Skip to main content

Psalm 82

Staan op, o God, oordeel die aarde

Dit is ‘n kort Psalm, maar een wat soos geen ander Psalm is nie. Wat uitstaan van die Psalm is dat dit ’n direkte visioen op ’n “hemelse vergadering” bevat: “God staan op in die vergadering van die gode …” (vers 1-7) as aanleiding en motivering tot ’n gebed wat die Psalm afrond: “Kom tog, o God! Lewer uitspraak …” (vers 8). Dit is ook die struktuur en indeling van die Psalm.

Teks en konteks

Soortgelyke verwysings na hierdie tipe “hemelse vergadering” kom voor in:

  • die verhalende gedeeltes van die OT: 1 Kon. 22:19–23 – met die raaiselagtige optrede van die “gees” wat in die gedaante van ’n “leuengees” Agab in ’n ramp inlei,
  • die wysheidsliteratuur: Job 1:6–12; 2:1–6 – die bekende tonele waar die Satan voor God verskyn,
  • die profete: Jes. 6:1–13 – Jesaja se troonvisie waar die serafs optree (vgl. ook Jes. 40:1–8 en Sag. 1:7–17; 3:1–5), en natuurlik ook
  • die Openbaring aan Johannes (Openb. 4 en verder in verskeie tonele).

Maar, dié vergadering in die Psalm is tog anders. Dit lyk asof God die vergadering as’t ware “gatecrash”, want Hy sit nie soos dit normaalweg in die ander hemelse visioene die geval is nie. Hy staan en vat die “gode” ernstig aan oor hulle vergrype en agtelosigheid en beëindig hulle status en invloed (vers 2-7).

Die vraag is dus wie dié “gode” is?

  1. Sommige interpreteer die “gode” as mense, en dink dat die “gode” verbind kan word met regters of amptenare voor wie die volk vir allerlei uitsprake en handelinge moes verskyn. So interpreteer baie dit op grond van bv. Eks. 21:6 waar ook van “gode” gepraat word en ’n eienaar beveel word om sy slaaf “in die teenwoordigheid van God (of gode)” te bring. Die Hebreeuse woord êlôhîm word ook daar gebruik (vgl. ook Eks. 22:6–7, 8, 27; 1 Sam. 2:25 vir soortgelyke gevalle). Die woord “God” of “gode” kan dan as “owerhede” vertaal word soos dit in die 1933 vertaling gedoen is, asook in die Talmoed, die Joodse kommentaar op die OT.

  2. Ander interpreteer die “gode” in die Psalm as hemelse wesens in die lig van God se optrede om dié vergadering te “gatecrash”. Hulle kan dus as afgode geïnterpreteer word, bv. die Kanaänitiese groep afgode, soos die NET Bible dit interpreteer op voetspoor van VanGemeren se kommentaar op die Psalms.

Indien dié interpretasie geldig is, teken die Psalm vir God as die een wat die afgode se wanpraktyke, onreg, partydigheid en duistere praktyke aan die kaak stel en hulle tot niet maak, soos mense laat uitsterf en soos leiers van hulle magsposisie beroof (vers 7). Dit maak vir my die meeste sin.

  1. Dit is egter ook duidelik uit die konteks van die Psalm dat hulle werk ’n bepalende effek op menslike lewens gehad het. In ’n oordragtelike sin dui die “gode” dus ook op mense wat in magsposisies is – soos in die regspraak en die regering – en dat hulle daaroor aangespreek kan word. In ’n seker sin kan die “gode” dus op beide afgode en mense dui wat in gemeenskap met mekaar boosheid bedryf (Tate).

Vertaling

Omdat daar belangrike verskille is tussen die 1983 en 2020 vertalings, plaas ek dit hier langs mekaar sodat jy van die meer presiese betekenisse kan lees – bv. “vergadering van die gode” i.p.v. “hemelse vergadering”; “vaderloses” i.p.v. “weeskind”; “magteloses” i.p.v. “hulpeloses”; “armes” i.p.v. “behoeftige” ensomeer:

1983 vertaling 2020 vertaling
82 ’n Psalm van Asaf.

In die hemelse vergadering, tussen die hemelwesens, staan God op om uitspraak te lewer:

82 ’n Psalm van Asaf.

God gaan staan in die vergadering van die gode; in die teenwoordigheid van die gode lewer Hy uitspraak:

2“Hoe lank gaan julle nog onregverdige beslissings vel, nog partydig wees vir die goddelose? Sela 2”Hoe lank gaan julle nog onregverdig oordeel en vir goddeloses partydig wees? Sela
3Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind, ’n regverdige uitspraak vir die hulpelose en die behoeftige lewer, 3Handhaaf die reg van hulpeloses en vaderloses; laat reg geskied aan die magteloses en armes.
4julle moet die mens in nood en die arme bevry, hulle uit die mag van die goddelose red; 4Bevry hulpeloses en behoeftiges, red hulle uit die mag van goddeloses.
5maar julle weet niks, julle verstaan niks, julle gaan eenvoudig in duisternis voort, en so word die fondamente van die wêreld geskud. 5”Hulle (verwys na die afgode) weet niks nie en hulle verstaan nie, hulle verkeer in die duister. Al die fondamente van die aarde wankel.
6Ek het wel gesê: Julle is almal gode, almal met mag beklee. 6“Ek het self gesê julle is gode, seuns van die Allerhoogste, julle almal.
7Maar nou, julle sal elkeen sterwe soos ’n mens en aan julle einde kom soos enige maghebber.” 7Maar, soos mense (dit kan ook na Adam verwys) sal julle sterf, soos enige leier sal julle val.”
8Kom tog, o God! Lewer uitspraak oor die wêreld, want al die nasies behoort aan U. 8Staan op, o God, oordeel die aarde, want U het besitreg oor al die nasies.

Jesus en die Psalm

Jesus se aanhaling van Psalm 82:6 in Johannes 10:34 verwys moontlik na die interpretasie van die rabbi’s soos dit in die Talmoed van Psalm 82 ‘n neerslag gekry het. Volgens hulle het Psalm 82:6 na die ontvangs van die Wet op die berg Sinai verwys. Jesus sê dus vir hulle, as julle dink dat daar van die volk wat God se woorde op die berg Sinai ontvang het as “gode” gepraat word, hoeveel te meer kan Jesus wat die Vader uitverkies en na die wêreld gestuur het, beweer dat Hy “die Seun van God” is, want Hy is inderdaad die Woord van God. Jesus se aanspraak is dus nie dat Hy ‘n Goddelike wese onder baie ander is nie; Hy maak aanspraak daarop dat Hy die unieke Seun van God is, dws God self is, iets waarvan die Jode deeglik bewus was (vgl Newman, B.M. and Nida, E.A. (1993) A handbook on the Gospel of John. New York: United Bible Societies (UBS Handbook Series), p. 344.)

Boodskap en betekenis

Of dié Psalm nou oor mense praat in magsposisies, of van afgode (die interpretasie wat ek verkies), of van beide mense en afgode, die boodskap is duidelik: God tree op namens hulpeloses, vaderloses, magteloses, armes, en behoeftiges. Hoekom? Want Hy het besitreg oor die aarde en al die nasies. Hy is nie onregverdig en partydig nie. Hy handhaaf die reg en Hy laat reg geskied. Hy wil hê dat hulpeloses en behoeftiges bevry word en uit die mag van goddelose mense gered word. En almal wat aan Hom verbind is, moet met Hom daarin saamwerk.

Anders wankel die fondamente van die aarde – ’n metafoor vir die gemeenskap wat in anargie en wetteloosheid verval en van die wêreld ’n onveilige, onbarmhartige plek maak.

Dít moet dus ons gebed word – dat God sy besitreg inderdaad sal uitoefen tot bevryding en redding van hulpeloses en behoeftiges. “Staan op, o God …” Stel dinge reg. En as kerk moet ons self opstaan en ons daarvoor beywer in gehoorsaamheid aan God.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda