Skip to main content

Handelinge 22:30-23:35

Paulus verkondig die evangelie aan die Sanhedrin in Jerusalem

Die Romeinse offisier, Claudius Lisias, besluit om duidelikheid te kry oor die redes vir die opstandigheid teen Paulus en bring hom voor die Sanhedrin, die Joodse Raad. Dit eindig in chaos weens die verskille tussen die Sadduseërs en die Fariseërs oor die opstanding. Hulle sweer egter saam in ‘n komplot teen Paulus met die doel om hom om die lewe te bring. Dit open die verdere deur vir Paulus, om weliswaar in gevangenisskap in Caesarea, sy getuienis voor Feliks, Festus en Herodes Agrippa II te lewer. Die Here Jesus, die Een wat agter alles die toutjies trek, verskyn in die proses aan Paulus om hom moed in te praat, want hy sal uiteindelik tot in Rome sy getuienis lewer.

Teks en konteks

Waar Paulus met sy aanvanklike gevangenisskap nog die volk probeer oortuig het van die waarheid van die evangelie, en hy selfs die offisiere op sy regte gewys het as Romeinse burger om ’n regverdige verhoor te kry, wat ironies genoeg natuurlik ook voorkom dat die offisiere hulle eie wette oortree, is dit duidelik dat Paulus vreesloos is vir die Joodse Raad.

Hy lewer ’n sterk getuienis vir sy onkreukbaarheid in terme van sy Joodse agtergrond, waarop die hoëpriester Ananias hom sonder provokasie laat slaan. Paulus se skerp woorde aan hom as ‘n “witgekalkte muur” (vgl Jesus met soortgelyke woorde aan die Fariseërs – Matt. 23:27; vgl. ook Eseg. 13:10-12) word opgevolg met waarskynlik ‘n ironiese aanhaling uit Eksodus 22:28 (“Jy mag nie sleg praat van ‘n leier van jou volk nie”) wat die skynheiligheid van die hoëpriester verder ontbloot, want ‘n ware leier sou nie só ‘n opdrag gee nie.

Daarna gooi Paulus die spreekwoordelike kat in die hoenderhok met sy opmerking oor sy geloof in die opstanding, wat die faksies in die Joodse Raad, Sadduseërs en Fariseërs, ontbloot en teen mekaar laat draai.

Let op dat die Here Jesus weereens persoonlik aan Paulus verskyn om hom moed in te praat en die belofte/opdrag gee dat Paulus hierdie getuienis tot in Rome sal bring, die sesde fase van die uitbreiding van die evangelie in die boek Handelinge.

Die gekonkel van die Joodse Raad duur voort, soos vroeër met Jesus, en hulle smee ’n komplot teen Paulus wat gelukkig deur die seun van Paulus se suster gefnuik word. ’n Mens wonder hoe die seun in ’n posisie was om die inligting te bekom, maar, hoe dit ook al gebeur het, dit loop uit op die beskerming van Paulus se lewe en hy word onder sterk begeleiding na Feliks, die goewerneur, in Caesarea gestuur. Uit die brief aan Feliks kom ons agter dat die offisier se naam Claudius Lisias was.

Dit is natuurlik ‘n bedekte seën, want Paulus het met sy reis na Jerusalem juis hier aangedoen en is baie goed deur die plaaslike “dissipels”, onder andere Filippus, een van die “sewe”, ondersteun soos ons in Handelinge 21 gesien het.

Boodskap en betekenis

In hierdie gedeelte sien ons hoe die Here menslike onreg en selfs bose komplotte inspan om sy eie doel met Paulus se lewe te bereik. Regdeur trek Hy die toutjies, en in die proses bemoedig die Here Jesus self ook vir Paulus met ‘n persoonlike verskyning, en gee hom die ondersteuning van die plaaslike gemeente in Caesarea. Die Here is in staat, selfs deur komplotte en menslike intriges heen, om sy verlossingsplan om die evangelie tot aan die eindes van die aarde te versprei, tot vervulling te bring.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar