Skip to main content

Romeine 8

Die Gees van Christus gee oorwinning oor ons sondige natuur

Die sesde hoofdeel van Paulus se boodskap strek van Romeine 8:1-39 en handel oor drie verdere implikasies van die regte verhouding deur geloof (8:1-39):

  1. Die Gees van Christus gee oorwinning oor ons sondige natuur (8:1-17)
  2. God verheerlik diegene wat in die regte verhouding met Hom is (8:18-30)
  3. God sorg vir diegene wat in die regte verhouding met Hom is (8:31-39)

Teks en konteks

Christus het gekom om sonde in die mens te veroordeel (8:1-4)

Paulus neem die gevolgtrekking van Romeine 7:25 verder en verklaar die nuwe situasie wat daar nou vir elke gelowige tot stand gekom het: “Daar is dan nou geen veroordeling vir diegene wat in Christus Jesus is nie.“ Die oordeel van God is deur Hom gedra vir elke gelowige.

Die woordjie “in” beteken hier om verenig met of in assosiasie met Christus te lewe (Louw-Nida). Paulus brei hiermee uit op die metafoor van die huwelik wat hy in Romeine 7:1-7 gebruik het. Die “huwelik” met die sonde (en die wet) is beëindig. Jy (let op die enkelvoud) is nou in ‘n “huwelik” met Christus Jesus, want: “die wet van die Gees wat in Christus Jesus die lewe gee, het jou immers vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.”

God het deur Christus se volmaakte lewe: “die sonde in die mens veroordeel”, sodat Hy aan die een kant die vereiste van die wet in ons kon vervul deur ons “dood” saam met Christus, en aan die ander kant ons aan Christus in ‘n nuwe lewe kon verbind om nou volgens “die wet van die Gees” te lewe, nie meer volgens “die wet van die sonde en die dood” nie.

Die sondige natuur bring die dood, maar die Gees bring lewe (8:5-13)

Paulus verduidelik dan die verskil tussen mense wat volgens hulle sondige aard leef (dink terug aan die lysie van sondes in Rom. 1:18-32) en dié wat volgens die Gees leef.

Dié wat volgens hulle sondige aard leef, bedink die dinge wat vir hulle sondige aard aanvaarbaar is, want hulle is in ‘n “huwelik” met hulle sondige aard. Die gevolg daarvan is die dood, want dit is ten diepste vyandskap met God in die oortredings van sy wet.

Dié wat volgens die Gees leef, bedink egter die dinge van die Gees, want hulle is in verbintenis met Christus deur die Gees, weereens soos in ‘n “huwelik”. Dit bring lewe en vrede. Trouens, hulle ontvang die getuienis deur die Gees dat hulle in die regte verhouding met God is, dat hulle aan Christus behoort.

Daarom kan ons nie anders as om deur die Gees die praktyke van die liggaam dood te maak nie, want ons is verbind aan Christus wat ons sterflike liggame lewend sal maak in die opstanding tot die ewige lewe.

Diegene wat die Heilige Gees het, is kinders van God (8:14-17)

Paulus fokus dan op die wonderlike realiteit van almal wat só deur die Gees van God gelei word:

  1. Hulle is kinders van God wat nooit weer verslawing hoef te vrees nie.
  2. Hulle het ‘n interne getuienis deur die Gees wat hulle kindskap bevestig.
  3. Hulle kan God as Vader aanspreek, want hulle is immers in ‘n regte verhouding met Hom.
  4. Hulle is erfgename van God en mede-erfgename van Christus wat nie net deel in sy lyding nie, maar ook in sy verheerliking.

Die skepping smag met vurige verlange dat God sy heerlikheid sal openbaar (8:18-25)

Let op hoe Paulus met hierdie gedeelte nie net die gevolge van die vryspraak van God vir sondige mense uitspel nie, maar ook vir die hele skepping. Dit is nie net God se kinders wat bevry sal word om in vrede met God en met vrye toegang tot Hom te kan lewe nie. Nee, dit is ook die skepping wat bevry sal word van ‘n sinlose bestaan.

Daarmee lê Paulus ook ’n direkte verband met Romeine 1:18-32 en die beskrywing van die verganklikheid en verydeling wat met die goddeloosheid en ongeregtigheid in die skepping ingekom het. Die mensdom is immers “oorgegee” aan seksuele immoraliteit, skandelike seksuele begeertes, en korrupte verwerplike denke, omdat hulle God verwerp het.

God het egter sy Seun Jesus Christus aan elkeen wat in Hom glo, “oorgegee” (Rom. 4:25; 8:32), sodat God hulle kan verlos deur die vryspraak wat Jesus vir hulle verwerf het deur sy kruisdood en opstanding en die Vader daarom hulle as mede-erfgename met Christus die koninkryk van God kan laat beërwe.

Die skepping wag nou met vurige verlange na die finale bevryding van die kinders van God, omdat dit ook sy eie bevryding sal beteken.

Interessant is dat die werk van die Gees nie net is om ons te oortuig van ons kindskap nie, maar die hoop in ons ook aan die brand te steek om saam met die skepping met volharding te wag op ons publieke aanneming as kinders van God, en die bevryding van ons liggame.

Die Gees kom ons tot hulp, en tree volgens die wil van God vir die heiliges in (8:26-30)

Soos die Israeliete aanvanklik die eerste gawes van hulle oes vir God gebring het as offer, gee God nou aan ons die eerste gawe van die oes van sy nuwe skepping, die Gees. Die Gees se getuienis saam met ons gees (Rom. 8:16) word aangevul met versugtinge en pleidooie van die Gees vir ons (Rom. 8:26) dat alles ten goede sal meewerk en ons gelykvormig sal wees aan Jesus Christus (Rom. 8:28).

Die Gees tree vir ons in deur vanuit ons hart, vanuit ons onverwoorde gedagtes, met God in gesprek te tree. Hy bring ons sugte voor God in die vorm van sy eie versugtinge, om dié dinge wat ons nie weet nie in goddelike terme aan die Vader te bring.

Daarom kan ons aanhou om te bid, selfs al is dit ‘n worsteling, selfs al weet ons nie presies wat ons moet bid nie. Want, dit is dan wat die wonder gebeur: “Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heiliges intree.”

En dit is daarom dat: “Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is.”

Paulus sê verder dat God intens besig is met ons lewens: “want Hy het diegene wat Hy reeds vooruit gekies het, ook vooruit bestem om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word, sodat Hy die Eersgeborene onder baie broers kan wees; en diegene wat Hy vooruit bestem het, het Hy ook geroep; en diegene wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek; en diegene wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.”

Die woordjie vir “vooruit bestem” (proginōskō) kan ook vertaal word as “vooruit geken.” Dit is omdat God ons vooruit geken het, van ons geweet het selfs nog voor ons gebore is, dat Hy ons bestem het om gelykvormig aan die beeld van sy Seun te word.

God wou hê dat Jesus nie alleen as mens in die hemel saam met Hom sal wees nie, maar dat daar ‘n skare broers en susters vir Hom sal wees, ‘n nuwe geloofsfamilie.

Jesus is die prentjie wat God vir almal van ons het. Hy is die Eersgeborene (prōtotokos), die sjabloon, die templaat, die “mold” van die tipe mens wat God van almal van ons wat in Hom glo, wil maak.

Daarmee word God se beeld in ons ook herstel (Gen. 1:27).

Omdat God vir ons is, kan niemand ons sy vryspraak ontneem nie (8:31-34)

Paulus kan dus nie anders as om met ’n lofrede af te sluit: as God vir ons is, wie kan teen ons wees?! Daar is geen aanklag of veroordeling wat ons die vryspraak van God kan ontneem nie.

Trouens, dit is Christus Jesus wat aan die regterhand van God sit en wat ook vir ons intree, soos die Gees dit hier op aarde in ons harte doen.

Niks kan ons skei van Christus se liefde nie (8:35-39)

Daar is geen swaarkry, of benoudheid, of vervolging, of honger, of naaktheid, of gevaar, of die swaard wat ons kan skei van sy liefde nie. Inteendeel, ons sal saam met Hom oorwinnaars wees.

“Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.”

Boodskap en betekenis

Romeine 8 beklemtoon die oorwinning en sekerheid wat gelowiges in Christus ontvang deur die werk van die Heilige Gees. Paulus verduidelik dat daar geen veroordeling is vir dié wat in Christus is nie, omdat die Gees vrymaak van die mag van sonde en dood. Die Gees gee lewe, verseker ons van ons kindskap as kinders van God, en versterk ons in ons swakheid deur vir ons in te tree. Gelowiges word nie net bevry van sonde nie, maar ook deel van God se familie, met die hoop op verheerliking en ewige lewe. Paulus skets die hele skepping se verlange na die vervulling van hierdie bevryding en benadruk dat niks – nie lyding, dood, of enigiets in die skepping – ons van die liefde van God in Christus Jesus kan skei nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda