Skip to main content

Psalm 46

Bedaar en erken dat Ek God is

Ons slaan eers Psalm 45 oor. Dit is ’n Psalm van die Koragiete wat die huwelik van die koning (Salomo) en sy koningin vier met Messiaanse trekke. Ek hanteer dit dus eers wanneer ons die verhale van Salomo begin lees. Vandag lees ons dus Psalm 46.

Teks en konteks

Psalm 46, die volgende in die reeks Psalms van die Koragiete, is ‘n kleinood in die nadenke van die geloofsgemeenskap oor die teenwoordigheid van God in ons nood.

  • Dit geld vir die ervaring van die kragte van die natuur hetsy werklik of as metafoor vir ons worstelstryd met allerlei.  Hy is altyd bereid om te help (vers 2-4) omdat Hy die Skeppergod is wat alles gemaak het.
  • Dit geld ook die aanslae van nasies teenoor mekaar regdeur die geskiedenis waarin die belydenis van God se teenwoordigheid telkens rus bring midde-in die nood (vers 5-8).  God is dus ook die God wat die geskiedenis in sy hand hou.
  • Dié nadenke sluit ook telkens die vasgryp aan die (eskatologiese) droom dat God uiteindelik sy vredesryk volledig tot vervulling sal bring op die aarde (vers 9-12). God is ook die God van die toekomstige herskepte wêreld.

Maarten Luther het daarom dié Psalm as inspirasie gebruik om sy aangrypende lied te skryf: “’n Vaste burg is onse God.” Die Liedboek van die NG Kerk het ‘n verwerking in Liedboek 476 daarvan, en die bekende melodie word ook vir Psalm 27 en Liedboek 477: “Hou Christus self sy kerk in stand,” gebruik.

Dit is in drie dele gedig.

Vers 2-4

Die agtergrond vir dié eerste deel van die Psalm word nie aan ‘n presiese natuurlike gebeurtenis verbind word nie, hoewel dit duidelik ‘n aardskuddende ervaring was.  Om die waarheid te sê, die omvang daarvan word met ‘n kosmiese katastrofe vergelyk waarin die grond en die berge padgee en in die druisende skuimende see gestort word (vers 3-4).  Dit kan daarom ook ’n metafoor wees vir die persoonlike worsteling met nood en lyding.

Dit is binne sulke “einde van die wêreld” ervarings waarin die Psalmis bely dat God steeds ‘n toevlug en ‘n beskerming bly en ervaar dat Hy, soos altyd, bereid is om te help in nood (vers 2).  Soos Hy aanvanklik die chaos-magte oorwin en orde in die chaos gebring het, só kan Hy dit steeds vir sy mense doen.

Vers 5-8

Die Psalm is egter ook nie net ‘n viering van God se verlossing uit haglike omstandighede nie, maar ook ‘n viering van sy vaste teenwoordigheid in die Godstad en heilige woning (vers 5), waarmee sy keuse vir Sion bevestig word, soos ook met die volgende 2 Psalms die geval is.  Die vrede en blydskap van Jerusalem te midde van chaos word besing, omdat God daar is en die stad nie sal wankel nie (vers 6).  Nasies kan dus raas en koninkryke wankel in die loop van die geskiedenis, maar God bly vir die Godsvolk ‘n beskutting (vers 7-8).  Hy is immers ook die God van die geskiedenis.

Let op hoe die “strome van die rivier” in vers 5 gekontrasteer word met die “waters van die see” in vers 4 as ‘n simbool van God se verkwikkende teenwoordigheid in kontras met die onstuimigheid van die chaosmagte.  Die “strome” verwys waarskynlik na die fontein van Gihon wat Hiskia deur ‘n tonnel na Jerusalem gebring het (2 Kron 32:20 – vergelyk ook die rol wat dié kanaal speel in die gesprek van Jesaja met Agas in Jes 7).

Vers 8 en 12 is waarskynlik die antwoord van die geloofsgemeenskap waarmee hulle telkens hulle geloof in God bevestig het in antwoord op die mededelings van die voorgangers: “Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ‘n beskutting.”  Deur die frase te herhaal, is die belydenis van God se beskutting ingeskerp en bevestig vir die geloofsgemeenskap.

Vers 9-12

Die laaste deel van die Psalm praat van die omvattende vrede wat God op die aarde tot stand gaan bring, wat weereens lyk na ‘n “einde van die wêreld” ervaring waarvan onder andere die profete (bv Jes 2:4) ook skrywe.  Dit is met dié toekomsvisie wat die Psalmis dan in vers 11 verklaar: “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde.”  Want God is ook die God van die toekoms.

Boodskap en betekenis

Ons het vandag – nog meer as in die Psalmis se tyd – nodig om dié belydenis met groter erns vas te hou dat God God is.  Dit sal ons die moed gee om midde-in ons ervarings van pyn en lyding onder die chaos- en strydmagte standvastig vol te hou om die Here te bly dien.

Dit sluit ook in dat ons ernstig vra dat God uiteindelik ‘n berusting vir die hele aarde gaan bring, dat Hy sy belofte ’n werklikheid sal laat word, die belofte dat die moorddadigheid en oorlogsugtigheid wat só wyd verspreid voorkom, nie net in ons eie land nie, tot rus sal kom.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda