ’n arrogante, siniese manier minag. Jy kan die woord vertaal met respeklose, minagter, arrogante, sinikus ensomeer. Dit sien ’n mens in die feit dat hulle geen waardering vir wyse woorde het nie, ook nie dié van teregwysing nie.

Spreuke 13:2-3

Derick Kidner gee in sy kommentaar aan hierdie verse die betekenisvolle opskrif: “Words fruitful or fatal”. Woorde het gevolge. Dit kan goed wees of gewelddadig. Daarom is dit die beste om ’n wag voor jou mond te sit. Baie praat gee jou vyande skietgoed om jou by te kom.

Spreuke 13:4

Spreuke kontrasteer weereens lui mense met hardwerkendes. Luiaards lei honger. Hardwerkendes het oorvloed.

Spreuke 13:5-6

Spreuke kontrasteer die regverdige en die goddelose. Die regverdige haat leuens, terwyl die goddelose homself gehaat maak deur sy skandelike en veragtelike optrede. Trouens, die oorspronklike sê die goddelose se gedrag stink skandelik. Die stank kleef aan alles en almal. Die verskil lê in die gehoorsaamheid aan God se standaard al dan nie. Die regverdige se integriteit word deur geregtigheid beskerm. Die goddelose gaan ten gronde weens sy sonde.

Spreuke 13:7-8

Spreuke kontrasteer rykdom en armoede. Spreuke waarsku ons om nie sondermeer subjektiewe aansprake as objektiewe waarheid te aanvaar nie. Armes kan hulle as ryk voordoen, en rykes as arm. Spreuke leer ons ook dat armoede sy voordele het. Dreigemente kan ’n ryk man tot ’n losprys dwing. ’n Arme hoor nie eers sulke dreigemente nie.

Spreuke 13:9-10

Spreuke kontrasteer in vers 9 weereens die regverdiges met die goddeloses. In die oorspronklike staan daar letterlik: “die lig van regverdiges brand helder”. ‘n Mens kan ook vertaal: “straal vreugde uit”. Daarteenoor: “die lamp van goddeloses word uitgedoof”.

Regverdiges (ṣaddîqim) is Bybels gesproke mense wie se gedrag aan die eise van die wet beantwoord (vgl Ps 1:2). Goddeloses (rĕšāʿîm) is mense wat die wet oortree (vgl Ps 1:1).

In die NT het Jesus die eise van die wet namens ons nagekom sodat elkeen wat in Hom glo regverdig verklaar kan word (vgl Rom 1:17). God se toorn bly egter oor die wat in goddeloosheid en ongeregtigheid volhard (vgl Rom 1:18).

Dieselfde kontras kom voor in vers 10 tussen mense wat hulle self verhef (arrogante vermetelde mense wat minagting vir die menings van ander het) en mense wat luister na raad. Selfverheffing lei tot rusies. Leerbaarheid lei tot wysheid.

Spreuke 13:11

Spreuke lê die beginsel neer: “Easy come, Easy go”. Dinge wat jy sonder moeite gekry het, word maklik verloor. Dinge wat jy stuk vir stuk – “met jou eie hand” – bymekaar gemaak het, bou welvaart. Dobbelaars en beleggers is goeie voorbeelde van beide.

Spreuke 13:12-14

Vers 12 stel eers die algemene waarheid dat ’n onvervulde hoop jou hart siek kan maak, en ’n vervulde wens jou lewensvreugde sal gee. Dit is soos ’n boom van lewe. Die volgende twee verse, vers 13-14, kontrasteer iemand wat hom steur aan die woorde, gebooie en onderrig van die Here, sowel as wyse mense, en iemand wat dit nie doen nie. Vir albei is daar gevolge. Die een wat leerbaar is, sal goeie vrugte dra. Die een wat onleerbaar is, sal dit ontgeld in die strikke van die dood. McKane sê in sy kommentaar op Spreuke, die dood word hier soos ’n jagter geteken wat diegene wat die woord verwerp, in sy valstrik vang, en wegdra na die doderyk.

Spreuke 13:15-16

Vers 15 se eerste deel is maklik om te vertaal: “Goeie insig bring goedgesindheid.” Die tweede deel is nie so maklik nie. Die 1983-vertaling is ’n goeie keuse op grond van die LXX, die Griekse vertaling van die OT: “Die pad van ontroues lei tot vernietiging.” Dit sou ook weergegee kan word as: “Die pad van ontroues hou nie stand nie.” Vers 16 kontrasteer die karakter van ’n verstandige mens met ’n dwaas. Die verstandige se dade spreek van deurleefde kennis en oorleg. Die dwaas begaan een sotheid na die ander. “A fool displays his folly.” (NET).

Spreuke 13:17-19

Spreuke kontrasteer in vers 17 twee tipe boodskappers. ’n Goddelose onbetroubare een met ’n betroubare een. Die onbetroubare een steur hom of haar nie aan die inhoud van die boodskap nie, en kom daarom self in die moeilikheid. Die betroubare een bring egter genesing vir dié wat daarna luister. Vers 18 kontrasteer verskillende houdings oor leerbaarheid. Die een wat teregwysing verwerp, loop die gevaar van armoede en skande. Die een wat teregwysing aanvaar, word geëer. Leerbaarheid is dus die verskil tussen iemand wat gesag afdwing en iemand wat voete van klei het. Vers 19 belig nog ’n kant van begeertes wat alreeds in vers 12 uitgelig is. Vervulde begeertes is soet vir die siel. Die kontras met die dwase impliseer natuurlik “goeie” begeertes. Want, die teendeel is waar vir die dwase. Hulle geniet goddeloosheid en kry dit nie reg om daarvan af te wyk nie.

Spreuke 13:20-23

Spreuke gee vir ons hier vier waarhede waarin telkens ‘n belofte opgesluit lê.

Vers 20 beskryf die invloed van wyse en dwase vriende. As jy tyd spandeer met wyse mense, kry jy self wysheid. As jy tyd spandeer met dwase mense, raak jy self sleg (vgl Ps 1).

Vers 21 verpersoonlik die kwade en die goeie. Die algemene waarheid is dat teenspoed (onheil, swaarkry) die sondaars agtervolg en voorspoed die regverdiges. Veral as ‘n mens die einde van hulle lewens as maatstaf neem (vgl Ps 73). ‘n Mens moet net nie probeer om die waarheid om te keer en uit die swaarkry en voorspoed wat mense beleef, af te lei of hulle sondig leef of regverdig nie. Dit was die probleem van Job se vriende. Hulle het uit Job se swaarkry verkeerdelik afgelei dat hy sondig is, terwyl Job se swaarkry ‘n toets was of hy aan God gehoorsaam sal bly, selfs al kry hy swaar.

Vers 22 borduur voort op die nalatenskap van ‘n goeie mens en ‘n sondaar. ‘n Goeie mens laat ‘n erfenis na vir sy kleinkinders. Maar selfs die besittings van ‘n sondaar kom in die hande van die regverdige.

Vers 23 verkondig die waarheid dat in ‘n land waar reg en geregtigheid heers, sal almal, ook die armes, genoeg kos hê om te eet. Die woord wat vir “grond” gebruik word, dui op ‘n braakland, ‘n land wat nuut omgeploeg is. Die belofte is dat dit sy oes sal lewer as die gemeenskap God dien (vgl Jer 4:3; Hos 10:12 sowel as die gelykenis van die saaier – Matt 13).

Spreuke 13:24-25

Spreuke praat in vers 24 oor dissipline en in vers 25 oor begeertes. Meer letterlik vertaal, lui vers 24: “Wie sy staf terughou, haat sy seun, maar wie hom liefhet, sorg dat hy gedissiplineer word.” Die “staf” (šēbeṭ) verwys na die houtstok wat gebruik is as “wandelstok”, as “herderstaf” vir skape en as “roede” om te dissiplineer. “Sorg” is my vertaling van die woord šōḥēr wat ook in die betekenis van “dophou”, “soek”, of “ondersoek” gebruik kan word. Vers 25 gaan nie soseer oor matigheid nie, maar oor tevredenheid. Die regverdige word versadig. Die goddelose bly honger.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar