Skip to main content

Handelinge 9

Saulus kom tot bekering en Barnabas sluit hom in

Handelinge 9 is ‘n sleutel hoofstuk in die vroeë kerkgeskiedenis wat die dramatiese bekering van Saulus beskryf, asook die voortgaande bediening van Petrus. Die hoofstuk demonstreer hoe God die mees onverwagte mense en situasies gebruik om sy evangelie uit te brei. In vier perikope volg ons die reis van Saulus van vervolger tot verkondiger (9:1-19), sy vroeë bediening te midde van vyandskap (9:20-25), sy aanvaarding deur die gemeenskap van gelowiges deur Barnabas se voorspraak (9:26-31), en die voorbereiding van Petrus deur wonders en genesing om die evangelie na die heidene te bring (9:32-43). Dit is ‘n aangrypende getuienis van God se aktiewe teenwoordigheid en sy krag om lewens te transformeer en sy kerk te bou.

Teks en konteks

‘n Bietjie agtergrond oor Saulus/Paulus

Saulus/Paulus is gebore in Tarsus in Silisië (Hand. 22:3, 28; Fil. 3:5) tussen ongeveer 1 tot 5 n.C. (Robinson). Volgens Hiëronimus was sy familie van Galilea, maar het in 4 v.C. na Tarsus verhuis. Hy was dus ‘n Jood, met die Hebreeuse naam Saulus (dit beteken begeer), uit die stam van Benjamin, maar het ook Romeinse burgerskap gehad, met die Latyns-Romeinse naam Paulus (dit beteken klein), vermoedelik weens sy verblyf in Tarsus. Dit is moontlik dat sy pa ‘n slaaf van ‘n Romeinse burger was, dat dié hom vrygelaat het, en hy op dié manier self burgerskap verkry het. Daar is egter geen inligting daaroor beskikbaar nie.

Terloops – Lukas begin in Handelinge die naam Paulus gebruik (Hand 13:9) wanneer dié op sy eerste sendingreis vertrek en die Grieks-Romeinse wêreld betree, ironies genoeg, terwyl Lukas die verhaal van Sergius Paulus vertel, die goewerneur wat in Siprus gelowig word.

Terug na sy kinderlewe: Sy familie het kort na sy geboorte na Jerusalem verhuis, waar hy grootgeword en opgevoed is aan die voete van die Fariseër Gamaliël (Hand. 22:3). Hy was goed bekend met die situasie in Jerusalem, en die Jode het sy storie goed geken (Hand. 26:4 vv). Sy pa was immers ook ‘n Fariseër (Hand. 23:6). Trouens, hy was ‘n vertroueling van die priesterhoofde. Lukas vertel ons ook van ’n suster van hom (Hand. 23:16).

Hoewel hy ‘n bietjie jonger as Jesus was, moes hy dus waarskynlik baie bewus gewees het van die gebeure rondom Jesus in dié se verhoor in Jerusalem, soos sy betrokkenheid by die steniging van Stefanus ‘n paar maande later getuig.

Saulus se bekering en roeping – Handelinge 9:1-19

Hoe Saulus gedink het dat hy al die Christene wat verstrooi is – deur sy eie Jodegenote! – in Damaskus (240 km noord van Jerusalem) kon gevange neem en in Jerusalem kon kom stilmaak deur hulle daar in die gevangenis te gooi, weet net hy alleen. Dit was ‘n desperate poging wat nooit kon slaag nie.

Wat sy aksies wel tot gevolg het, is dat Jesus self ingryp, en van sy groot teenstander Saulus ‘n begeesterde apostel maak (33-34 nC). Let op dat dit Jesus self is, en nie die Gees nie, wat vir ons wys dat Jesus steeds aktief hier op aarde is, al is Hy na sy liggaam by God.

Soos later die geval in Jerusalem sou wees, is Ananias aanvanklik baie versigtig vir Saulus, maar spreek hom darem as broer aan, nadat die Here hom daartoe oortuig het. Saulus se roeping is van die begin af een wat lyding sou insluit (vgl 2 Kor 11:16-33 waarin hy later uitwy daaroor), waarvan ’n deel ook onderlinge misverstande sou wees. God se belofte aan ons is telkens dat Hy ons te midde van ontberinge behoue sal laat bly.

Hierdie verhaal is so ’n belangrike een vir Lukas, dat hy nog twee keer daarna verwys (hfst. 22 en 26), want hoewel Petrus hierna die eerste treë na die heidene sou gee, is dit veral Saulus wat die evangelie oor sy Joodse grense sou laat bars waarmee die wêreld onherroeplik verander is.

Let ook op dat Lukas die ongeveer drie jaar wat Saulus in Arabië met die Here Jesus spandeer het om in die evangelie onderlê te word, uitlaat (vgl Gal 1:17 wat daarna verwys). Hy hervat die verhaal ná Saulus se terugkeer uit Arabië na Damaskus.

Saulus begin preek, maar stuit op teenstand – Handelinge 9:20-25

Saulus se bekering is radikaal en absoluut. En die ontmoeting met Jesus (en in diepte lering in Arabië) het ’n passie in hom aangesteek wat nooit weer sou verflou nie. Hy begin dieselfde sisteem wat hy so hart en siel ondersteun het – die Joodse teenstand teen die evangelie – met passie aanvat en bedien met die evangelie soos die Skrifte dit uitgelê het. Omdat hy ’n skrifgeleerde van formaat was, kon hy dit met baie groot oortuiging doen.

Die teenstand van die Jode bly natuurlik nie lank onder die oppervlakte nie, en hulle beplan om hom dood te maak, en hy moet vlug uit die stad, interessant genoeg met die hulp van “sy dissipels”, dws die bekeerlinge uit Saulus se arbeid, soos dit letterlik staan in die Griekse teks (vgl 2 Kor 11:32-33 waar van sy ontsnapping uit die stad vertel word, na hy daar vervolg is).

Barnabas ontferm hom oor Saulus in Jerusalem – Handelinge 9:26-31

Hy reis na Jerusalem om Petrus te ontmoet ongeveer drie jaar na sy bekering. Saulus se wrede poging om die kerk uit te roei (Hand 8:3) het egter nog steeds in die geloofsgemeenskap teen hom getel. Barnabas verskyn op die toneel. Hy ontferm hom oor Saulus en stel hom aan Petrus en Jakobus bekend, as die gelowiges nie iets met hom te doen wil hê in Jerusalem nie. Barnabas se aanvaarding van Saulus was dus die poort waardeur die bediening van Saulus ’n kans gekry het om te ontwikkel, en dit sou uiteindelik die hele Christelike bediening transformeer (vgl Gal 1:18).

Let op hoe Lukas dit vertel: Barnabas dra Saulus se verhaal oor deur eerstens op twee dinge klem te lê wat God gedoen het: Saulus het Jesus gesien, en die Here het met hom gepraat – albei dinge wat baie belangrik vir sy uiteindelike status en aanvaarding as apostel sou wees. En daarby lê hy klem op wat Saulus direk na sy bekering gedoen het: hy het openlik in Damaskus in die Naam van Jesus gepreek, presies die teenoorgestelde as waarvoor hy daarheen deur die hoëpriester gestuur is.

Dit lei uiteindelik tot ’n openbare erkenning van sy bediening – letterlik staan daar, hy kon “in en uit Jerusalem gaan saam met hulle” – hoewel daar steeds Griekssprekende Jode was wat hierdie verraaier vyandig gesind gebly het en hom wou vermoor. Dit noop die gelowiges – na Saulus 15 dae by Petrus gespandeer het, en die Here Jesus ook aan Saulus verskyn het om hom te waarsku soos ons later sal lees (Hand 22:17-21) – om hom weg te stuur na Sesarea en daarvandaan na Tarsus toe, sy tuisdorp, ter wille van sy eie veiligheid (vgl. Gal 1:21).

Uit die verdere verloop van die verhaal weet ons dat hierdie wegstuur nie ’n uitskuif-en-vergeet aksie was nie. Saulus gaan in dié tyd deur ’n intense voorbereiding terwyl hy steeds voluit die evangelie verkondig. Presies wat die voorbereiding behels het, word ons nie vertel nie, behalwe dat ons later hoor dat hy in sy tyd daar die ervaring gehad het om na die derde hemel, dit is die Paradys, weggeruk te word, waar hy dinge gehoor het waaroor hy nie mag gepraat het nie (2 Kor 12:2-4).

Ons sal later in hoofstuk 11 lees dat Saulus uiteindelik na ongeveer 5-7 jaar deur dieselfde Barnabas na die aktiewe bediening in die eerste gemengde gemeente, Antiogië, genooi word (ongeveer 46 nC) wat die vierde fase van die uitbreiding van die evangelie sou inlui.

Petrus word voorberei om die pad na die heidene oor te steek – Handelinge 9:32-43

Die kerk het ’n tyd van rus belewe, met die vuurvreter vervolger Saulus wat nou ’n vuurwarm verkondiger van die evangelie geword het. Die volgende grens moes nou egter aangepak word, en die Here gebruik die leier onder die apostels, Petrus, om dié grens na die heidene en die wêreld oor te steek, die derde fase van die uitbreiding. Na die bekering van Kornelius, sou die evangelie letterlik oor sy Joodse grense bars en die hele wêreld volmaak, deur gewone gelowiges wat die voorbeeld van die apostels volg.

Na die verstommende verhaal van Saulus se bekering en begin-bediening, keer Lukas terug na Petrus wat die volgende grens sal oorsteek, dié na die heidene. Om ons voor te berei daarop vertel Lukas eers twee episodes in sy lewe waar die krag van die Here op ‘n besondere wyse deur hom gewerk het.

Lukas gee ons insig in Petrus se eie sendingreise. Dit is iets wat ‘n mens natuurlik van ‘n apostel verwag, omdat hulle taak was om die wêreldwye uitbreiding en vestiging van die evangelie te begelei. Trouens, Petrus se verstaan van sy bediening is dat hy vir die nasies geroep is (Hand 15:7; vgl ook Hand 8:14). Soos ons dit ook van al die ander apostels uit die kerkgeskiedenis weet.

Die Here gebruik hier vir Petrus om ‘n verlamde, Eneas, te genees en ‘n dooie, Tabita (Dorkas) uit die dood op te wek. Let op hoe hierdie wonders telkens ‘n teken van God se grootheid is, en tot geloof lei onder dié wat dit aanskou of daarvan hoor. Soos Jesus dit gedoen het (Mark 5:40), stuur Petrus in die geval van Tabita almal uit, voordat sy genees word. Die wonder het ook ‘n groot effek op die gemeente, dws die gelowiges self, nie net op die buitestaanders nie. God ontferm Hom nie net oor die buitestaanders nie, maar ook sy eie mense.

Dat Petrus hier by ‘n leerlooier gebly het, is baie betekenisvol in die lig van die gebeure met Kornelius wat in die volgende hoofstuk vertel word. Leerlooiers was deur die Jode as onrein beskou, wat beteken dat Petrus alreeds eintlik ‘n grens begin oorsteek het na mense wat met “onrein” dinge besig is. Hierna sou hy die grens oorsteek na mense wat deur die Jode as “onrein” beskou is.

Boodskap en betekenis

Handelinge 9 is ‘n keerpunt in die geskiedenis van die vroeë kerk, wat die radikale bekering van Saulus en sy roeping as apostel van die heidene beskryf. Saulus se onmiddellike verkondiging van Christus bring hoop aan sommige en vyandskap by ander, terwyl Barnabas se voorspraak hom in die gemeenskap van gelowiges integreer. Intussen wys Petrus se bediening deur wonders en genesing op die voortgaande werk van Christus deur die Heilige Gees. Hierdie hoofstuk beklemtoon dat God sy kerk bou, deur vervolging, wonderwerke, en die voorbereiding van sy mense om nuwe grense oor te steek.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar