Skip to main content

2 Tessalonisense 3

Gebed en selfvoorsiening is noodsaaklik vir die verspreiding van die evangelie

Paulus sluit sy boodskap aan die Tessalonisense af met ‘n fokus op die noodsaaklikheid van gebed vir die verspreiding van die Woord (2 Tess. 3:1-5). Daarby sal selfvoorsiening help dat hulle nie in mag van ander sal kom nie (2 Tess 3:6-18). Paulus was vir hulle ‘n uitstekende voorbeeld deurdat hy vir homself gesorg het terwyl hy die evangelie onder hulle verkondig het.

Teks en konteks

Gebed laat die Woord versprei – 2 Tessalonisense 3:1-5

Die Bose is natuurlik nie net beperk tot die persoon van die Satan self of die wetteloosheid wat aan die werk is in die wêreld nie. Verkeerde mense (letterlik: mense wat uit plek uit is!) en slegte mense kom ook in die geledere van die gemeente voor: “nie almal is gelowiges nie.”

Interessant is Paulus se voorskrif nie is dat sulke mense uitgesnuffel moet word en uit die gemeente geban moet word nie. ’n Mens kan natuurlik lelike foute op dié manier begaan, soos Jesus al met die gelykenis van die koring en die onkruid geleer het (Matt. 13:24-30).

Paulus skryf eerstens gebed voor vir die huidige werkers in die wingerd van die Here en tweedens dat die Here die gemeente sal suiwer. Dit is na alles God wat ons van die Bose bewaar (vgl die Ons Vader gebed in Matt 6:13) en wat ook die onderskeid tussen gelowiges en ongelowiges duidelik sal laat word.

Paulus se voorskrif tot gebed ook vir die werkers herinner aan Jesus se opdrag in Lukas 10:2: “Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.” Maar die Woord word nie net deur die volgehoue arbeid van geestelike werkers versprei nie, maar spesifiek ook deur die gebede van die gemeente vir die bestaande werkers, in dié geval Paulus-hulle.

Vers 5 spoor die gemeente aan om aan die een kant God se liefde vir hulle te onthou. Dit sal hulle versterk. Maar Hy hou ook die voorbeeld van Christus voor, spesifiek sy volharding. Dit sal hulle moed gee om hulle eie geloofswedloop te voltooi.

2 Tessalonisense 3:6-18 – Verdien jou eie brood

Paulus moedig die Tessalonisense aan om nie leeg te lê nie, maar hulle eie brood te verdien, soos Spreuke 14:23 ook sê: “Harde werk bring beloning; om net te praat, bring gebrek.” Dit bring natuurlik nie net voordeel vir hulleself nie, maar ook vir die koninkryk. Hierin kan hulle Paulus se voorbeeld volg, wat self vir sy eie brood gewerk het in Tessalonika, al kon hy eintlik sy reg as apostel uitgeoefen het om van hulle voorsiening gebruik te maak.

Sy opdrag aan die gemeente om hulle aan leeglêers te onttrek kan moontlik die eerste riglyne vir die toepassing van sensuur in die Christelike kerk wees. Dit is ook interessant dat die doel is om die oortreder terug te wen deur hom skaam te maak. Dit moet egter nie in ’n vyandige gesindheid geskied nie, omdat dit die saak van die evangelie sou skaad (vgl Jesus se riglyne in Matteus 18).

Paulus sluit die brief af met ’n bemoediging tot volharding in goed doen, sowel as ’n seënbede, in sy eie handskrif, ‘n bewys aan hulle dat hy die brief geskryf het.

Boodskap en betekenis

Paulus sluit sy brief af met ’n dringende oproep tot gebed en selfstandigheid in die gemeente. Gebed is die dryfkrag agter die verspreiding van die evangelie – nie net vir nuwe werkers nie, maar vir die volgehoue bediening van bestaande arbeiders. Die gemeente word aangemoedig om vas te hou aan God se liefde en Christus se volharding, sodat hulle nie moeg word om goed te doen nie.

Terselfdertyd waarsku Paulus teen leeglêery en afhanklikheid van ander. Selfvoorsiening is nie net ‘n persoonlike deug nie, maar ’n manier om die evangelie geloofwaardig te verkondig en die gemeente van wanorde te beskerm. Paulus stel nie vervolging of verwerping van lede voor nie, maar eerder wyse tug met die doel van herstel.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar