Skip to main content

Spreuke 14:1-35

Soos God vir ons ‘n toevlug is, so skep ons integriteit veilige ruimtes vir ander

Spreuke 14:1-2

Vers 1 kontrasteer die wysheid van vroue met ander se dwaasheid. Meer letterlik vertaal: “Die wysheid van vroue bou haar huis, die dwaasheid breek dit eiehandig af.” ’n Mens kan wysheid hier metafories verstaan soos in Spreuke 9:1. Óf moontlik as ’n beskrywing van “vroulike wysheid” wat ’n vrou in staat stel om ’n tuiste te skep. Vers 2 leer ons dat ’n opregte lewe bewys dat jy vir God ontsag het. ’n Perverse morele lewe bewys dat jy God minag, maak nie saak wat jy sê nie. Jou gedrag openbaar jou geloof.

Spreuke 14:3-4

Spreuke praat in vers 3 oor woorde wat gevolge het. Dwase woorde is soos ’n boemerang wat die dwaas self skade berokken. Dit is daarom dié instrument om ’n dwaas te dissiplineer. Wyse woorde is op teenoorgestelde wyse die instrument om ’n wyse te beskerm. Dit berokken hom geen skade nie. Vers 4 praat nie net oor die ekonomiese voordeel om ’n os te hê teenoor iemand wat dit nie het nie. Dit leer ons ook om te aanvaar dat jy agter ’n os sal moet skoonmaak om die voordeel van ’n groot oes te geniet.

Spreuke 14:5-6

Spreuke waarsku teen leuenagtigheid en ligsinnigheid. Regdeur Spreuke word die destruktiewe effek van die bedrog van leuens uitgewys. Dit stook rusie tussen broers (vgl Spr 6:19; 24:28). Dit maak alles vals en besoedel jou karakter (vgl Spr 12:17; 14:25). Dit bring jou in die moeilikheid vgl (Spr 19:5,9; 21:28).

Leuens is soos ’n knopkierie waarmee jy iemand slaan, of ’n swaard waarmee jy iemand steek, of ’n skerp pyl waarmee jy iemand skiet (vgl Spr 25:18). Ligsinnigheid is net so erg (vgl Spr 13:1). Dit dui op iemand wat met geen respek praat van ander en wat vir hulle belangrik is nie.

Spreuke gebruik die woord “spotter” vir so iemand. Dit is iemand wat spot met wat vir ander heilig is; wat wysheid op ’n arrogante, siniese manier minag. Hulle het geen waardering vir wyse woorde nie, ook nie dié van teregwysing nie. Die tragiese gevolg is dat ’n spotter soms vir wysheid sal soek, maar dit nie vind nie. Terwyl ’n wyse baie maklik kennis bekom.

Spreuke 14:7-8

Spreuke waarsku teen dwase as vriende, want jy sal niks by hulle leer nie. Wysheid is soos ’n kompas wat die regte koers aandui (vgl Spr 21:29 – Eerlikheid hou jou op daardie pad). Dwaasheid is misleidend. Dit mislei selfs die dwaas.

Spreuke 14:9-10

Vers 9 kan letterlik vertaal word as: “Elke sot spot met sondeskuld; Opregtes geniet genade.” Dit beteken aan die een kant, dwase is glad nie bekommerd oor watter verkeerde dinge hulle doen nie: “The stupid ridicule right and wrong.” (The Message). Aan die ander kant, opregtes wil graag die regte ding doen, en geniet God se genade: “A moral life is a favored life.” (The Message).

Vers 10 sê dat niemand anders regtig jou diepste gevoelens kan verstaan of deel nie. Gevoelens – bitterheid en vreugde – is baie persoonlik. Die laaste deel van die vers kan ook só verstaan word dat jy net iemand se vreugde sal verstaan as jy nie ’n vreemdeling vir hom of haar is nie, anders sal jy: “’n buitestaander wees by hulle blydskap.”

Spreuke 14:11-12

Vers 11 kontrasteer in die oorspronklike teks op figuurlike wyse die huis van die goddelose met die tent van die opregte. Huis en tent word soms uitruilbaar in die Bybel gebruik (Job 8:8-22), maar hier lyk dit asof dit gekontrasteer word. Die huis van die goddelose – sy nageslag – sal verdelg word, al lyk dit oënskynlik onbeweeglik vas (vgl Jesus met die twee metafore van die huis op die rots en die huis op die sand – Matt 7:24-27). Die tent van die opregte – sy nageslag – sal floreer soos ’n boom met nuwe bloeisels en nuwe groei, al lyk dit oënskynlik meer uitgelewer aan die storms van die lewe.

Vers 12 waarsku jou soos in Spreuke 3:6 om nie jou eie oordeel te gebruik of ’n pad reg of verkeerd is nie, maar jou leiding van die Here en sy Woord te ontvang (vgl Spr 16:25 vir dieselfde spreuk). Anders beland jy nie net in die moeilikheid nie, maar in die dood (die Griekse vertaling, die LXX of Septuaginta, vertaal dit met Hades, dws doderyk of ewige dood).

Die vers herroep die verraderlike pad van die slegte vrou (vgl Spr 5:3-6; 7:25-27), maar word meer algemeen bedoel (vgl Ps 1). Dit is net ’n dwaas wat dink dat sy pad altyd reg is (vgl Spr 12:15), wat dink dat kortpaaie werk (vgl Spr 15:19), of wat dink dat wyse raad geïgnoreer kan word (vgl Spr 13:14). Die belangrike is nie wat jy self dink oor jou lewe nie, maar hoe God daaroor oordeel.

Spreuke 14:13-14

Vers 13 is eerlik oor die bitter-soet relatiwiteit van vreugde en hartseer. Jy kan lag met ’n traan. Jou vreugde kan in smart eindig. Dit is waarom vers 14 so belangrik is. ’n Afvallige (’n onbetroubare mens wie se hart wegdraai van die Here, ’n “backslider”, iemand met ’n “wayward heart”, soos die oorspronklike daarvan praat) kry sy verdiende loon. Hy is uiteindelik alleen, sonder God, terwyl ’n goeie mens – een wat sy vertroue op God plaas – versadig word in sy teenwoordigheid (vgl ook Spr 9:12).

Spreuke 14:15-16

Vers 15 kontrasteer onkunde met onderskeiding. ’n Intellektueel of moreel naïewe persoon glo alles wat gesê word sonder om dit te verifieer. ’n Verstandige persoon oorweeg egter nie net die woorde nie, maar elke stap wat hy of sy gee. Vers 16 kontrasteer die wyse en die dwaas. Die wyse vrees die gevolge van die kwaad en draai weg daarvan. Die dwaas ignoreer alle grense in roekelose selfversekerdheid.

Spreuke 14:17-19

Vers 17 verkondig die algemene waarheid dat opvlieënde, driftige mense maklik dwaas optree. Hulle doen voor hulle dink. Hulle reageer op hulle emosies nie op die feite van ’n saak nie. Maar, agterbakse slinkse mense is eintlik nog slegter af, want mense haat hulle slinkse skemas. Vers 18 brei op die spreuk van vers 15 uit en kontrasteer weer onkunde met onderskeiding. ’n Onkundige versamel dwaashede as erfenis. ’n Verstandige versamel kennis van wat reg en wat verkeerd is as nalatenskap. Vers 19 kontrasteer slegtes en goddeloses met goeies en regverdiges. Goeies en regverdiges dwing respek af by slegtes en goddeloses, selfs al is dit onwillig of onbewustelik. Dit het ’n invloed selfs in die publieke arena. Dink aan die slegte Haman wat voor die opregte Mordegai moes buig (Ester 6:11).

Spreuke 14:20-21

Spreuke wys vir ons hoekom ’n mens die Bybel altyd in konteks moet lees. Lees jy net vers 20 op sy eie sal jy dink dat om armes te haat, reg is, en dat jy ten alle koste ryk moet word sodat jy baie vriende kan hê. Maar, as jy dit saam met vers 21 lees, kom jy agter hoe verkeerd só ’n interpretasie is. Dit is sonde om jou naaste te verag, sê Spreuke, maak nie saak wat sy lewensomstandighede is nie. Let ook op dat vers 21 nie sê dat deernis met ellendiges jou regverdig maak nie. Nee, deernis maak jou gelukkig! Vers 20 is dus ’n beskrywing van die normale toedrag van sake in die samelewing. Vers 21 is die kritiek daarop, en wys die weg van deernis vir jou aan. “It’s criminal to ignore a neighbor in need, but compassion for the poor—what a blessing!” (The Message). Vers 31 sal nog terugkom hierop en deernis met armes in ’n geestelike konteks plaas.

Spreuke 14:22-24

Vers 22 kontrasteer twee maniere van leef. Bose planne laat jou verdwaal. Goeie planne laat jou liefde en trou geniet. Vers 23 kontrasteer werk met woorde. Harde werk bring beloning. Blote woorde is net warm wind. Vers 24 kontrasteer wysheid met dwaasheid. Die Here beloon wysheid met welvaart. Dit is dieselfde boodskap as in Spreuke 8:18 waar van die wysheid gesê word: “Welvaart en eer is by my, bestendige rykdom en geregtigheid.” Rykdom is per slot van sake die Here se domein. Dit is Hy wat ryk maak (Spr 10:22). Maar, vir die dwaas lewer sy sotheid net sotheid op. Soos Spreuke 27:22 sê: “Selfs as jy ‘n sot tussen garskorrels in ‘n stampblok stamp met ‘n stamper, sal sy sotheid nie van hom wyk nie.”

Spreuke 14:25

Spreuke kontrasteer waarheid (ʾĕmet) en valsheid (mirmâ) in ’n regsomgewing: “’n Betroubare getuie red lewens. Hy wat leuens versprei, is vals.” ’n Onkreukbare, eerlike getuie is goud werd wanneer jy valslik aangekla word. Iemand wat bereid is om leuens “uit te blaas” (letterlik in die Hebreeus) vir jou saak, kan egter net sowel teen jou draai. Want, leuens besoedel jou hele menswees. Jy raak vals. Trouens, jy is vals, sê Spreuke. Soos Derek Kidner opmerk: “A man who will trim the facts for you will trim them as easily against you; and a career or a life may hang on a word.”

Spreuke 14:26-27

Spreuke fokus regdeur sterk op die “vrees van die Here.” Die frase word 22 keer in Spreuke gebruik (ek gee ’n lys van verwysings aan die einde as jy dit wil nagaan). Dit is die mees fundamentele basis van die wysheid. Wysheid lê nie in ons denke nie. Wysheid lê nie in die filosofie, godsdiens of wetenskap nie. Dit lê selfs nie in wat ons doen nie. Wysheid lê in die “ontsag” vir God. Wanneer jy Hom vrees, begryp jy die sin en betekenis van die lewe. Weet jy wat reg is, en wat verkeerd. Weet jy wat om te dink en doen.

Vers 26 wys hier op die sterk sekerheid en vertroue wat ’n mens vind in die vrees vir die Here. Dit is ’n toevlug (soos ’n fort) vir jouself en jou kinders. Vers 27 wys op die vrug van die vrees van die Here. Dit is ’n fontein van die lewe wat jou help om die strikke van die dood (of dodelike strikke) te ontwyk (vgl Spr 1:7; 1:29; 2:5; 3:7; 8:13; 9:10; 10:27; 13:13; 14:2; 14:16; 14:26; 14:27; 15:16; 15:33; 16:6; 19:23; 22:4; 23:17; 24:21; 28:14; 29:25; 31:30).

Spreuke 14:28-29

“Solidary splendour is self-extinguishing.” (Kidner). Getalle maak saak in die wêreld van konings, sê vers 28. Soos vers 17 al gesê het, opvlieënde driftige mense tree maklik dwaas op. Hier in vers 29 word lankmoedigheid daarmee gekontrasteer. Geduld is in wese verstandig. Dit keer dat jy dwaas optree.

Spreuke 14:30-31

Vers 30 kontrasteer die liggaamlike gevolge van innerlike beheerstheid of onbeheerstheid. ’n Kalm hart (“composed heart”) hou jou liggaam gesond. Naywer – ’n begeerte na iets wat buite jou bereik is – vreet jou van binne-af op (vgl Pred 4:4; Job 5:2: “onbeheerstheid”).

Interessant, dieselfde woord (qinʾâ) word gebruik in ’n positiewe sin as jy ’n “ywer” het vir iets wat goed en reg is (vgl 2 Kon 10:6; Hoogl 8:6). Dit word selfs vir God se begeerte na sy mense gebruik (vgl 2 Kon 19:31: “sy onverdeelde trou”).

Vers 31 kontrasteer die geestelike gevolge van jou gedagtes oor en gedrag teenoor armes en behoeftiges. As jy ’n arme verdruk (uitbuit, verontreg of selfs beledig), vervloek jy sy Maker. As jy ’n behoeftige genadig is (jou “gratis” oor hom ontferm, vriendelik behandel, veral as hy jou nie kan terugbetaal nie) eer jy God.

Spreuke 14:32-33

Vers 32 kontrasteer die goddelose en die regverdige in terme van hulle uiteinde. Die goddelose se boosheid haal hom in en laat hom ondergaan. Die regverdige het ’n toevlug in sy dood, ’n verskuilde manier om oor die ewigheid te praat. Vers 33 in die 1983-vertaling moet eerder soos volg vertaal word: “Wysheid rus in die hart van ’n verstandige; selfs onder dwase sal dit bekend raak.”

Spreuke 14:34-35

Vers 34 kontrasteer geregtigheid en sonde. Waar leiers en die gemeenskap fokus daarop om God se wil in alles te doen, trek almal voordeel daaruit. Die nasie word verhoog onder die nasies. Waar sonde egter toegelaat word om onbeperk vastrapplek te kry, word dit as ’n skande gereken onder al die nasies. Vers 35 kontrasteer die onderdane van ’n koning. Dié wat verstandig optree, geniet die guns van die koning. Dié wat skandes maak, kom onder sy oordeel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…