Skip to main content

Jesaja 7

Agas word uitgenooi van vrees na vertroue

Die verhaal van Jesaja se ontmoeting met Agas op bevel van die Here word meesterlik vertel. Dit wemel van beskrywende beelde en metafore wat die situasie vertolk en die boodskap van die Here grafies oordra:

  • vers 2 die volk het “gebewe soos die bome in die bos bewe in die wind”;
  • vers 4: “Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net” (die 2 nasies is letterlik in 732 en 722 vC onderskeidelik deur Assirië verwoes);
  • en die metafore wat Assirië as vlieë en ’n skeermes en Egipte as bye beskryf (vers 18-20).

Teks en konteks

Jesaja tref Agas aan waar hy sy watertoevoer na die noorde, vanwaar hulle die aanval verwag het, wil beveilig (vers 3). Jesaja se een seun is saam en is op sy beurt ook al reeds ’n boodskap aan Agas, want sy naam, Sear-Jasub, beteken “’n Oorblyfsel kom terug”. Maar die boodskap beweeg Agas nie van vrees na vertroue nie.

Die Here gee aan Agas die opsie van ‘n teken – anders as met Gideon (Rigt 6), is dit die Here wat die teken aanbied – maar hy weier. Sy vroom verweer – ek wil die Here nie tart nie (Deut 6:16!) – is eintlik gemaskerde ongeloof. Hy vertrou die Here nie, eerder sy eie alliansie planne met Assirië (2 Kon 16:7)

Die jong vrou wat swanger sal word, was waarskynlik iemand wat Agas geken het, wat hom in lewende lywe kon herinner dat die Here sy Woord sal waarmaak, dat Hy inderdaad Immanuel, God-met-ons is (vgl Jes 8:8 waar Juda self Immanuel genoem word, die plek waar God-met-ons is, as hulle dit maar net wou glo! Dit kom ooreen met die Dawidiese belofte soos in 2 Sam 7 beloof).

Die profesie was immers bedoel om in Agas se tyd in vervulling te gaan, soos ons in Jesaja 7:16 lees: “Maar voordat die seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die lande van die twee konings vir wie jy bang is, verwoes lê.”

Sommige geleerdes dink selfs dat die jong vrou op Agas se eie vrou gedui het, wat dan sou beteken dat Hiskia Immanuel sou wees (vgl Jes 36 vv), ‘n aantreklike interpretasie. Die Hebreeuse woord ˓almâ kan immers maagd of jong vrou beteken, wat dus op Agas se vrou, Abi, van toepassing kan wees.

Wat wel seker is, is dat Agas die vrou geken het, anders sou die teken vir hom geen betekenis gehad het nie. En soos Watts sê, wat vir ons duister is, was nie noodwendig vir Agas duister nie!

Die Hebreeuse woord ˓almâ word in Grieks met een van twee woorde vertaal: 1) parthenos – maagd, of 2) neanis – jong vrou, wat volgens sommige geleerdes ook jong getroude vrouens insluit tot en met die geboorte van hulle eerste kind.

In die OT word die woord ˓almâ in die eerste betekenis, maagd, bv gebruik vir die meisies by die put waar die slaaf van Abraham vir Isak ‘n vrou soek (Gen 24:43) en vir Miriam (Eks 2:8); die tweede betekenis, jong vrou, kom heel waarskynlik voor waar van vroue-sangers gepraat word (Ps 46:1; 68:26) en dit nie noodwendig op maagde hoef te dui nie.

Dit is egter onseker wat dit hier in Jesaja beteken, omdat die Griekse vertaling hier parthenos is. Die 1983- en 2020-vertaling het egter vir jong vrou gekies, wat ook maagd kan insluit.

Die boodskap van ‘n jong vrou wat sal swanger word, is natuurlik ook deur die evangelieskrywers van toepassing gemaak op Maria met Jesus se geboorte, wat op ‘n besondere wyse hierdie woord vervul het, en vir alle gelowiges die heersende interpretasie geword het, die Immanuel, God-met-ons.

Die engel se boodskap aan Josef in sy droom met verwysing na Jesaja 7:14 was: “’Die maagd sal swanger word en ’n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem.’ Die naam beteken God by ons.” (Matt. 1:23).

Agas se ongeloof en gebrek aan vertroue laat ontvlam egter die toorn van die Here en versterk Sy voorneme om die oordeel oor die volk te voltrek.

Boodskap en betekenis

Die boodskap in vers 9 tref my: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.” Letterlik staan daar: Julle moenie vrees nie, net vertrou.” Dit bly ‘n uitnodiging ook aan my, veral wanneer ek self bewe vir die uitdagings in my lewe en gemeenskap.

En die Immanuel van Kersfees, Jesus, het natuurlik ook beloof dat Hy deur Sy Gees in my sal woon, wat op ‘n ander manier God-met-my geword het (Joh 14:16-17)!

Verder, oor die maagdelike geboorte: die feit dat Maria ’n maagd was toe sy swanger geword het, word bevestig in Matteus met die woorde: “Hy (Josef) het egter nie met haar omgang gehad voordat sy haar Seun in die wêreld gebring het nie. En Josef het Hom Jesus genoem.” (Matt 1:25; vgl ook Luk 1:26-27).

Die feitelikheid van die maagdelike geboorte staan dus in elk geval vas op grond van hierdie Skrifgetuienis en gerugsteun deur die feit dat die maagdelike geboorte van Jesus nooit deur enigiemand in die NT tyd bestry is nie, trouens ook nooit in die volgende eeue tot met die Aufklärung van die 17de en 18de eeue in Europa en Amerika, geïnisieer deur die werk van onder andere die filosowe Spinoza, Lock en Voltaire.

Terloops: die wonder van die maagdelike geboorte is natuurlik eintlik dat God daarby betrokke is. Daarom praat ek gewoonlik eerder van die Goddelike geboorte van Jesus, want dit is vir my die groter wonder.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.