Skip to main content

Psalm 4

Verhef oor ons die lig van u aangesig, o Here!

Psalm 3 sluit duidelik aan by die tragiese verhaal van Dawid se vlug voor sy geliefde seun Absalom. Omdat dit voorkom asof die omstandighede van Psalm 3 en 4 dieselfde is, kan dit goedskiks wees dat Psalm 4 aan die hand van sy ervaring een van die aande na sy vlug uit Jerusalem gedig kon gewees het (vgl Ps 4:9 – “nou sal ek onbesorg gaan lê”) en Psalm 3 een van die oggende (vgl Ps 3:6 – “ek word ook weer wakker”).

Terloops: die woord Sela kom meer as 70 keer voor in ongeveer 40 van die Psalms, waarvan die eerste hier in Psalm 3 en 4 is. Die betekenis van die woord is onbekend, maar dit wil lyk asof dit ’n pouse in die lees of sing van die Psalm aangedui het, waarskynlik ’n teken vir die koorleiers en musikante. Ons moet dit dus eintlik nie lees of sing nie, maar ’n oomblik van stilte gee, as ons by die woord Sela kom.

Teks en konteks

Dawid begin die Psalm deur sy geloof en vertroue in God alleen te stel, al is daar baie teenstand van (naby)-mense wat dié geloof en vertroue bespotlik maak en eintlik hulle ongeloof demonstreer dat God enigsins kan optree. Dawid is oortuig dat die Here steeds wonders doen vir dié wat Hom daarvoor vertrou.

Vers 5 is waarskynlik ’n stukkie lewenswysheid wat Dawid neerpen – midde in sy gebed – wat ons leer dat ’n mens nie self negatief op ongelowige perspektiewe moet reageer nie, en op die Here alleen moet vertrou: “As jy ontsteld raak, moenie sondig nie; dink in stilte daaroor na as jy gaan lê, en laat dit daarby!“

Die uitsonderlike uitdagings in die lewe moet ons nie verlei om die normale dinge wat God van ons vra na te laat nie. Ons moet dié dinge bly doen, terwyl ons Hom vertrou vir die uitdagings.

Dan kan ons met oorgawe fokus op wat God gaan gee en bring dit rus in ons gemoed – soos Dawid sê – wat ons rustig laat slaap en veilig laat woon. En dink net – as dit waar sou wees dat Dawid dié gebed bid terwyl hy besig is om te vlug van Absalom – met hoeveel meer oortuiging jy in jou eie krisisse op hierdie vrede-gewende God kan staatmaak.

Boodskap en betekenis

Dit laat my dink aan Fil 4:6-9 wat ons aanmoedig om ons gedagtes te fokus op dit wat waar, edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is, NADAT ons ons begeertes in alles aan die Here in gebed, smeking en danksegging bekend gemaak het. Dit is dan dat die vrede van God ons gedagtes en gevoelens in die regte rigting sal begelei!

Gebruik die Psalm om die konflikte in jou lewe voor die Here te bring en vir sy “glimlag” te vra, soos ’n mens vers 7 kan verklaar: “verhef oor ons die lig van u aangesig, o Here!” (NAV het “goedgesind”). God se verbond met ons is om selfs in die grootste uitdagings ons belange op die hart te dra en ons te seën. Al wat Hy vra is dat ons Hom sal vertrou.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar