Skip to main content

2 Samuel 23:1-7

Laaste lied van Dawid

Die laaste woorde van Dawid in 2 Samuel 23:1-7 is weergegee reeds direk na 2 Samuel 22 net soos dit met Moses die geval was (Deut 32-33), hoewel daar nog een verdere verhaal daarna vertel is in 2 Samuel 24 (‘n verhaal wat nie gedateer word nie).

Ek hanteer dit egter eers hier, omdat dit baie waarde het om dit aan die einde van Dawid se lewe te lees, om só insig te kry in dié dinge wat sy gedagtes vasgevang het aan die einde van sy lewe.

Maar, die konteks van 2 Samuel 22 bly belangrik. Waar 2 Samuel 22 veral op die verlede gekonsentreer het, is hierdie laaste woorde van Dawid in 2 Samuel 23 veral gemik op die vestiging van sy koningskap vir altyd, dws die toekoms. Let op hoe koning Dawid hier ook as profeet geteken word. Omdat hy ook priesterlike funksies van tyd tot tyd verrig het, sien ‘n mens iets in hom van die drie-voudige amp van Christus: koning, priester en profeet.

Teks en konteks

Laaste woorde

‘n Mens kan nogal baie agterkom uit mense se laaste woorde. Van wat vir hulle belangrik was, en wat nie. En wat hulle self dink van die lewe.

  • Sir Winston Churchill het blykbaar gesê: “I’m bored with it all.” Na die oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog kon min ander dinge hom waarskynlik tot dieselfde mate opgewonde maak.
  • Frank Sinatra, die man wat bekendheid verwerf het met sy lied “I did it my way,” het blykbaar gesterf met die woorde: “I’m losing it …”
  • Nostradamus het blykbaar geprofeteer: “Tomorrow, at sunrise, I shall no longer be here.” En hy was reg.

Maar onder ons gewone mense is die woorde wat ons kies om te sê voor ons sterf ‘n bietjie meer sentimenteel. Volgens ‘n opname onder 2 198 volwassenes wat in 2015 ‘n geliefde verloor het, behels die mees algemene sterfbedgesprekke die oordra van verhoudings- en loopbaanadvies.
Die opname, wat deur Perfect Choice Funerals uitgevoer is, het bevind dat 83% van mense woorde van wysheid aan hulle geliefdes deurgegee het voordat hulle gesterf het. Toe die respondente gevra is hoekom hulle dink geliefdes het raad gegee, was die gewildste antwoord, wat deur 29% van die respondente gekies is, dat hulle gedink het die vriend of familielid wou hê hulle moet gelukkig wees.
Maar nie almal het met sulke warm herinneringe teruggekyk na sterfbedgesprekke nie. ’n Ongelukkige 6% van die respondente het gesê hulle glo die sterwende familielid wou hulle daardeur “’n les leer”. Ai tog.
Ek wonder wat ​sal jou laaste woorde wees? Woorde wat jou familie wil help? Gelukkig maak? Rigting aandui? Ek hoop nie een van julle sal hulle ‘n les wil leer nie​!​
2 Samuel 23 bevat Dawid se laaste woorde. Sewe verse waarin hy nie soseer terugkyk nie, maar vorentoe. Na dit wat ewigheidswaarde het. Woorde wat ons kan inspireer om te leef vir dit wat regtig waarde het.

Dawid se laaste woorde

Ons het ‘n hele paar “laaste woorde” van geloofshelde in die Bybel.

  • Jakob seën sy twaalf seuns en gee vir hulle ‘n visie op die toekoms. Hy gee selfs ‘n voorspelling van ‘n heerser waaraan al die volke gehoorsaam sal wees aan die einde van die dae, ‘n uitspraak wat ons aan Jesus kan verbind (Gen 49).
  • Moses het dieselfde gedoen vir die stamme van Israel in ‘n loflied op die karakter van God waarop hulle kan staatmaak. Sy ewige arms is onder hulle, sê hy, al waarsku Moses hulle ook dat net gehoorsames die waarde daarvan sal kan geniet (Deut 32-33).

Dawid doen dieselfde, maar gee op merkwaardige wyse nie sy eie visie op die toekoms nie, maar dit wat God self vir hom gesê het.

Let op hoe Dawid sy laaste woorde begin. Hy begin in vers 1-3 praat van homself as die hooggeplaaste, die gesalfde van God, die geliefde van Israel. Daar is min mense wat met hom vergelyk kan word. God hou van hom en die mense ook. Hulle het liedere oor hom gesing. Hy is die gesalfde en die geliefde.

Dan relativeer Dawid sy hoë posisie deur te sê sy laaste woorde kom nie van homself nie. Sy laaste woorde is ‘n uitspraak van God. Dit is die woorde van die Gees. Dit is die woorde van God self wat op sy tong is. Dit is die Rots van Israel wat sê.

Twee paaie

Wat is hierdie woorde van God wat Dawid aan ons deurgee, wat sy “laaste woorde” aan sy volk en aan ons is?

Dawid se “laaste woorde” gee vir ons die bekende prentjie van twee paaie.

Die Here het vir Dawid oortuig dat daar so iets is soos die pad van die regverdige. Dit is die pad van mense wat in die vrees van die Here leef. En God gebruik twee metafore om hulle lewens in vers 4 te beskryf.

  • Regverdiges is soos die môrelig teen sonop op ‘n wolklose oggend. Hulle is mense wat die lig van die Here oral laat skyn.
  • Mense wat vir die Here ontsag het, is soos die reën wat die groen gras laat uitspruit uit die aarde. Hulle laat ander mense floreer.

Dit is die pad wat aangegryp moet word, sê Dawid dan in vers 5 in respons op wat die Here aan hom openbaar.

Ja, is dit nie soos my huis by God is nie?” vra hy vir sy gehoor. En dan gee hy twee beskrywings van die gevolge wat regverdigheid, en ontsag vir die Here vir hom gegee het.

  • God het ‘n ewige verbond met Dawid gevestig en dit alle opsigte georden en beskerm. Sy dinastie sal nie net duur solank as wat hy kinders op die troon het nie. Nee, in die Here Jesus wat uit die nageslag van Dawid sou gebore word, is sy koningskap vir ewig gevestig. Ook vir almal wat soos Dawid regverdig en in ontsag vir die Here leef.
  • God het vir Dawid alles gegee wat sy hart begeer: “al my heil en alle wense” laat uitspruit. Alles wat tot sy voordeel was. Soos Dawid in Psalm 37:5 dit beskryf het: Vir dié wat hulle weg oorlaat aan God en op Hom vertrou, vir dié gee Hy die begeertes van hulle hart.

Maar, die woorde van God laat Dawid onmiddellik besef in vers 6-7 dat hierdie pad in skerp kontras staan met die pad van die goddelose (1983-vertaling). Dit is die pad van die “skurke” soos die 2020-vertaling dit vertaal, die “bose mense” soos dit in die Hebreeus weergegee is, die “wicked” in Engels. Dit is die pad van mense wat nie regverdig lewe nie, dws wat nie doen wat God vra nie, en nie in die vrees van God leef nie, wat geen ontsag het vir sy woorde nie.

Hierdie goddeloses word vergelyk met dorings. Soos dorings is hulle nie net nutteloos nie, maar gevaarlik, want hulle verstik alles wat goed is soos Jesus in die gelykenis van die Saaier dit uitspel. Die dorings wat opgekom en die saad, die woord van God, verstik het in hulle en ander se lewens (Matt 13:7, 22).

Daarom, sê Dawid, net soos die boer sy land van doringbosse moes skoonmaak, en sonder om homself te beseer, ‘n vuur van hulle moet maak, so sal die Here die goddelose oordeel. Hulle sal uitgewis word deur die vuur van die oordeel van God (vgl Jes 33:12; Openb 19:20).

Hebreërs sê in aansluiting by Dawid se laaste woorde sowel as by die gelykenis van die Saaier:

“Want die grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word, het deel aan die seën van God. Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking—die einde daarvan is verbranding.” (Hebr 6:7-8)

Dit is dan die laaste woorde van Dawid. Wat hy vir sy mense en vir ons nagelaat het.

  • Hy moedig ons aan om die pad van die regverdige, die pad van ontsag vir God se Woord te kies. Om in die lig van God se woord te wandel. Om te leef soos God wil. Om in die vrees van die Here te leef, in ontsag vir wie Hy is en wat Hy sê.
  • Sodat jy die pad van die goddelose kan vermy, die pad wat eindig in die vuur van verbranding, die poel van vuur wat God vir die Bose en sy navolgers voorberei het.

Joyce Baldwin sluit haar kommentaar op hierdie “laaste woorde” van Dawid só af. Sy sê:

“In the light of God’s word to him, David saw clearly in his old age how people’s destiny becomes polarized either for or against God.”

Boodskap en betekenis

Dit is iets wat jy self sal kan raaksien in ons wêreld. Die skeiding tussen dié wat hulle lewens deur die Woord van God laat beheer en dié wat dit nie doen nie, raak al hoe groter. Sommige lees die lewe deur die Woord van God en rig hulle lewens in volgens wat God in sy Woord sê. Ander lees die Woord van God deur die bril van die lewe en verander of verwerp wat God in sy Woord vir ons leer.

Hoor daarom die aanmoediging van Dawid in die woorde van die laaste hoofstuk van die Bybel, die “laaste woorde” van Jesus in die Bybel. Die bestemde tyd van die einde van alles is naby, sê Hy:

11Wie onreg pleeg, laat hy nog meer onreg pleeg; wie onrein is, laat hy nog meer onrein word; maar wie regverdig is, laat hy nog meer geregtigheid beoefen; en wie heilig is, laat hy nog meer heilig word. 12Kyk, Ek kom gou! En die beloning is by My, om elkeen volgens sy optrede te beloon.” (Openb 22:11-12)

En ons reageer daarop: “Amen, ja kom, Here Jesus!”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…