Skip to main content

Sefanja 2:1-3:8

Kom tot inkeer nasies voor die Here se gloeiende woede julle inhaal

Die oordeel oor die nasies word in hoofstuk 2-3 uitgespel. Waar hoofstuk 1 net die oordeel oor Juda eksplisiet uitgespel het, word alle nasies nou ingesluit. Die oordeel oor die nasies sluit natuurlik steeds die oordeel oor Jerusalem in en strek tot by Sefanja 3:8 voor die verlossing vir die oorblyfsel aan die orde gestel word in Sefanja 3:9-20.

Let op hoe kunstig dit saamgestel is:

  • Sefanja 2:1-3 – Oproep tot bekering
    • Sefanja 2:4-7 – Teen die Filistyne in die weste (9 reëls)
      • Sefanja 2:8-11 – Teen Moab/Ammon in die ooste (9 reëls)
        • Sefanja 2:12 – Teen Kus in die suide (1 reël)
      • Sefanja 2:13-15 – Teen Assirië in die noorde (9 reëls)
    • Sefanja 3:1-5 – Teen Jerusalem in die middel (9 reëls)
  • Sefanja 3:6-8 – Weiering om te bekeer

Sefanja 2:1-3 – Oproep tot bekering

Die oproep tot bekering word waarskynlik net aan Juda gerig. Vers 1 praat in die enkelvoud van die nasie. Dit word verder ondersteun deurdat Sefanja 3:6-8 net ná die oordeel oor Jerusalem in Sefanja 3:1-5 geplaas word. Jerusalem se weiering om hulle te bekeer, selfs al het hulle die oordeel van die Here oor die ander nasies gesien, word daarom téén hulle gehou.

Sefanja roep die volk op om hulle reg te ruk voordat die besluit voltrek word om hulle te oordeel. Die dag van die Here sluit die geleentheid tot bekering in. “Vra na die wil van die Here … Streef na geregtigheid, na nederigheid.” Dit is Sefanja se weergawe van Miga 6:8 se opsomming van wat die Here verwag. Miskien is daar vir hulle uitkoms.

Sefanja 2:4-7 – Teen die Filistyne in die weste

Vier van die stede van die Filistyne aan die westekant van Juda word genoem: Gasa, Askelon, Asdod, en Ekron. Oor hulle almal, ook dié wat van Kreta onder hulle kom woon het, voorspel Sefanja die oordeel van die Here. Hulle sal ekonomies geruïneer word, en interessant genoeg, die eiendom van Juda word wanneer die Here uiteindelik die lot van sy volk verander.

Sefanja 2:8-10 – Teen Moab/Ammon in die ooste

Die oordeel word ook oor die Moabiete en Ammoniete aan die oostekant van Juda uitgespreek, die nageslag van Lot, broerskind van Abraham. Die minagting en disrespek vir Juda se grondgebied word as primêre rede vir die Here se gramskap teen hulle aangegee. Daarmee het hulle die Here self geminag. Hulle sal ook ekonomies geruïneer word en die eiendom van Juda word wanneer die Here die lot van sy volk verander.

Sefanja 2:11-12 – Teen die kusstreke sowel as Kus in die suide

In ‘n kort oordeelsuitspraak word ook die mense wat in die kusstreke bly sowel as die Kussiete in die suide deur die Here aangespreek. Die Here laat hulle afgode tot niet gaan en almal slegs Hom aanbid, elkeen op sy eie plek.

Sefanja 2:13-15 – Teen Assirië in die noorde

Die fokus skuif na die noorde en die groot bedreiging van Assirië en Nineve. Ook hulle sal tot ‘n einde kom. Nineve sal verwoes word: “Pelikane en uile sal op die stad se mooi pilare slaap, die wind sal deur die vensters huil.” ‘n Droewige prentjie.

Sefanja 3:1-5 – Teen Jerusalem

Ellende wag ook vir Jerusalem wat teen die Here opstandig is en besoedel is deur verdrukking. Hulle vertrou nie op die Here nie. Amptenare, regters, profete en priesters is net op eie gewin uit. Net die Here doen nie onreg in dié stad nie! Vir dié wat dit kan hoor: “Hy gee môre vir môre sy beslissing; sy beslissing bly nie een dag uit nie.” Die Hebreeuse woord wat hier met beslissing vertaal word, is geregtigheid. Die Here is dus onverpoosd besig om die reg te handhaaf, vir dié wat bereid is om daarna te luister.

Sefanja 3:6-8 – Weiering om te bekeer

En tóg, selfs al het die Here vir Jerusalem gewys dat Hy vertrou kan word, wil hulle nie vir Hom ontsag hê nie. Hulle: “het gretig bly sondig.” Daarom sal die oordeel oor hulle voltrek word.

Boodskap en betekenis

Die Here is nie net geïnteresseerd in die nakoming van die wet nie, hoewel dit natuurlik ook deel van sy opdrag aan ons is. Wat veral opval in sy oordeel oor die volk is dat dit kom vanweë hulle weiering om Hom te raadpleeg. Hy vra van sy mense, trouens van alle mense: “Vra na die wil van die Here … Streef na geregtigheid, na nederigheid.” Hoekom? Want God sal antwoord: “Hy gee môre vir môre sy beslissing; sy beslissing bly nie een dag uit nie.

Om die Here te dien en sy goedkeuring en guns weg te dra, is dus eintlik baie eenvoudig. Ken Hom in alles wat jy doen. Vra van Hom wat sy wil is. En gaan voer dit in nederigheid uit. Dít is die pad van seën wat ‘n mens net tot jou skade ignoreer.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar