Skip to main content

Spreuke 6:20-7:27

Pasop vir owerspel

Spreuke 6:20-26

Die pa bou in die “negende lewensles” aan sy seun voort op die opdrag in Deuteronomium 6:7 dat ouers hulle kinders die gebooie van God moet onderrig te alle tye, selfs as hulle gaan slaap en as hulle opstaan.

Let op hoe God se woorde hom dan sal begelei en besig hou; selfs in sy slaap oor hom die wag sal hou. Gehoorsaamheid aan God se gebooie sal dus keer dat hy val vir die slegte vrou – prostitusie – of vir ’n vreemde vrou, dws ‘n ander man se vrou – owerspel (vers 24). Dit sal sy lewe vrywaar van armoede en die dood.

Let op hoe die familie as konteks vir die voorskrif van die pa geskilder word. Die seun moet ook luister na sy moeder se raad. Die gevolge van sy gehoorsaamheid word eers in positiewe terme uitgespel. Sy ouers se voorskrifte is ‘n lig op die pad na die lewe toe.

Spreuke 6:27-35

Die pa fokus dan op die gevolge van losbandigheid (seks buite die huwelik) en owerspel (seks met ‘n getroude vrou) op die oortreder self. Die pa gesels baie oop en eerlik met sy seun oor wat die pa as ’n potensieel baie plofbare probleem vir sy seun beskou. Owerspel en losbandigheid is nie speletjies nie! Dit kan jou jou lewe kos.

Let op hoe owerspel (seks met ’n ander man se vrou, dws ‘n getroude vrou) deur die pa as ’n baie ernstiger probleem as losbandigheid (seks buite die huwelik) geskilder word, hoewel dit ook steeds afgewys word. Die pa spel vier moontlike gevolge van owerspel uit: straf, armoede, verwerping en die dood.

  • Spreuke 6:27-29 – Jy kan gestraf word as jy met ‘n ander man se vrou lol. Met treffende beelde word die problematiek van owerspel geskets. Jy sal jou voete verbrand as jy met haar lol. Dit sal wees asof jy op kole probeer loop. Dit kan lei tot ‘n straf deur die gemeenskap waarvan jy nie vry sal kom nie.
  • Spreuke 6:30-31 – Owerspel kan jou alles kos wat jy besit. Dit kan jou alles kos wat jy besit, omdat jy as ‘n dief gereken sal word.
  • Spreuke 6:32-33 – Die skande kan jou lewe in die gemeenskap verwoes. Jy sal verwerp word deur almal wat die regte pad wil loop.
  • Spreuke 6:34-35 – Owerspel kan jou jou lewe kos. Die woede van die vrou se man kan jou jou lewe kos.

Spreuke 7:1-5

Let op hoe in die “tiende lewensles” van die pa aan sy seun hy die seun leer dat dit sy eie verantwoordelikheid is om die woorde en gebooie – die dinge wat die pa hom leer – toe te laat om sy hele lewe te vul. Sy pa se onderrig moet sy oogappel wees, ’n strikkie aan sy vinger, so bekend soos ’n suster, want dan sal hy die versoekings van die verleidelike vrou kan weerstaan.

Dit beteken dat weerstand teen versoeking kom wanneer wysheid jou metgesel is, wanneer insig jou gedagtes volmaak, wanneer opvoeding deel van jou lewe geraak het.

Die opvoeding van jou ouers en ander rolmodelle moet dus van ‘n eksterne voorskrif in ‘n interne oortuiging verander wat nie net vir jou ‘n morele kompas verskaf nie, maar die integriteit van jou gedrag bepaal. Die geveg teen immoraliteit word nie in die hitte van die stryd gewen nie, maar in die toegewyde voorbereiding vooraf.

Onthou, die verleidelike vrou beeld nie net werklike seksuele versoekings uit nie, maar ook die misleiding van menslike wysheid (vgl 1 Kor 1:12-13).

Spreuke 7:6-23

Die pa dramatiseer die pad van verleiding.

Die slagoffer is ’n willose slaaf van sy begeertes.

Die verleidster is ’n meester om haar doel te bereik. Haar taktiek tot op die fynste detail uitgewerk. Trek sy aandag, vertel ’n storie, gooi ’n geestelike sousie oor, laat hom spesiaal voel, stimuleer sy verbeelding met haar voorstelle, belowe dat niks hiervan sal uitlek nie … en hy val daarvoor soos ’n voël vir ’n net.

En dit kos hom sy lewe, want die wet het die doodstraf vir losbandigheid en owerspel voorgeskryf (vgl Lev 20:10; Deut 22:22).

Spreuke 7:24-27

Die pa spel op drie maniere vir al sy seuns die beskikbare verdediging teen die verleidster uit. Dit is drieledig:

  1. beskerm jou gedagtes (dit is waarop “hart” in Hebreeus dui),
  2. vlug weg (moenie op haar paaie ronddwaal nie, ook nie op die Internet nie!),
  3. hou in gedagte hoeveel mense al daardeur in die ongeluk gekom het.

Spreuke 7 voltooi dus daarmee die tiende en laaste les van die pa aan sy seun(s) – dws al sy kinders. Hier is ’n handige opsomming van die tien lewenslesse:

  1. Luister na jou ouers – Spreuke 1:8-19;
  2. Soek wysheid met gespitste ore – Spreuke 2:1-22;
  3. Vertrou God en ken Hom in alles – Spreuke 3:1-12;
  4. Leer by rolmodelle wat ‘n ryk en vol lewe behels – Spreuke 3:13-35;
  5. Neem jou ouers se opvoeding ter harte – Spreuke 4:1-9;
  6. Kies die pad van wysheid – Spreuke 4:10-19;
  7. Hou koers deur te fokus op jou binnekant en jou bakens – Spreuke 4:20-27;
  8. Bly weg van hartelose verhoudings en leef met oorleg – Spreuke 5:1-6:19;
  9. Pasop vir owerspel – Spreuke 6:20-35;
  10. Pasop vir losbandigheid – Spreuke 7:1-27.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…