Skip to main content

Psalm 82

Staan op, o God, oordeel die aarde

Dit is ‘n kort Psalm, maar een wat soos geen ander Psalm is nie. Wat uitstaan van die Psalm is dat dit ’n direkte visioen op ’n “hemelse vergadering” bevat: “God staan op in die vergadering van die gode …” (vers 1-7) as aanleiding en motivering tot ’n gebed wat die Psalm afrond: “Kom tog, o God! Lewer uitspraak …” (vers 8). Dit is ook die struktuur en indeling van die Psalm.

Teks en konteks

Soortgelyke verwysings na hierdie tipe “hemelse vergadering” kom voor in:

  • die verhalende gedeeltes van die OT: 1 Kon. 22:19–23 – met die raaiselagtige optrede van die “gees” wat in die gedaante van ’n “leuengees” Agab in ’n ramp inlei,
  • die wysheidsliteratuur: Job 1:6–12; 2:1–6 – die bekende tonele waar die Satan voor God verskyn,
  • die profete: Jes. 6:1–13 – Jesaja se troonvisie waar die serafs optree (vgl. ook Jes. 40:1–8 en Sag. 1:7–17; 3:1–5), en natuurlik ook
  • die Openbaring aan Johannes (Openb. 4 en verder in verskeie tonele).

Maar, dié vergadering in die Psalm is tog anders. Dit lyk asof God die vergadering as’t ware “gatecrash”, want Hy sit nie soos dit normaalweg in die ander hemelse visioene die geval is nie. Hy staan en vat die “gode” ernstig aan oor hulle vergrype en agtelosigheid en beëindig hulle status en invloed (vers 2-7).

Die vraag is dus wie dié “gode” is?

  1. Sommige interpreteer die “gode” as mense, en dink dat die “gode” verbind kan word met regters of amptenare voor wie die volk vir allerlei uitsprake en handelinge moes verskyn. So interpreteer baie dit op grond van bv. Eks. 21:6 waar ook van “gode” gepraat word en ’n eienaar beveel word om sy slaaf “in die teenwoordigheid van God (of gode)” te bring. Die Hebreeuse woord êlôhîm word ook daar gebruik (vgl. ook Eks. 22:6–7, 8, 27; 1 Sam. 2:25 vir soortgelyke gevalle). Die woord “God” of “gode” kan dan as “owerhede” vertaal word soos dit in die 1933 vertaling gedoen is, asook in die Talmoed, die Joodse kommentaar op die OT.

  2. Ander interpreteer die “gode” in die Psalm as hemelse wesens in die lig van God se optrede om dié vergadering te “gatecrash”. Hulle kan dus as afgode geïnterpreteer word, bv. die Kanaänitiese groep afgode, soos die NET Bible dit interpreteer op voetspoor van VanGemeren se kommentaar op die Psalms.

Indien dié interpretasie geldig is, teken die Psalm vir God as die een wat die afgode se wanpraktyke, onreg, partydigheid en duistere praktyke aan die kaak stel en hulle tot niet maak, soos mense laat uitsterf en soos leiers van hulle magsposisie beroof (vers 7). Dit maak vir my die meeste sin.

  1. Dit is egter ook duidelik uit die konteks van die Psalm dat hulle werk ’n bepalende effek op menslike lewens gehad het. In ’n oordragtelike sin dui die “gode” dus ook op mense wat in magsposisies is – soos in die regspraak en die regering – en dat hulle daaroor aangespreek kan word. In ’n seker sin kan die “gode” dus op beide afgode en mense dui wat in gemeenskap met mekaar boosheid bedryf (Tate).

Vertaling

Omdat daar belangrike verskille is tussen die 1983 en 2020 vertalings, plaas ek dit hier langs mekaar sodat jy van die meer presiese betekenisse kan lees – bv. “vergadering van die gode” i.p.v. “hemelse vergadering”; “vaderloses” i.p.v. “weeskind”; “magteloses” i.p.v. “hulpeloses”; “armes” i.p.v. “behoeftige” ensomeer:

1983 vertaling 2020 vertaling
82 ’n Psalm van Asaf.

In die hemelse vergadering, tussen die hemelwesens, staan God op om uitspraak te lewer:

82 ’n Psalm van Asaf.

God gaan staan in die vergadering van die gode; in die teenwoordigheid van die gode lewer Hy uitspraak:

2“Hoe lank gaan julle nog onregverdige beslissings vel, nog partydig wees vir die goddelose? Sela 2”Hoe lank gaan julle nog onregverdig oordeel en vir goddeloses partydig wees? Sela
3Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind, ’n regverdige uitspraak vir die hulpelose en die behoeftige lewer, 3Handhaaf die reg van hulpeloses en vaderloses; laat reg geskied aan die magteloses en armes.
4julle moet die mens in nood en die arme bevry, hulle uit die mag van die goddelose red; 4Bevry hulpeloses en behoeftiges, red hulle uit die mag van goddeloses.
5maar julle weet niks, julle verstaan niks, julle gaan eenvoudig in duisternis voort, en so word die fondamente van die wêreld geskud. 5”Hulle (verwys na die afgode) weet niks nie en hulle verstaan nie, hulle verkeer in die duister. Al die fondamente van die aarde wankel.
6Ek het wel gesê: Julle is almal gode, almal met mag beklee. 6“Ek het self gesê julle is gode, seuns van die Allerhoogste, julle almal.
7Maar nou, julle sal elkeen sterwe soos ’n mens en aan julle einde kom soos enige maghebber.” 7Maar, soos mense (dit kan ook na Adam verwys) sal julle sterf, soos enige leier sal julle val.”
8Kom tog, o God! Lewer uitspraak oor die wêreld, want al die nasies behoort aan U. 8Staan op, o God, oordeel die aarde, want U het besitreg oor al die nasies.

Jesus en die Psalm

Jesus se aanhaling van Psalm 82:6 in Johannes 10:34 verwys moontlik na die interpretasie van die rabbi’s soos dit in die Talmoed van Psalm 82 ‘n neerslag gekry het. Volgens hulle het Psalm 82:6 na die ontvangs van die Wet op die berg Sinai verwys. Jesus sê dus vir hulle, as julle dink dat daar van die volk wat God se woorde op die berg Sinai ontvang het as “gode” gepraat word, hoeveel te meer kan Jesus wat die Vader uitverkies en na die wêreld gestuur het, beweer dat Hy “die Seun van God” is, want Hy is inderdaad die Woord van God. Jesus se aanspraak is dus nie dat Hy ‘n Goddelike wese onder baie ander is nie; Hy maak aanspraak daarop dat Hy die unieke Seun van God is, dws God self is, iets waarvan die Jode deeglik bewus was (vgl Newman, B.M. and Nida, E.A. (1993) A handbook on the Gospel of John. New York: United Bible Societies (UBS Handbook Series), p. 344.)

Boodskap en betekenis

Of dié Psalm nou oor mense praat in magsposisies, of van afgode (die interpretasie wat ek verkies), of van beide mense en afgode, die boodskap is duidelik: God tree op namens hulpeloses, vaderloses, magteloses, armes, en behoeftiges. Hoekom? Want Hy het besitreg oor die aarde en al die nasies. Hy is nie onregverdig en partydig nie. Hy handhaaf die reg en Hy laat reg geskied. Hy wil hê dat hulpeloses en behoeftiges bevry word en uit die mag van goddelose mense gered word. En almal wat aan Hom verbind is, moet met Hom daarin saamwerk.

Anders wankel die fondamente van die aarde – ’n metafoor vir die gemeenskap wat in anargie en wetteloosheid verval en van die wêreld ’n onveilige, onbarmhartige plek maak.

Dít moet dus ons gebed word – dat God sy besitreg inderdaad sal uitoefen tot bevryding en redding van hulpeloses en behoeftiges. “Staan op, o God …” Stel dinge reg. En as kerk moet ons self opstaan en ons daarvoor beywer in gehoorsaamheid aan God.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar