Skip to main content

1 Kronieke 16

Dawid vier die tuiskoms van die ark en word deur God geseën

1 Kronieke 16 sluit grootliks aan by 2 Samuel 6 se verhaal van die ark wat na Jerusalem gebring is. Hy wy egter meer aandag die aanbidding by die geleentheid. Die skrywer gee onder andere aandag aan die Leviete wat aangestel word om die aanbidding in Jerusalem te begelei met ‘n lang dankpsalm wat Dawid vir hulle gegee het om uit te voer. Die name van die priesters en Leviete wat in beide Jerusalem en Gibeon aangestel is, word ook vermeld.

Die Psalm wat Dawid aan Asaf, terwyl hy nog gelewe het, opgedra het om uit te voer, kom met Psalm 105, 96, en 106 ooreen. Ons gaan hierna Psalm 105 en 96 lees, maar eers later Psalm 106. Hoewel die drie verse wat uit Psalm 106 aangehaal word (vers 1, 47-48) ‘n mens die Psalm in Dawid se tyd sou kon laat dateer, bevat Psalm 106 ook verwysings wat waarskynlik op die tyd na die ballingskap dui. Daarom hanteer ek Psalm 106 dus later.

Teks en konteks

Die skrywer van Kronieke fokus eerstens op die feesviering met die tuiskoms van die ark, die simbool van God se teenwoordigheid, in Jerusalem. Hy gebruik ‘n deel van die verhaal in 2 Samuel 6 daarvoor en voeg daarby ‘n keurspel uit drie Psalms (Ps 105:1–15; 96:1–13; 106:47–48) met die titel “Loof die Here”, wat Dawid Asaf en sy ampsgenote vir die eerste keer laat uitvoer het by die geleentheid.

Die skrywer brei uit oor die Leviete wat deur Dawid aangestel is om voor die ark van die Here diens te doen.Interessant genoeg is Obed-Edom ook daar, indien dit inderdaad dieselfde persoon is. Let op dat Dawid se seën van die volk met eetgoed opgevolg word, wat waarskynlik beteken dat hy op dieselfde manier sy familie geseën het met eetgoed (vers 43).

Die keurspel “Loof die Here” is saamgestel uit drie Psalms uit die 4de Psalmboek en word opgevolg met ‘n laaste mededeling oor Asaf en sy ampsgenote wat voltyds in diens geneem is om diens voor die ark te doen soos wat dit nodig mag wees en Dawid wat huis toe is om sy gesin te seën.

Dit tref my dat Dawid nie net leiding geneem het om God se teenwoordigheid in die volk se midde te herstel nie, daarby ‘n hele netwerk van mense aangestel het om op die regte wyse die godsdiens te behartig nie, maar toe boonop teruggegaan het om sy huis te seën. Dít is ‘n lofwaardige model om na te volg. Wat jy vir die gemeenskap en vir God doen, moet op een of ander manier ook uitmond in ‘n positiewe betrokkenheid by jou gesin.

Die saamgestelde loflied uit die Psalms wat die Kronis aanhaal, het ‘n universele betekenis waarin die nasies ingesluit is:

Uit Psalm 105: God se dade in die verlede word in dankbare herinnering geroep om as getuienis aan die nasies te dien op voetspoor van Psalm 105:1-15. Sy magtige dade het immers betekenis vir die hele aarde, want dié God is bekend dat Hy die onmoontlike doen vir dié wat by Hom hulp en beskerming soek, soos bevestig deur die hou van sy beloftes aan die voorvaders, Abraham, Isak en Jakob. Let op dat daar ‘n verwysing is na die waarskuwing aan farao (vers 21 – Gen 12:14-20), sowel as ‘n beskrywing van die voorvaders as profete (Abraham in Gen 20:7) en interessant genoeg ook as gesalfdes, hoewel dit nie voorheen só in die Pentateug genoem is nie.

Uit Psalm 96: Psalm 96 word hier volledig aangehaal en dit handel oor die Here wat kom om oor die hele aarde te heers. Die rede daarvoor word in sy skeppingswerk sowel as sy reddingsdade in die geskiedenis gevind. Dít moet aan al die nasies verkondig word (vgl die droom van Jesaja 2 dat Israel ‘n ontmoetingsplek sal wees vir die nasies) sodat hulle hulle eie gode, wat in elk geval nie gode is nie, kan verlaat en ook van God se onwankelbare koningskap kan sing. Dié God is aan die kom om oor die aarde te heers met regverdigheid en billikheid, en Israel se getuienis moet die pad vir God onder die nasies gereed maak.

Uit Psalm 106: Twee verse uit Psalm 106:47-48 word gebruik om “Loof die Here” mee af te sluit wat fokus op God se insluiting van sy mense uit al die nasies om Hom te kan loof tot in die allerverste toekoms. (Omdat Psalm 106 ’n oorsig gee tot by die terugkeer uit ballingskap, hanteer ek dit later, maar hierdie deel van die Psalm is dus eeue vroeër al gebruik deur Dawid.)

Boodskap en betekenis

Dit is ‘n ongelooflike ryk gedeelte met soveel perspektiewe waarby ‘n mens kan stilstaan. Kies ‘n aspek om oor na te dink. Bv, Dawid se besondere gawe om die geestelike lewe van die geloofsgemeenskap prakties en teologies te begelei. Of die feit dat hy sy familie nie vergeet nie, maar intrek in die seën wat God mildelik uitdeel. Of deur doodgewoon op een van drie Psalms te fokus en die Here daarmee te aanbid.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…