Skip to main content

Esra 10

Die geloofsgemeenskap vernuwe die verbond deur godsdienstig-gemengde huwelike te ontbind

As die lys wat Esra hier gee van die aantal godsdienstig-gemengde huwelike volledig is, het altesaam 113 Jode met vreemde vroue getrou. Nege van die 33 gesinne van Esra 2:3–35 word hier verteenwoordig. Twee nuwe gesinne word bygevoeg: ‘n tweede Bani-gesin (vers 34) en dié van Binnui (vers 38). Die lys sluit 17 priesters en 10 Leviete in, wat byna ‘n kwart van die totaal uitmaak.

Dit is die aantal huwelike wat geraak word in hierdie optrede van Esra.

Teks en konteks

Die geloofsgemeenskap tree op – Esra 10:1-8

Dit is duidelik dat die optrede van die geloofsgemeenskap nie onder dwang van Esra gebeur nie, maar gebeur omdat dit ’n gewetensaak vir die Jode was. Die keuse om iets te doen aan die slegte toedrag van sake, kom van die mense self af.

Esra se hartseer skuldbelydenis voor die tempel – geëggo deur ‘n groot aantal Jode, mans, vrouens en kinders – lei tot Sekanja se voorstel dat daar hoop is vir hulle as hulle almal ’n plegtige onderneming teenoor God maak dat hulle al dié vroue wat vreemde gode dien, sowel as hulle kinders sal wegstuur, in gehoorsaamheid aan die voorskrifte van die wet.

Omdat huwelike met mense van ander godsdienste teen die wet was en daarom in wese onwettig, is die voorstel dat hulle die situasie rondom huwelike wettig kry deur die ongeoorloofde huwelike ongeldig te verklaar. Hartseer, drasties, maar ’n eerlike poging om te herstel wat verbrou is. Dit gaan dus om verbondsvernuwing waarin hulle hul gehoorsaamheid aan die wet van God tasbaar wil uitoefen.

En, dié reëling het nie die “vreemdelinge” ingesluit wat hulle volledig met God en sy volk geassosieer het nie. Sulke huwelike was hiervan uitgesluit.

Dit lyk ook asof dit net oor vrouens van ander godsdienste gegaan het wat met Joodse mans getroud is. Ons lees nie van ’n enkele Joodse vrou wat deur dié proses geraak is nie. Hulle is dus waarskynlik nie aan heidense mans as vroue gegee nie en het dié drastiese optrede vrygespring. Sommige van hulle is moontlik weer met hulle mans verenig, as ’n mens Maleagi 2:11-16 se uitsprake hierop betrek, dat die Joodse mans opgeroep is om nie langer ontrou aan die vroue van hulle jeug te wees nie. Dit is ook wat Esra vir hulle sê in 10:10: “Julle het troueloos opgetree.”

Die groot byeenkoms in Jerusalem – Esra 10:9-15

Die trane van Esra en die volk by die aanvang van dié proses word geëggo in die reën wat neersak op die 20ste van die maand (Desember in ons kalender) wat die mense van die koue laat bewe het, asook van die spanning van die impak wat dié groot besluite op almal gaan hê.

Niemand het dié oproep om in Jerusalem bymekaar te kom, verontagsaam nie, weens die dreigement van die konfiskering van besittings en die verwerping uit die geloofsgemeenskap. Hulle sou dus hulle goed verloor en uit die geloofsgemeenskap uitgeskop word.

In ’n kort toespraak, gegewe die reën en die koue, spel Esra die rede vir die drastiese optrede uit en beveel hulle om die foute van die verlede reg te stel en dit nie weer in die toekoms te herhaal nie. Die geloofsgemeenskap het hulle instemming eenparig en hardop betuig. Hulle vra egter dat daar ’n ordentlike proses sal wees om die saak af te handel op individuele grondslag deur die regters van die stad waartoe die leiers instem.

Nie almal het egter gedink dat die weg van egskeiding en verwerping van vrouens en kinders die gewenste optrede is nie, maar daarmee het hulle die erns van die situasie onderskat, want die voortbestaan van die volk as Godsvolk was hiermee in die gedrang

Onthou dat die onderliggende probleem nie die ondertrouery as sodanig was nie, soos in Esra 9 uitgespel. Ondertrouery was ’n poort tot afgodery soos Moses uitgespel het in die wet (Deut 7:3-6; vgl Num 25:1-5; 1 Kon 16:31-33).

Dit verklaar Esra en die meerderheid van die Jode se skerp reaksie hier teen hierdie tipe huwelike en moet ons self bedag maak op huwelike vandag wat gesluit word met mense wat nie die Here dien nie (vgl 2 Kor 6:14-7:1).

Vier van die Jode (een was ’n Leviet, die ander waarskynlik gewone Jode) was teen die gedagte, hoewel daar nie enige detail gegee word oor hulle redes nie. Die feit dat hulle teenstand egter sonder kommentaar genoem word, beteken waarskynlik dat die ander leiers dit as bona fide teenstand gesien het weens grondige redes – die onmenslikheid van die optrede, die gebrek aan enige dwingende voorskrif in die wet daarvoor, die feit dat ander mense ly as gevolg van hulle gebrek aan oordeel, dat die keuse ook die heidense vroue se moontlike verbintenis aan die Here in ag moet neem – hoewel die meerderheid van die Jode vir drastiese optrede gekies het.

Die profeet Maleagi gee egter ’n perspektief hierop wat moontlik ten minste ten dele verklaar waarom só drasties opgetree is. Die manne van Juda – sê Maleagi, wat min of meer in hierdie tyd optree – het die Joodse vroue van hulle jeug geskei en verruil vir vrouens wat in diens van ander gode gestaan het (Mal. 2:11-16). Dit het dus in hierdie tipe situasies nie net oor die ander godsdienste gegaan nie, maar oor die feit dat van die Jode ontrou was aan hulle eerste vroue, ook Jode, en van dié geskei het. Geen wonder die Here sê dat Hy egskeiding haat, want dit is niks anders as geweld nie.

Sommige van die egskeidings wat nou plaasgevind het, kon dus moontlik ook ’n herstel van die vorige huwelike van die manne van Juda gewees het. Maleagi sê immers twee keer: “Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie” (Mal. 2:15-16 – vgl. Esra wat ook van hulle ontrouheid praat wat herstel moet word).

Die regsprosesse – Esra 10:16-44

Die regsprosesse wat nou gevolg is, het drie maande geduur tot net voor die Paasfees in die eerste maand van hulle kalender. Dit het almal geraak – priesters, Leviete, sangers, poortwagte, sowel as gewone Israeliete. Interessant dat die tempelslawe nie genoem word nie, want hulle sou moontlik meer blootgestel gewees het aan sulke tipe huwelike. Let ook op dat die geestelikes eerste genoem word in dié proses om te illustreer dat hulle nie net van ander verwag het om gehoorsaam te wees nie, maar self gedoen het waaroor ooreengekom is.

Al die mense – 110 mans word genoem, 17 priesters, 6 Leviete, 1 sanger en 3 poortwagte met 83 gewone Jode – wat met vreemde vrouens getroud was, het dus hulle vrouens geskei en hulle kinders saam weggestuur, waarskynlik terug na hulle ouerhuise, hoewel dit nie uitgespel is nie. Dat dit ’n baie drastiese stap was wat tot groot maatskaplike nood kon aanleiding gee, is onteenseglik so.

Ná ’n tyd van stilte in die Bybel oor Esra, sal ons hom weer in aksie sien in die tyd van Nehemia (Neh. 8), so 13 jaar later.

Boodskap en betekenis

Paulus verwoord ’n ander weg wat in sulke situasies moontlik is, deur in 1 Kor. 7:12-16 juis te sê dat as die ongelowige getroud wil bly met die gelowige, die gelowige nie mag skei nie! Trouens, die ongelowige man of vrou is by God aanneemlik deur die band met die gelowige huweliksmaat. Die kinders uit só ’n huwelik geniet ook God se spesiale seën.

Nie dat hy nie ook baie sterk teen sulke huwelike gekant was nie. Hy wou hê dat mense in die eerste plek nie met ongelowiges trou nie. Daaroor is hy duidelik: die ongelowige en die gelowige kan nie in een juk saamtrek nie.

Maar, wanneer só ‘n huwelik wel gesluit is, sê Paulus in 1 Korintiërs 7, rus die onus op die ongelowige om te skei al dan nie, nie op die gelowige nie. Die gelowige moet alles in hulle vermoë doen om hulle lewensmaat tot geloof te begelei, selfs al is dit net deur voorbeeld (1 Pet 3:1).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar