Skip to main content

Job 36-37

Elihu 4: God se grootheid nooi ons uit om Hom te dien

Elihu sluit sy gesprek met Job en die drie vriende af met ‘n vierde en omvattende toespraak.  In ‘n meer tegemoetkomende toon begrond hy God se regverdigheid in sy skeppingsmag en voorsienigheid (36:1-15).  Hy moedig Job aan om God se uitnodiging te aanvaar om die gevaar van sy gegriefdheid te vermy, nl. om in sonde te verval, deur op God self en sy grootheid te fokus en God se werk te bly roem (36:16-25).  Hy vervolg deur God se grootheid in ‘n aantal skeppingswonders aan Job bekend te stel (36:26-37:13) en só Job uit te nooi en te motiveer om God te bly dien (37:14-24).

God se skeppingsmag en voorsienigheid vertoon God se regverdigheid – 36:1-15

Elihu opper nog ‘n paar argumente vir God se saak, want hy wil aantoon dat God regverdig is.  Hy begrond God se regverdigheid in die feit dat God magtig is, maar tog op niemand neer sien nie (36:5).  God is magtig, maar tegelykertyd wys.  Hy laat reg geskied aan verdruktes, sorg vir regverdiges en wis goddeloses uit.  God se regverdigheid wys dus in sy skeppingsmag sowel as in sy voorsienigheid.

Hierdie regverdigheid kan ‘n mens selfs sien in hoe hy werk met konings.  Hulle regeer in ‘n verhouding met Hom.  Wanneer hulle hoogmoedig raak, beëindig God hulle termyn: “So laat God hulle besef wat hulle gedoen het, hoe hulle gesondig het toe hulle hoogmoedig geword het.” (36:9).  God se regverdigheid sluit dus in dat hy mense tot insig begelei, ook deur die verheffing en vernedering wat ‘n mens in die lewe ervaar.

Elke ervaring is dus ‘n leer ervaring, of dit nou goed is of sleg.  Wysheid is om daarop ag te slaan en daaruit te leer.  Dwaasheid is om dit te ignoreer of daarteen in opstand te kom.

Job moet op God se grootheid bly fokus om afvalligheid te vermy – 36:16-25

Elihu raak meer persoonlik en pas sy argumentasie op Job toe: “God het jou na Hom toe getrek, weg van gevaar af.” (36:16).  Dit het hy in sy vorige veilige en voorspoedige ervaring beleef.  Dieselfde is van toepassing in die teenspoed wat hy nou beleef.

Die NAV vertaling in 36:17 is misleidend. “Maar nou het die oordeel wat die goddelose toekom, jou voluit getref, oordeel en straf het jou ingehaal.”  Dit kan geïnterpreteer word asof dít wat die goddelose toekom, nou vir Job getref het.  Dit is beter om dit soos in die OAV te vertaal: “17Maar u is vol van die oordeel oor die goddelose: oordeel en strafgerig sal u aangryp.

D.w.s., Elihu waarsku Job dat hy homself nie moet vergelyk met die goddelose nie en vol van oordeel oor hulle moet wees nie.  Dít sal beteken dat hy self onder oordeel sal deurloop: “Moenie dat jou grief jou tot uittarting verlei nie.” (36:18).  “Moet ook nie jou toevlug neem tot sonde nie” … al lyk dit vir Elihu asof Job dit begin verkies bó die swaarkry (36:21).

God is só groot dat ‘n mens doodeenvoudig nie van Hom rekenskap kan eis nie.  ‘n Mens moet liewer dink daaraan: “om sy werk te roem, sy werk wat deur mense besing moet word.” (36:24).  “Alle mense kan dit sien, al neem hulle dit net van ver af waar.” (36:25).

Dié raad is goeie raad, hoewel ‘n mens ook moet onthou dat Elihu se oordeel oor waar Job in sy pad met die Here is, van die merk af is, omdat hy nie insae het in wat regtig aangaan van God se kant af nie.  Elihu kyk net met ‘n menslike perspektief, en mis die goddelike perspektief.

Elihu teken God se grootheid in ‘n aantal skeppingswonders – 36:26-37:13

Elihu skuif sy eie fokus na God se grootheid wat op ‘n besondere manier God se selfopenbaring in die volgende paar hoofstukke – hfst. 38-41 – aan die orde begin stel.  Sy eie arrogante toon van hfst. 35 begin plek maak vir ‘n eie persoonlike verwondering en verstomming wat die begin van ware wysheid is: “God is groot, ons kan  sy grootheid nie begryp nie, sy jare kan nie bereken word nie.” (36:26).

Elihu neem ons deur ‘n skeppingstoer van die wonder van reën om dié verwondering oor God se grootheid te onderstreep.  Die wonder lê nie net in die reënsiklus van see tot wolke tot aarde nie, maar in die feit dat dit kos gee aan mense, en dit in oorvloed.  “God vat die weerlig in sy hand en stuur dit op die doelwit af.” (36:32).  Niks is toevallig nie.  Niks is verniet nie.  Alles het sy doel.  Alles word begelei om aan hulle doelwit te beantwoord.

Dié gedagtes is selfs vir Elihu te groot om in te neem, daarom begin hy bewe: “en gaan my hart aan die ruk.” (37:1).  Hy hoor God se stem in die wonders van die natuur, die algemene openbaring: “Met sy stem laat God magtige dinge gebeur.  Hy doen groot dade en ons begryp dit nie.” (37:5).

Dan vervolg hy om dieselfde siklus te beskryf, maar nog meer uitgebreid in terme van sneeu, reëns, stortreëns, stormwind, yswinde, wolke, en weerlig, maar nie net om daarmee van die krag daarvan te getuig nie (37:6), maar om op aanskoulike manier mense tot stilstand te ruk en hulle van God se bestaan bewus te maak (37:7).  Mensig, maar dit is mooi!

God wil deur sy skeppingsmag mense uitnooi, sê Elihu, om Hom te leer ken (37:7) en aan ons die waarde van gehoorsaamheid te illustreer.  God stuur die storm – wat nou ook as metafoor vir sy betrokkenheid by ons begin optree – om drie goed te doen: “óf om te straf, óf om vir die aarde te sorg, óf om sy liefde te toon.” (37:13).

God se grootheid nooi Job uit om Hom te bly dien – 37:14-24

Geen wonder dat Elihu uit sy eie verwondering oor God vir Job uitnooi om hierna te luister en in die openbaring van God se grootheid homself te vind: “Staan stil en dink na oor die wonderdade van God.” (37:14).

Let op hoe Elihu se reeks van drie retoriese vrae Job begin voorberei vir die vrae wat God self vir Job gaan vra in hfst. 38-41:

  • Weet jy hoe God dit alles voorberei?
  • Weet jy hoe Hy die lig deur die wolke laat breek?
  • Weet jy hoe die wolke sweef?

Hy antwoord sy eie retoriese vrae: “Dit is die wonderlike werk van Hom wie se kennis volmaak is.”(37:16).  Job – en ons ander – sukkel al met temperatuurbeheer in die woestyn.  Hoeveel te meer is hy nie net heeltemal onbekwaam om saam te gesels met dié God wat alles gemaak het nie.

Elihu nooi Job uit om te reageer en sy eie vrae te vra, maar vervolg daarop dat dit eintlik maar net sal illustreer dat Job – en ons – onkundig is, wanneer dinge buite ons begrip begin beweeg.

Elihu sluit af met ‘n laaste beskrywing van God se grootheid wat geïllustreer word juis in die feit dat Hy regverdig is en niemand verdruk nie.  “Daarom dien die mense Hom,” … en, as ‘n amperse nagedagte … “sien Hy nie dié raak wat dink dat hulle wysheid het nie.” (37:24).

Elihu kom daarmee op dieselfde plek uit as die gevolgtrekking van Job 28: “Om die Here te dien, dit is wysheid, om die kwaad te vermy, dit is insig.” (28:28).  Raad wat tot vandag toe nog geld.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Herodes die Grote pleeg kindermoordDankie.
  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…