Skip to main content

Lukas 16

Jesus oor rykdom, betroubaarheid en genade

In Lukas 16 leer Jesus deur gelykenisse wat diep geestelike waarhede oor rykdom, die rol van die wet, en die belang van deernis en betroubaarheid belig. Hierdie gelykenisse handel oor hoe ons in hierdie wêreld lewe en hoe ons optrede in die lig van die ewigheid geweeg word. Die gelykenisse van die oneerlike bestuurder, die ryk man en Lasarus, asook die daaropvolgende leringe, bied insigte in hoe God ons gebruik om sy wil op aarde te vervul.

Teks en konteks

Die gelykenis van die oneerlike bestuurder (Lukas 16:1-13)

In hierdie gelykenis vertel Jesus die verhaal van ‘n ryk man wat sy bestuurder daarvan beskuldig het dat hy sy besittings verkwis. Toe die bestuurder besef dat hy afgedank gaan word, soek hy na slim maniere om sy toekomstige voorsiening te verseker. Hy verminder die skulde wat ander by die ryk man gehad het, om hulle genadig te stem vir die dag wanneer hy nie meer werk het nie. Deur die skuld van die mense te verminder, koop hy vir homself vriende vir die toekoms. Die ryk man is verplig om die bestuurder vir sy slimmighede te prys, alhoewel sy aksies oneties was.

Jesus maak dan ‘n verdere uitspraak wat net losweg verbind is aan die gelykenis en waarmee Hy eintlik uitwys dat die oneerlike kant van die bestuurder uiteindelik nie aanvaarbaar is nie. Jesus soek dat sy mense betroubaar sal wees, selfs in die geringste aspek van hulle lewe. Want sulke mense sal ook in die groot goed betroubaar wees. Hy wat in die kleinste oneerlik is, sal immers ook in die grote oneerlik wees.

Teenoor die oneerlike bestuurder moet sy dissipels betroubaar bevind word in hulle hantering van die oneerlike wêreldse rykdom. Anders sal God hulle nie met die ware rykdom van die ewige lewe kan vertrou nie.

Jesus skerp dié punt nog ‘n keer in dat as hulle nie betroubaar sal wees met wat aan ’n ander behoort nie, wie sal dan vir hulle enigiets gee wat hulle hulle eie sal kan noem.

Soos in die Bergrede (Matt 6:24) som Jesus hierdie lering op met sy stelling dat ‘n mens nie twee here kan dien nie. Jy sal óf die een haat en die ander liefhê. Óf jy sal lojaal wees teenoor die een en die ander verag. Dit is nie moontlik om op God en die verwerwing van wêreldse rykdom gelyktydig te fokus nie. Die een sal altyd belangriker as die ander wees.

Boodskap en betekenis

Dit is ‘n vreemde gelykenis wat net sin maak as ‘n mens die tweede deel in vers 10-13 by lees. Die punt van die gelykenis is dat wêreldlinge soms slimmer optree teenoor hulle eie mense as wat gelowiges dit doen. Dit is tot hulle eie en ander se voordeel. Die bestuurder het welwillendheid gekoop. Die debiteure het afslag gekry.

Maar gelowiges – dit is wat vers 10-13 byvoeg – moet te alle tye betroubaar bevind word, selfs as hulle dit kan regkry om op ‘n soortgelyke wyse “slim” te werk met mense met die oog op hulle ewige bestemming. Maar, hulle kan nie in die proses onbetroubaar of oneerlik wees nie, want dit het ewige gevolge.

Die oneerlikheid van die Fariseërs (Lukas 16:14-18)

Die Fariseërs, wat geldgierig was, het die leringe van Jesus nie goed ontvang nie. Hulle het Hom uitgelag oor die manier waarop Hy hulle skynheiligheid ontbloot het. Jesus beklemtoon dat hulle uiterlike nakoming van die wet, terwyl hulle innerlik nie die wil van God nagekom het nie, hulle nie sou red nie. Hy vertel verder dat die wet en die profete geldig bly, selfs met die koms van die koninkryk. Hy illustreer dit met die vraag oor egskeiding, wat die Fariseërs gemis het omdat hulle die betekenis van die wet verkeerd verstaan het.

Boodskap en betekenis
Jesus se uitsprake oor die wet beklemtoon die onveranderlikheid daarvan. Hy het nie die wet gekanselleer nie, maar dit vervul, en daarom moet mense steeds in ooreenstemming met die wet leef, nie net die letter nie, maar die geestelike bedoeling daarvan. Dit bring ‘n beroep op die Fariseërs en skrifgeleerdes om hulle skynheiligheid te laat vaar en die ware betekenis van die wet in Jesus te erken.

Die gelykenis van die ryk man en Lasarus (Lukas 16:19-31)

In die gelykenis van die ryk man en Lasarus, kontrasteer Jesus die lot van die ryk man, wat in weelde geleef het, en die arme man, Lasarus, wat in ellende voor sy poorte gelê het. Lasarus het nie net armoede gely nie, maar ook fisiese pyn as gevolg van die sere op sy liggaam. Terwyl die ryk man hom ignoreer het, het God se genade Lasarus na die boesem van Abraham gebring na sy dood. Die ryk man, wat sy rykdom nie met ander gedeel het nie, bevind hom in die doderyk en pleit vir genade.

Boodskap en betekenis
Hierdie gelykenis beklemtoon die gevolge van die keuses wat ons in die lewe maak. Die ryk man het nie na ander omgesien nie en het sy aardse rykdom net vir homself gebruik. Sy gebrek aan barmhartigheid het hom in die “vlam” van die doderyk geplaas. Lasarus, wat niks in die wêreld gehad het nie, het alles in die ewige lewe ontvang, terwyl die ryk man alles verloor het. Jesus leer dat dit nie net is hoe ons die wêreldse besittings gebruik nie, maar hoe ons ons verhouding met God en ons naaste benader wat bepaal waar ons in die ewigheid sal wees.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Onlangse kommentaar