Skip to main content

Psalm 119:145-152

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Dit is duidelik in hierdie negentiende deel van dié Psalm, waarvan elkeen van die 8 versreëls met die Hebreeuse letter kof begin, dat die teenwoordigheid van die Here in sy geskrewe openbaring beleef word. Dit is wanneer ‘n mens nadink oor wat die Here reeds gesê het, dié dinge wat reeds bekend is, dat daar nie net nuwe insigte opdaag nie, maar die verlossende krag van die Here aan die werk kom om dié openbaring van God na te kom en uit te voer. Dit is van ewige waarde (Ps. 119:152).

Bid die Psalm

“Ek roep tot U met my hele hart; antwoord my tog, Here! U voorskrifte sal ek gehoorsaam. Ek roep na U: Red my, en ek sal u vereistes gehoorsaam. Voor dagbreek roep ek om hulp, en plaas my hoop op u woord. Die hele nag lê ek wakker om u woord te oordink. Luister na my roepstem, Here, op grond van u troue liefde. Laat my lewe op grond van u regverdigheid. Sluwe vervolgers kom al nader, maar lewe ver van u gebooie af. Maar U is naby, Here, en al u gebooie is betroubaar. Van lankal af het ek geweet dat u eise nooit verander nie.” NLV

Boodskap en betekenis

God is naby ons deur dít wat skriftelik aan ons oorgelewer is, die Bybel. Ons beleef God se teenwoordigheid in die voorskrifte, bepalings, woorde, woord (‘imrâh – waarskynlik in die sin van ‘n belofte), beslissing, wet, en gebooie van sy openbaring. Ons beleef God se teenwoordigheid in die beweging wat die Bybel in ons aan die gang sit. Die Psalmis wys vir ons hoe die skriftelike openbaring ons innerlike mens in beweging moet bring: “Ek roep met my hele hart.” Hart sluit hier ons gevoelens, gedagtes en wil in (Ps. 119:145). Hy wys vir ons ook hoe die Bybel ons uiterlike mens, d.w.s. ons nougesette gehoorsaamheid in gedrag, in beweging moet bring: “U voorskrifte wil ek nakom!” (Ps. 119:146). God is natuurlik ook in die Skepping teenwoordig en dit is ongelooflik wonderlik (Ps. 19). Hy is ook in die lewe teenwoordig in alles wat met ons gebeur (Ps. 42:5). Hy is immers die bron van ons lewe, soos die Psalmis vroeër bely: ”U is my lewe.” (Ps. 16:5). Hy is ook in ons midde waar gelowiges die wil van die Here soek en probeer onderskei (Matt. 18:20). Maar dit is juis deur die lig wat Hy vir ons gee uit sy geskrewe openbaring wat ons op die beste manier tot insig kom en die lig vir ons pad kry (Ps. 119:105). Dít is waarom dit so belangrik is dat God se skriftelike openbaring die belangrikste plek in ons lewe moet inneem. Dit moet ook van ons waar wees, soos die Psalmis op ‘n ander plek sê: “U woord is my hele lewe.” (Ps. 40:9). Dit is immers waarom die Psalmis vroeër ook kan skryf dat hy ‘n vriend is van almal wat vir die Here ontsag het en sy opdragte nakom (Ps. 119:63). Let op hoe die Psalmis daarom met sy hele hart na die Here se voorskrifte roep, dat hy reeds voor die oggendskemer al op God se woorde wag (Ps. 119:147), trouens in die nag al oor God se woord nadink (Ps. 119:148 – die nagwaak waarna hier verwys word, is waarskynlik die tyd tussen 2 en 6 uur in die oggend).  Die Psalmis luister ook nie net nie. Hy vra dat God na hom sal luister en hom sal verlos en bewaar van mense wat slinkse planne het. Dit is immers wat God se Woord doen. Dit roep om ‘n antwoord van ons; dit roep om ‘n gesprek met ons, sodat ons nie net met vreugde God se woorde kan ontvang nie, maar met blydskap dit kan gehoorsaam. Dit is in hierdie lees en luister na God se Woord en woorde wat ons met oorgawe en oorvloed kan leef. Die Woord is inderdaad ‘n huis waarin ons kan woon.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Bid die Psalms


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda