Eksodus 28

Die priesters se klere dra die boodskap van gesag en toewyding

Teks en konteks

Volgende aan die beurt is die instruksies aan Moses om sy broer Aäron en sy seuns, Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar aan te stel om die Here as priesters te dien. God se roeping van dié familie moet dus bevestig word deur die formele aanstelling soos ons in Eksodus 39:1-31 sal lees. Die instruksies fokus veral op die uiterlike reiniging en kleredrag wat in die diens van die Here nodig sou wees.

Die feit dat dieselfde tipe kosbare materiaal voorgeskryf word vir die klere as wat in die bou van die tabernakel gebruik sou word, dra die boodskap dat die priesters se hele lewe gestempel word deur die heiligheid wat aan God se woonplek op aarde verbind word. Hulle gesag lê in God se roeping en in die toewyding aan sy instruksies vir die lewe.

Dit is verder opmerklik hoeveel simboliek daar in die detail van die klere en toebehore aanwesig is, onder andere deur die verbande wat gelê word met ander dele van die Skrif in die detail van bv. die edelgesteentes en die blom op die tulband van Aäron. Dit stimuleer ‘n mens se verbeelding as ‘n mens agterkom dat bv. die edelgesteentes wat hier gebruik word beide aan die onskuld van die tuin van Eden sowel as aan die herstelde skepping van die nuwe Jerusalem herinner. Só ook die blom op die tulband van Aäron wat aan die genade van die NT Hoëpriester, Jesus Christus, herinner. Nie dat al dié verbande op hierdie stadium al toeganklik vir die Israeliete was nie, maar mettertyd in die loop van die heilsgeskiedenis wel dié betekenisse vir ons gekry het.

Daar is agt kledingstukke en toebehore wat beskryf word:

Borssak

Die borssak is geweef van gouddraad en blou, pers en bloedrooi wolstof en linne waarop vier rye edelgesteentes in goud gemonteer is: karneool (rooi kornalyn – BDV), topaas, smarag, turkoois (malagiet – BDV), saffier, jaspis (akwamaryn – BDV), hiasint (barnsteen – BDV), agaat, ametis, chrisoliet, oniks, opaal (jaspis – BDV), een vir elke stam van Israel. Die borssak is gebruik in regsake en simbolies gedra net bó die hart van Aäron.

Daarom is die urim en tummim daarbinne gehou wat op een of ander manier ‘n “ja” of “nee” boodskap gedra het (vgl. Num. 27:21; Deut. 33:8; 1 Sam. 14:41 (LXX); 28:6). Dit was in gebruik tot ná die ballingskap (Esra 2:63; Neh. 7:65). Sommige dink die stene het gegloei na gelang van die antwoord, veral omdat dit soms geen beslissing opgelewer het nie (1 Sam. 28:6). Ander dink dat dit twee verskillende kleure gehad het wat ‘n “ja” of “nee” antwoord verteenwoordig het. Dit word egter nêrens presies beskryf nie, so die gebruik daarvan bly onseker vir ons.

Al die edelgesteentes wat hier genoem word, kom ooreen met die edelgesteentes op die gerub in Eden (Eseg 28) en die twaalf fondamente van die stad van God in Openbaring (Openb 21). Van die name verskil, maar hulle is interessant genoeg almal sogenaamde anisoptropiese edelgesteentes. Dit is edelgesteentes wat nie net hulle eie kleur het nie, maar onder suiwer lig nog meer kleure vertoon.

Interessant is dat daar dus nie isotropiese edelgesteentes gebruik is nie, want wanneer daar suiwer lig op sulke edelgesteentes val, raak hulle swart of grys. Dit is edelgesteentes soos diamante of robyne, wat uiteraard baie waardevol is, maar anders vertoon onder suiwer lig.

Dit is nie iets wat Johannes in die eerste eeu van ons jaartelling sou geweet het nie. Dit is ook nie iets wat Esegiël en Moses nog talle eeue verder terug in die geskiedenis sou geweet het nie. ‘n Getuienis van God se kennis wat allesomvattend is.

Die onskuld van die bestaan in die paradys word daarmee deel van ‘n mens se verbeeldingsvlug dat die edelgesteentes in Eksodus ook die versugting na die sondelose staat in die tuin van Eden voorstel. Die Here word dus met die borssak nie net herinner aan die name van die aartsvaders deur die edelgesteentes nie, maar ook aan die herstel wat nodig is om die geloofsgemeenskap in ‘n onafgebroke verhouding met Hom te bring, iets wat natuurlik in die Openbaring van Johannes verder geneem word.

Skouerkleed (efod)

Die skouerkleed of efod is ook geweef van gouddraad en blou, pers en bloedrooi wolstof en linne, met ‘n gordel van dieselfde materiaal, waaraan twee bande vasgewerk is waarop twee oniksstene vasgemaak is waarop die twaalf name van die stamvaders gegraveer was. Die skouerkleed het die Here aan die stamvaders herinner.

Mantel

Die mantel is geweef van blou wolstof met aan die soom granaatjies van blou, pers en bloedrooi wolstof gemaak wat met goue klokkies afgewissel is. Aäron moes dit dra wanneer hy in die heiligdom in- en uitgaan om sy bewegings aan te kondig.

Tulband

Die tulband is geweef van fyn linne.

Blom op die tulband

Op die tulband was ‘n goue blom waarop die woorde: “Aan die Here gewy”, gegraveer was. Dit het die boodskap gedra dat God se genade genoeg was vir die skuld van die volk. “He’ll take on any guilt involved in the sacred offerings that the Israelites consecrate, no matter what they bring. It will always be on Aaron’s forehead so that the offerings will be acceptable before GOD.” (Peterson, The Message).

Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan die genade van ons Here Jesus Christus, die Hoëpriester by uitnemendheid van die NT, soos Hebreërs so uitvoerig betoog. Dit is immers deur Hom wat die oorvloedige genade van God aan ons verskyn het: “Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie.” (Hebr. 9:11).

Soos Johannes sê: “Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Joh. 1:16-17).

En soos Paulus so roerend betoog: “Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan.” (Rom. 5:2).

Geweefde priesterklere

Die res van die priesterklere is geweef van fyn linne met ‘n gordel.

Serp en kopdoeke

Elkeen het ook ‘n serp en kopdoek gekry wat geweef is van fyn linne.

Linnebroeke

Elkeen het ook ‘n halfmas “onder”-broek van fyn linne gekry wat tot by die bobene gestrek het.

Die priesterlike klere het dus aan die een kant hulle gesag gesimboliseer in die roeping wat die Here hulle gegee het om in sy diens te staan namens en in die plek van die volk. Aan die ander kant het die ooreenkoms van die materiale met dié van die tabernakel die boodskap gedra dat hulle net afgeleide gesag het. Hulle het die Here self by die volk verteenwoordig. “In sum, every article of the sacral vestments made the same point, each with its own specific accent: Yahweh is here, we are his, and we must both know this and show this.” (Durham, Exodus).

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 36:2-38👍
  • Dave on Eksodus 36:2-38Moses was voorwaar 'n baie bevooregte man. Maak mens amper jaloers. Die offers laat my dink....
  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
%d bloggers like this: