Skip to main content

1 Samuel 5

Die hand van die Here was swaar op die Filistyne

Hoofstuk 5 fokus op die destruktiewe effek van die ark – dws die teenwoordigheid van die Here – op die Filistyne. Waar God nie geëer word nie, is sy teenwoordigheid ‘n verterende vuur, versinnebeeld met die swere wat op die Filistyne uitslaan. Selfs die lewelose god Dagon moet dit ontgeld.

Teks en konteks

Tragies vertel die skrywer: “Die Filistyne het die ark van God geneem.” Die ark as simbool van God se teenwoordigheid – die “eer” van Israel – word weggevoer uit die beloofde land na een van die Filistynse stede, Asdod. Die tempel van God by Silo word verruil vir die tempel van Dagon in Asdod as staanplek vir die ark van God.

Maar dan word met toenemende ontsag vertel van die effek wat die ark op almal het. Dagon, die god van die Filistyne, buig herhaaldelik voor die ark – dws voor die teenwoordigheid van God – neer. Pes breek uit in elkeen van die drie Filistynse stede waar die ark heen gestuur word. Selfs die mense van Bet-Semes op Israelitiese grondgebied word uiteindelik swaar getref deur die oordeel van die Here (hfst 6).

Maar, sonder die besondere openbaring van die Here lei hulle reaksie daarop eintlik net tot verdere bygeloof. Die gebruik het onder die priesters van Dagon ontstaan om nie op die drumpel van die tempel van Dagon te trap in Asdod nie, omdat Dagon se kop en twee hande afgekap gelê het op die drumpel. In plaas daarvan om na die lewende God te vra, verval hulle net verder in hulle eie onkunde en afvalligheid.

Die skrywer som die situasie só op: “Die hand van die Here was swaar op die mense.” Hulle het paniekbevange probeer om van die swelsels wat God hulle mee getref het ontslae te raak deur die ark van een stad na ’n ander te stuur – van Asdod na Gat en uiteindelik na Ekron – maar tevergeefs. Talle mense is in die proses ook dood.

Al raad waarmee die Filistynse leiers vorendag kon kom, is om die ark na sy plek by Israel toe terug te stuur, want “die hand van God was baie swaar.” ’n Noodkreet het tot die hemel opgestyg, maar steeds het daar nie insig gekom in wie die God is waarmee hulle te make het nie.

Boodskap en betekenis

Die verhaal van Dagon en die swere laat ‘n mens besef hoe nodig die besondere openbaring van God is. Dit is eers wanneer ons ons situasie in die lig van God se openbaring kan beskou wat ons Hom die nodige ontsag kan betoon en in lyn kan kom met sy wil en bedoeling vir die lewe.

Paulus skryf daaroor in Romeine 1 waar hy die hele wêreld waarsku dat God se toorn oor die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid te onderdruk, reeds geopenbaar is. Maar mense ignoreer dit, selfs al is dit aan almal bekend (Rom 1:18-23). Hy het hulle daarom aan die begeertes van hulle hart oorgegee om as’t ware die maat van die sonde vol te maak (Rom 1:24-32), in die hoop dat hulle die verlossing in Christus sal raaksien en aangryp (Rom 3:21-26).

Dit is ‘n boodskap wat ons self moet omarm en waarvan ons in hierdie wêreld oral moet getuig, sodat die “hand van die Here” wat “swaar” rus op hierdie wêreld gelig kan word deur die verlossing wat God in Christus vir almal wat in Hom glo, bestem het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…