Skip to main content

Galasiërs 1

Daar is geen ander evangelie

Die brief aan die Galasiërs word waarskynlik as omsendbrief tussen die eerste en tweede sendingreis geskryf aan die gemeentes in die etnies-geografiese gebied Galasië in die suide van Turkye, juis dié dele waar hy op sy eerste sendingreis die evangelie verkondig het.

Paulus brei veral uit op die kwessie van die besnydenis in voorbereiding vir sy volgende besoek aan die gemeentes omdat die Judaïseerders, die “besnydenis”-party, die gelowiges uit die heidennasies laat twyfel het aan die evangelie wat Paulus aan hulle verkondig het.

Dit tref ‘n mens dat die sentrale boodskap van die Reformasie 16 eeue later duidelik in die brief ingebed lê. Uit die Reformasie is vyf solas gebore waarmee die boodskap daarvan opgesom kan word: Solus Christus (Alleen Christus), Sola fide (alleen deur geloof), Sola scriptura (alleen die Bybel), Sola gratia (alleen uit genade), en Sola Deo gloria (alleen eer aan God).

En dit is wonderlik om juis die samehang van dié sentrale leerstukke van die geloof in Paulus se argumentasie raak te sien. Daarom gaan ek dit as uitgangspunt gebruik vir die indeling van hoofstukke 2-6. Die vyf solas is uiteraard verweef met mekaar, omdat hulle as ’n eenheid verstaan moet word, maar dit gee ons ‘n invalshoek om die boodskap van die brief nuut te kan hoor.

Teks en konteks

Maarten Luther was baie lief vir die brief aan Galasiërs. Hy het daarvan gesê: “Die brief aan die Galasiërs is my lieflingsbrief, aan wie ek my heeltemal toevertrou het. Dit is my Katie von Bora (sy vrou).” (Luther’s Table Talks). Hy was vir hierdie brief aan die Galasiërs selfs meer lief as die brief aan die Romeine wat natuurlik ook ‘n geweldige impak op sy teologie gehad het.

Geen wonder nie, want hierdie brief is ‘n helder verdediging van die ware evangelie teenoor die valse weergawes van die evangelie wat veral van die Joodse “besnydenis”-party versprei het.

Daarom het Paulus van die begin af moeite gedoen om die ware evangelie teenoor die valse en ketterse evangelies te verdedig. Want, hy het geweet, dit gaan nie net oor die suiwerheid van die geloof wat vir die nageslagte oorgedra moet word nie. Dit natuurlik ook. Maar, Paulus het geweet dit gaan oor hierdie mense se ewige bestemming. Dit is hulle verbintenis aan God wat op die spel is. Die evangelie van die Here Jesus Christus het immers mense vanuit hierdie wêreld se boosheid en donkerte kom red om gemeenskap met Hom en sy Vader te hê, soos hy in vers 4 sê. Hulle ewigheid was op die spel.

Voordat hy egter die valse evangelies aan die kaak stel, soos hy in hoofstuk 2 tot 6 gaan doen, en die ware evangelie van Christus, geloof, die Skrif, genade en die eer van God op die tafel gaan sit, het hy eers nodig om die gesag waarmee hy hierdie boodskap bring, te verdedig. En hy doen dit op twee maniere in hoofstuk 1.

  1. Hy verdedig die gesag van sy apostelskap.
  2. En hy verdedig die gesag van die inhoud van die evangelie wat hy verkondig.

Die gesag van Paulus se apostelskap

Paulus verdedig in die eerste plek die gesag van sy apostelskap in hierdie brief, omdat daar mense was wat beswaar gemaak het teen sy verkondiging van die evangelie. Daarom verklaar hy reg aan die begin van die brief: “Ek is … aangestel … deur Jesus Christus en deur God die Vader” (Gal. 1:2). Julle kan julle steur aan wat ek te sê gaan hê, nie net omdat ek die evangelie vroeër aan julle in Galasië verkondig het nie – soos mens in die verhale van Handelinge 13-14 kan lees – maar ook omdat ek aangestel is deur God self om dié evangelie aan julle te verkondig.

En dit is nie net ek wat so sê nie, sê Paulus. Ek kan dit staaf uit die Skrif sowel as uit die goedkeuring wat die kerk in Jerusalem daaraan verleen het. Paulus is dus duidelik daaroor. Sy evangelie kom van God af. Hy kan dit bewys.

Laat dit insink. As jy na Paulus se brief aan die Galasiërs luister, luister jy na iemand wat die evangelie direk van die Here Jesus Christus ontvang het en drie jaar gespandeer het om die openbaring aan hom te verstaan en in sy verhouding met Jesus te groei.

Dít is waarom ons na Paulus se briewe kan luister. Dit is waarom die kerk dit as gesagvol in die kanon ingesluit het. Dit is waarom sy brief gesag het in ons lewens. Ons hoor die woorde van Paulus as die Woord van God. Dit is die lewende stem van God.

 ‘n Mens kan Paulus se gesag toets aan sy roeping

Trouens, Paulus is helder daaroor dat sy roeping tot die evangelie begin voor sy geboorte! Hy is geroep vir die evangelie vóór sy geboorte. Hoekom sou hy dit beklemtoon? Want hy wil beklemtoon dat sy evangelie van God af kom, nie van homself af nie. God het nie gekyk na hoe sy lewe ontwikkel voor Hy hom gekies het nie. God het nie gekyk na sy vermoëns wat geslyp is onder die geoefende oog van sy leermeester Gamaliël nie en toe besluit, hy sal ‘n vangs vir die evangelie wees nie.

Nee, God het Paulus gekies lank voor sy geboorte, sê Paulus aan die begin van sy brief. Dit was God se plan dat Paulus ‘n apostel sou wees. Dit was plan A. Daar was nooit ‘n plan B nie. Dat Paulus ‘n apostel sou word, was dus nooit Paulus se idee nie. Dit was van altyd af God se plan.

Maar dit is nie al nie.

‘n Mens kan Paulus en sy roeping tot die evangelie toets aan die Skrif

‘n Mens kan Paulus en sy roeping tot die evangelie toets aan die Skrif. Paulus sluit hier in vers 15-16 doelbewus aan by twee OT profete se uitsprake.

  • Die een is Jeremia wat op dieselfde wyse as Paulus vóór sy geboorte al geroep is (Jer. 1:5; vgl. ook Jes. 49:1). Soos Jeremia het Paulus sy roeping van God af ontvang. Hy kon daarom nooit iets anders doen as om dié roeping uit te voer nie. Selfs sy aanvanklike teenstand het nie vir God van dié plan laat afwyk nie.
  • Die ander is Jesaja waarvan sy boodskap in Jesaja 49:6 duidelik as een van Paulus se roepingstekste funksioneer, soos hy nog duideliker in Handelinge 13:47 in sy bediening vroeër aan hulle aanhaal: “want so lui die Here se opdrag aan ons: Ek het U gegee as ’n lig vir die nasies, sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.” Hier in Galasiërs verwoord hy dit as ‘n roeping wat God hom gegee het toe Hy besluit het: “om sy Seun aan my te openbaar sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig.” (Gal. 1:15-16).

Dit tref dit my dat hierdie bewussyn van ’n Goddelike roeping so ontsettend belangrik is in die Christelike lewe. “Dat ek ’n apostel is” – en vervang die woord apostel nou maar met enige ander roeping wat God jou gee – “dank ek nie aan mense nie. Ek is ook nie deur ’n mens aangestel nie, maar deur Jesus Christus” (Gal. 1:1-2). God het my voor my geboorte al uitgekies. Ek moet sy Seun aan die heidene verkondig. Glashelder.

Sonder twyfel weet Paulus dit. Sonder hierdie besef kan geen mens hulle werk vir die Here met vertroue, verwagting en veral volharding doen nie.

Hierdie roeping kan baie vorms aanneem. Sommige het ’n roeping na ’n amp (ouderling, diaken, kategeet, jeugwerker, leraar). Ander het ’n roeping rondom ’n gawe (gasvryheid, leierskap, skilder, bemoediging, skryf, omgee). Nog ander het ’n roeping rondom ’n saak (armoede, onreg, misdaad, gesondheid, omgewing, gemeenskap, opvoeding). Die vorm maak nie saak nie. Die verbintenis aan ’n roeping wat God gee, maak egter baie saak.

Maar dit is nie al wat Paulus verdedig nie. Hy is nie net bedag daarop dat hulle sy gesag as apostel erken en aanvaar nie. Ten diepste gaan dit ook oor die inhoud van die evangelie wat hy verkondig, die gesag van Christus self.

Die gesag van die inhoud van die evangelie wat Paulus verkondig

Paulus verdedig dus in die tweede plek ook die gesag van die inhoud van die evangelie wat hy verkondig, omdat daar mense was wat sy weergawe van die evangelie vanuit hulle eie interpretasies en leringe probeer afmaak het. Daar is regtig niks nuuts onder die son nie! Daarom verdedig Paulus nie net sy gesag as apostel nie, want dit sou deur sommige as subjektief verwerp kon word, maar beroep hom op die inhoud van ‘n openbaring van die Here Jesus Christus self: “Jesus Christus het dit in ’n openbaring aan my gegee” (Gal. 1:12). Hy staaf dit deur te verwys na ‘n min of meer drie jaar tydperk waarin hy deur die Here Jesus self onderrig is in die fyner nuanses van die evangelie.

Dit is dus duidelik dat Paulus se evangelie om Christus en om Hom alleen draai. Christus is op die regte tyd aan hom geopenbaar. ‘n Mens kan selfs sê dat Christus nie net aan hom geopenbaar is nie, maar in hom, op grond van sommige se interpretasie van die Griekse frase. Paulus se ervaring by die pad na Damaskus was ‘n dramatiese verandering. Christus het in hom kom woon. Sy hele lewe het daarmee onherroeplik verander.

Dink daaroor na. God se verkiesing voor Paulus se geboorte, soos hy nou alreeds beredeneer het, word ‘n werklikheid as Christus in Paulus kom woon en die sentrum van sy lewe word.

Dit is nie anders vir ons nie!

Dit is nie anders vir ons nie. Ons lewe verander eers as Christus in ons aan ons geopenbaar word, as ons daardeur tot inkeer kom, en tot die besef kom dat Christus die Seun van God is, dat Hy: “Homself ter wille van ons sondes gegee het sodat Hy ons kan red uit die huidige bose bedeling volgens die wil van ons God en Vader.” Vers 4. Wanneer ons besef dat dit God is: “aan wie die heerlikheid toekom vir ewig en ewig! Amen.” Vers 5.

Daar is dus ‘n deurleefdheid en egtheid in die evangelie wat hy verkondig vanuit hierdie direkte onderrig van die Here. Maar, dit sou daarom ook weerklank by die Galasiërs vind, want hulle kon die radikale ommeswaai in sy lewe sien wat gekom het van die ervaring by die pad na Damaskus. Almal het dié storie geken en geweet hoe hy van ‘n vurige vervolger van die evangelie in ‘n vurige volgeling van die evangelie verander het. Sy integriteit was dus bo verdenking.

Meer nog, hy kon die inhoud van die evangelie wat hy verkondig, koppel aan die enigste werklike gesagsbron wat vir die kerk van die eeue gegeld het, die Skrif, die Woord wat God hulle gegee het, die Woord wat die lig op hulle pad en die lamp vir hulle voet was, die Woord waarvan die beloftes hulle deur elke lewensfase en uitdaging begelei het. Hy sal daarom in hierdie brief verder gaan om altesame veertien eksplisiete aanhalings uit die OT te maak om sy evangelie te begrond sowel as ‘n hele paar ander implisiete aanhalings.

Paulus kon dus aanspraak maak daarop dat hy met gesag met hulle kan praat. Hy kon dit doen omdat Hy deur God self aangestel is en dit ook deur die kerk erken en bevestig is. En hy kon dit doen, omdat sy evangelie in oorstemming is met die getuienis van die Here Jesus Christus soos dit begrond is op die Woord van God soos God dit deur die eeue aan die kerk oorgelewer het.

Hieruit leer ons alreeds twee belangrike goed wat ook in ons kerk van belang is. Die gesag waarmee iemand praat, kan getoets word aan die egtheid van hulle roeping en met hoeveel passie hy of sy dit uitvoer. Dit geld leraars en lidmate. En die gesag kan getoets word aan die rol wat die Woord speel in die inhoud van die verkondiging of lering. Dit geld ook leraars en lidmate.

‘n Valse evangelie bring jou ewigheid in die gedrang

Dit is waarom Paulus die inhoud van sy brief in vers 6 nie begin met die gebruiklike lofprysing en waardering vir die getrouheid en geloof van die gemeentes in Galasië nie. Nee, hy val direk weg met ‘n brutale teregwysing: “Ek is verstom dat julle so gou van Hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, wegdraai na ‘n ander evangelie. Daar is nie ‘n ander evangelie nie.

Wat die Galasiërs moet raaksien, is dat die evangelie op die spel is as jy ander weergawes daarvan akkommodeer. Al wat die verskillende weergawes van die evangelie doen, is dat dit die mense “probeer verwar en die evangelie van Christus wil verdraai”.

Diverse toepassings van die evangelie kan nog gaan, is inderdaad noodsaaklik gegewe die diverse mense en omstandighede waarby en waarin die evangelie moet aankom, maar as die evangelie self verdraai en verander word sodat die direkte band met die Skrif nie meer duidelik is nie, dan is jy besig met ‘n ander evangelie. Punt.

Daarom, “selfs as ons of ‘n engel uit die hemel ‘n evangelie aan julle verkondig in stryd met wat ons aan julle verkondig het, laat hom vervloek wees!” Dit kan skaars duideliker en meer direk gestel word. Daar is nie twee maniere om die evangelie te verstaan wat mense: “vanuit die huidige bose bedeling” wil red volgens die wil van God die Vader nie. Enige evangelie wat die huidige bose bedeling wil akkommodeer en kinders van die Here wil help om aan te pas by die wêreld en die begeertes van die wêreld, is ‘n ander evangelie, en nie meer die evangelie van Jesus Christus nie.

Laat hom vervloek wees

Só iemand, iemand wat só ‘n evangelie verkondig, sê Paulus, speel met die evangelie, speel met mense se lewens, verwar en verduister die enigste ware evangelie. Daar is net een woord wat vir só iemand kan geld: “laat hom vervloek wees”.

Die rede vir hierdie brutale teregwysing is dat ‘n ander evangelie, ‘n evangelie wat van Paulus s’n verskil, jou ewigheid in die gedrang kan bring. Daarom is Paulus so direk en brutaal aan die begin van hierdie brief.

Dit is waarom hy met soveel passie skryf oor sy woede oor mense wat gelowiges van die waarheid wil laat afdwaal. Sy woede word met net soveel passie oorgedra as sy vreugde oor die evangelie. Die vloek wat Christus vir ons aan die kruis verwyder het, sê Paulus, by wyse van spreke, moet rus op dié wat die evangelie verander en verwerp.

Hoekom? Want, die hele doel van die evangelie is om jou uit die huidige bose bedeling te red, aangesien hierdie wêreld met al sy skoonheid vasgevang is in die greep van die Bose.

Ons sien dit in die korrupsie en sameswerings van leiers in soveel lande in die wêreld. Ons sien dit in die ongebreidelde losbandigheid van soveel mense in die wêreld. Ons sien dit in die verskonings wat uitgedink word vir wat die Bybel as sonde beskrywe.

Enige evangelie wat jou nie konfronteer met jou eie sonde en afvalligheid nie, enige evangelie wat jou vryspreek sonder om jou afvalligheid aan te spreek, is ‘n evangelie wat nie die toets van Paulus se brief aan die Galasiërs sal deurstaan nie.

Boodskap en betekenis

Elkeen van die volgende vyf hoofstukke in die brief aan die Galasiërs sal uitbrei oor verskillende vals evangelies; evangelies wat jou nie vrymaak van jou sondige denkpatrone nie, wat jou nie vrymaak van jou sondige praktyke nie; evangelies wat jou toelaat om onderskeid te maak tussen gelowiges, of jou eerder op jou eie vermoëns laat staatmaak as op God; evangelies wat jou keer om te leef uit die beloftes van die Skrif, wat jou aanmoedig om die genade te misbruik om sonde te doen; evangelies wat jou eerder laat leef vir jouself, en vir jou eie behoeftes as vir God en jou medegelowiges s’n.

Want:

  • As jy onderskeid maak tussen gelowiges, soos Petrus en Barnabas in Antiogië gedoen het, en dit goedpraat, dan het jy met ‘n ander evangelie te make, soos Paulus in 2 sal argumenteer. Die beginsel van Solus Christus (alleen Christus) kom in gedrang.
  • As jy vertrou op die wet eerder as op God, bv. as jy die besnydenis of enige ander ding soos bv. vandag die groot of klein doop byvoeg as ‘n merkteken van die evangelie, asof jy nie alleen deur geloof gered word nie, en dit goedpraat, dan het jy met ‘n ander evangelie te make, soos hy in 3 sal argumenteer. Die beginsel van Sola fide (alleen deur geloof) kom dan in gedrang.
  • As jy nie leef uit die beloftes van die Skrif nie, en bv. die nakoming van die wet of erger nog ‘n stel kultuurreëls ‘n merkteken of vereiste maak van die evangelie, en dit goedpraat, het jy met ‘n ander evangelie te make, soos hy in 4 sal argumenteer. Die beginsel van Sola scriptura (alleen die Bybel) kom in die gedrang.
  • As jy die genade misbruik om sonde te doen, bv. deur onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid en ‘n reeks ander sondes toe te laat in jou lewe saam met die evangelie, en dit goedpraat, dan het jy met ‘n ander evangelie te make, soos hy in 5 sal argumenteer. Dit bring die beginsel van Sola gratia (alleen uit genade) in gedrang.
  • As jy vir jouself leef eerder as vir God, jouself afskei van ander in veroordeling eerder as om hulle laste te dra, en boonop self sonde doen, dan het jy met ‘n ander evangelie te make, soos hy in 6 sal argumenteer. Dit bring die beginsel van Soli Deo Gloria (alleen eer aan God) in gedrang.

Daar is geen ander evangelie nie. Enige ander evangelie bring jou ewigheid in gedrang. Die vloek van die sonde bly dan rus op jou. Daar is dan geen verlossing vir jou nie. Want, daar is net verlossing in Christus beskikbaar. Daar is geen ander evangelie nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar