Skip to main content

Spreuke 3:1-35

Vertrou God en ken Hom in alles

Spreuke 3:1-6

Die pa gaan voort om uit te brei op die idee dat daar ’n “regte pad” is om op te loop, en ’n “verkeerde pad.” Iets wat ook baie sterk in die res van Spreuke beklemtoon word. Alles moet daarom in die stryd gewerp word om die regte pad te vind. Niks moet jou daarvan weerhou nie. En alles moontlik moet gedoen word om die verkeerde pad te vermy.

In hoofstuk 3 gee die pa nou ’n verdere twee “lewenslesse” aan sy seun wat dit verder inskerp:

  • Hy gee praktiese raad oor hoe om God te vertrou en in alles te ken (Spr 3:1-12).
  • Hy gee praktiese voorbeelde van hoe dit lyk om die “regte pad” te volg (Spr 3:13-35).

In die “derde lewensles” van die pa aan sy seun fokus hy op die frase: “liefde en trou.” Dit kom ooreen met Paulus se opdrag dat ons in liefde by die waarheid moet bly (Ef 4:15). Troue liefde moet ons gedagtes en gedrag stempel.

Die inhoud is kort en kragtig: “Vertrou God en ken Hom in alles” (Spr 3:5-6). Dit is dieselfde grondbeginsels as wat nou herhaaldelik in die vorige twee hoofstukke gegee is, vertroue en verantwoordelikheid.

Let op hoe hierdie vertroue en verantwoordelikheid uitgespel word met twee kernwoorde: onthou (moenie vergeet nie) en vashou. Dit is waarin die geheim van jou hele geestelike lewe opgesluit lê.

Aan die een kant moet die verlossing, versorging en bevestiging van die Here in die verlede telkens in herinnering geroep word. Moet dit nie vergeet nie, sê die pa vir sy seun.

Aan die ander kant moet vasgehou word aan die wyse riglyne wat God uitspel vir die tipe lewenstyl wat nie net sy goedkeuring wegdra nie, maar die toets van die tyd deurstaan het.

Die derde lewensles word opgedeel in ses aspekte om die wyse lewenstyl en die voordeel wat dit bring, uit te spel. Elke aspek word in twee verse elk uitgespel – drie positief, drie negatief – telkens met ‘n voordeel daaraan gekoppel.

Die eerste drie aspekte is soos volg:

  • Spreuke 3:1-2 – Moenie vergeet wat jou pa jou leer nie. Dit lei tot ’n lang en vol lewe.
  • Spreuke 3:3-4 – Moenie dat liefde en trou ontbreek nie (“skryf dit op die tafel van jou hart” – 1933/53-vertaling). Dit laat jou guns verwerf en byval vind by God en mens.
  • Spreuke 3:5-6 – Vertrou volkome (“met jou hele hart” – 1933/53-vertaling) op die Here en ken Hom in alles wat jy doen. Dit laat God toe om jou op die regte pad te laat loop.

Vers 5 en 6 kan jou lewensmotto word: “Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak.”

Spreuke 3:7-8

Die pa leer sy seun daarby dat hy nie moet dink hy het die wysheid in pag nie. Hy moet die Here vrees en vermy wat sleg is. Dit lei tot genesing en heelheid. Oordink hierdie vierde aspek van die derde les aan die hand van Peterson se parafrase: “Don’t assume that you know it all. Run to GOD! Run from evil! Your body will glow with health, your very bones will vibrate with life!” (The Message).

Spreuke 3:9-10

Die pa leer sy seun ook dat hy die Here met offerandes moet vereer. Dit laat ‘n mens ervaar dat God jou met oorvloed seën, die vyfde aspek van hierdie les. Hoe mooi is hierdie verse nie deur Peterson weergegee nie: “Honor GOD with everything you own; give him the first and the best. Your barns will burst, your wine vats will brim over.” (The Message). Dit is ’n opdrag en ’n belofte. Vir jou!

Spreuke 3:11-12

Die pa herinner sy seun laastens daaraan dat God dié dissiplineer wat Hy liefhet. Daarom moet hy die straf en teregwysing van die Here aanvaar. Dissipline bevestig sy kindskap, die sesde aspek van hierdie les. Dit is ’n gedagte wat die Hebreërskrywer ook op ons eie geestelike lewe van toepassing maak (Hebr 12:5-6). Lyding ter wille van die evangelie is ’n teken dat jy aan die geloofsgemeenskap behoort! “It’s the child he loves that GOD corrects; a father’s delight is behind all this.” (The Message).

Spreuke 3:13-15

Die “vierde lewensles” beslaan die res van hoofstuk 3, hoewel ‘n mens dit ook in kleiner dele of lewenslesse sou kon opdeel. In die eerste deel spel die pa die voordeel van die wysheid uit (Spr 3:13-18) met ’n beklemtoning van ’n vertroue op God se mag (Spr 3:19-20), en in die tweede deel gee hy ‘n paar praktiese voorbeelde van die wysheid in aksie (Spr 3:21-35).

Hierdie drie verse is ook die eerste “saligspreking” in Spreuke met die boodskap: “Wysheid is beter as Welvaart.” Insig is beter as silwer, goud, en edelgesteentes. Pas jou planne vir die toekoms dus aan om eerder wysheid as welvaart te bekom.

Spreuke 3:16-18

Hierdie drie verse bevat nog ’n saligspreking wat by die vorige een aansluit. “Wysheid gee welvaart.” ‘n Wyse lewe kan vir jou geestelike sowel as materiële rykdom gee.

Aan die een kant maak wysheid jou lewe vol van betekenis. Aan die ander kant gee wysheid sukses en invloed.

Wysheid is ’n boom van lewe – let op die verwysing na die boom van lewe in Genesis wat ‘n mens hier kan raaksien – wat impliseer dat wysheid iets van die oorspronklike bedoeling van God vir die mens beskikbaar stel. Wysheid herstel God se beeld in jou. Dit is die moeite werd om jou hele lewe daaraan te wy.

Spreuke 3:19-20

In aansluiting by die vorige verse is dit opmerklik dat hierdie twee verse God se skeppingsmag besing. Dit beteken dat ’n mens aan die een kant juis op sy mag (en nie jou eie nie) moet staatmaak in die loop van die gewone lewe. Aan die ander kant is dit ook juis op hierdie basis dat ’n mens self met wysheid kan optree, soos die volgende gedeelte gaan illustreer. Loof God vir sy wysheid wat alles orden, en vir water waaruit alles lewe. Daarmee bevestig jy God se werk in die skepping en voorsiening vir die hele aarde.

Spreuke 3:21-26

As deel van hierdie vierde lewensles gee die pa vyf praktiese voorbeelde in vers 21-35 as riglyn vir beide sy seun se persoonlike karakter as sy publieke optrede.

In die publieke lewe gaan dit oor beide sy sosiale verantwoordelikheid vir dié wat in nood is as oor die manier waarop hy sy eie staanplek in die lewe verwerf. Die punt wat die pa maak, is dat die mag wat ‘n mens het, veral tot voordeel van die wat minder bevoorreg is as jy aangewend moet word, en terselfdertyd ook nie tot die nadeel van dié wat jou gelyke of jou meerdere is nie.

Die eerste praktiese voorbeeld is om met takt (respek) en oorleg op te tree, want dit is presies op dié manier waarop die Here jou sal beskerm. Hierdie tipe wysheid gee lewe en sekuriteit. Dit verdryf die vrees en laat jou rustig slaap.

Koester die belofte in vers 26: “The LORD will be the source of your confidence, and he will guard your foot from being caught in a trap.” (NET)

Spreuke 3:27-30

Die tweede praktiese voorbeeld is in vers 27-28. Dit beklemtoon dat hy met deernis moet optree teenoor mense in nood. Daarmee leer die pa hom om sy naaste met die daad lief te hê. Let op hoe ‘n mens die sesde gebod (jy mag nie moord pleeg nie) hierin kan hoor. Dit beteken dat jy geen onheil mag bewerk nie; geen onregverdige klagtes mag bring teen ander nie; geen magsmisbruik mag begaan nie. God neem mense wat reg lewe in sy vertroue. Ook vir jou.

Die derde praktiese voorbeeld is in vers 29. Dit beklemtoon dat die seun met integriteit moet optree teenoor mense wat hom vertrou.

Die vierde praktiese voorbeeld is in vers 30. Dit is om betroubaar te wees teenoor mense wat hom nie kwaad aangedoen het nie.

Spreuke 3:31-35

Die vyfde praktiese voorbeeld kontrasteer die goddelose (spotters en dwases) met die regverdiges (nederiges en wyses). Selfs in só ‘n situasie moet die seun nie sy mag misbruik nie, nie eers deur ander te beny as hulle hulle mag tot hulle eie voordeel misbruik nie.

Die voordeel van hierdie optrede is dat dit vir die seun ‘n belewenis van God se teenwoordigheid sal gee, nie net vir homself nie, maar ook vir dié naby aan hom in sy huis. God sal hom seën en beskerm.

Interessant is dat goddelose in vers 33 in die enkelvoud is, en regverdiges in die meervoud. Dit beteken waarskynlik dat regverdiges makliker in ‘n gemeenskap tereg kom. Dit is eintlik ’n stukkie ekstra aanmoediging om God se pad te kies. Hy seën en beskerm nie net dié wat by Hom skuil nie. Hy is by hulle en snoer hulle saam.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda