Skip to main content

Titus 3

Gesonde lewe impakteer die gemeenskap vir God

Paulus verskuif sy fokus na die publieke impak van ‘n gesonde geloofslewe wat op die regte leer gebaseer is. Die herlewing wat God in ons lewe van stapel stuur, moet die gemeenskap ten goede impakteer. Dit laat ons geestelik vrugbaar lewe.

Teks en konteks

Publieke verantwoordelikheid – Titus 3:1-2

Let op hoe Paulus met die gemeente se publieke verantwoordelikheid begin, voordat hy verder gesels oor die manier waarop die gemeente eenheid in sy geledere moet handhaaf.  Geloof en die praktiese uitleef daarvan is nie net ‘n private en persoonlike saak nie, maar ook ‘n publieke een.

Hy spel die publieke verantwoordelikheid op twee maniere uit.  Aan die een kant is ‘n gesonde gemeenskapslewe afhanklik van instemming en gehoorsaamheid aan owerhede en gesagsinstansies.  Daarsonder verval ‘n gemeenskap in anargie en wetteloosheid.  Aan die ander kant moet die gemeenskapslewe ook nie net in stand gehou word soos wat dit bv. in die verlede was nie, maar positief ontwikkel word deur gelowiges wat bereid is “om alles te doen wat goed is.”

Soos Paulus in Filippense beklemtoon het dat waarderende dinge gedink en bedink moet word, lê hy hier in Titus klem op die doen van dinge wat goed is.  Verheffende gedagtes kan net mense inspireer as dit in goeie dade gestalte kry.  En die tipe dade waarvan Paulus praat is beide dinge wat vermy word: kwaadpraat en rusie soek, sowel as dinge wat gedoen moet word: inskiklik (vgl. Fil. 4:5) en bedagsaam wees teenoor almal.

God het ons laat herleef – Titus 3:3-8

Paulus motiveer hierdie opdrag deur te verwys na hulle eie geestelike geskiedenis, waar God hulle van hulle vroeëre haatlike bestaan verlos het deur sy liefde.  Daarin moet hulle nou vasstaan en vanuit God se genade hulle toelê op goeie werk, werk wat goed en nuttig is vir die mense (vgl. Fil. 2:12-13 waarin dieselfde gedagtes uitgespreek word).

Paulus gee ‘n baie interessante perspektief op die wyse waarop die Triniteit saamwerk in ons verlossing: “God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser.” (Tit. 3:6).  God in sy totaliteit is betrokke by die innerlike vernuwing van haatlikheid na liefde wat in ons gebeur, en wat ons laat herleef het.  Let op dit alles God se gawe aan ons is.  Hy is die instrument van verandering, soos dit in die volgende vers uitgespel word.

Paulus gebruik hier die frase “bath of regeneration” (loutrou paliggenesias) en “renewal (anakainooseoos) by the Holy Spirit” om die hernuwing te beskrywe.  Ek gebruik doelbewus die Engelse vertaling, omdat die woord paliggenesias baie keer in Afrikaans met wedergeboorte weergegee word, soos in beide die 1933 en 1983 Afrikaanse vertaling.  Die woord dui egter nie op iets wat weer gebeur nie, maar op iets wat herstel word, of getransformeer word, soos ‘n nuwe tak wat by ‘n afgesnyde stomp weer uitgroei.  Dit moet dus eerder met iets soos die “bad van hergenerasie/herstel/hernuwing/herlewing” vertaal word.

Doop

Die woord bad (loutrou) in vers 5 word meesal met die doop in verband gebring.  Indien dit die geval is, dui dit op die eenmalige doop in die Naam van die Drie-enige God en die volgende frase op die voortgaande heiligmakende werk van die Heilige Gees onder die heerskappy van die Here Jesus Christus.  Die doop is in die hande van God ‘n kragtige instrument tot verandering en herlewing!

Dit is ook hoe die woord in Efesiërs 5:26 gebruik word, waar die waterdoop beskou word as deel van die reinigende werk van die Here Jesus Christus in die lewe van die kerk “deur die bad met water (loutrou hudatos) in die woord (rêma)” (vgl. ook 1 Kor. 6:11).  Die meeste geleerdes bring hierdie verwysing ook met die doop in verband, en verbind die “woord” met óf die evangelie self, óf die doopsformulier “in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees”.

Herlewing

Let op dat Paulus hier ‘n ander woord vir herlewing (soos dit hier vertaal is wedergeboorte) as wat Johannes gebruik.  Hy praat nie van ‘n geboorte (gennaoo) soos Johannes nie, maar van ‘n generatiewe proses, ‘n herlewing (paliggenesias).   Johannes praat natuurlik ook van ‘n geboorte van bo-af (gennêthê anoothen) d.w.s ‘n geboorte van God af, wat Nikodemus verkeerdelik verstaan as opnuut en wat Jesus dan korrigeer.  Jesus praat in Johannes dus eintlik ook nie van ‘n wedergeboorte nie, maar van ‘n geestelike geboorte.

Interessant genoeg praat Paulus hier ook eerder die taal van Matteus wat die woord gebruik vir die herskepping van die hele skepping (Matt. 19:28 – vgl. ook Openb. 21:5).  Hy pas dit egter hier toe op die herlewing of hernuwing wat in die lewe van die kerk en in die lewe van gelowiges gebeur.  (Vgl. ook Joh. 1:12–13; 3:3–8; Jak. 1:18; 1 Pet. 1:3, 23; 1 Joh. 3:9–10; 5:18 vir meer perspektiewe op hierdie belangrike aspek van die geestelike lewe.)

Paulus gebruik hier ook dieselfde woord vir herlewing of hernuwing as wat hy in die bekende Romeine 12:1-2 teks inspan, anakaninooseoos (Vgl. ook soortgelyke gedagtes, hoewel dieselfde woord nie gebruik word nie, in 2 Kor. 4:16; Kol. 3:10; Hebr. 6:6).  In Romeine is die fokus op die vernuwing van gedagtes en die impak wat dit op ‘n mens se hele lewe het in die onderskeiding van God se wil.  In Titus is die fokus op die vernuwing of herlewing van die lewe as sodanig, moontlik binne konteks meer verbind aan die doen van goeie werke, soos Paulus in vers 8 sê: ”sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense”.

Hierdie verlossing gee aan ons ‘n besondere toekoms, soos Peterson vers 7 in The Message vertaal: “And there’s more life to come – an eternity of life!  You can count on this.”  Let op dat hy nie soseer praat van die langdurigheid van die ewige lewe nie, maar van die oorvloed wat vir ewig op ons wag, en waaraan ons trouens al reeds deel het.

Hou op met dwase strydvrae – Titus 3:9-11

In die lig daarvan sê Paulus, moet die gemeentelede hulle nie ophou met dwase strydvrae en geslagsregisters en ‘n getwis oor die wet van Moses nie, want dit is nutteloos en sinneloos.  En met mense wat hierin volhard en steeds skeuring in die gemeente veroorsaak, moet hulle niks te doene hê nie.

Laaste opdragte – Titus 3:12-15

Paulus vervolg met ‘n paar persoonlike opdragte aan Titus.  Hy belowe hulp aan Titus in die persoon van óf Artemas (ons weet nie enigiets meer van hom nie) of Tigikus (medewerker in Efese – 2 Tim. 4:12 – op wie Paulus baie peil getrek het – Hand. 20:4; Kol. 4:7; Ef. 6:21 – en ook die gevangenskap briewe afgelewer het saam met Onesimus), en wil graag hê dat Titus by hom aansluit in Masedonië, by die hawe in Nikopolis.  Hy vra ook hulp vir ander bedienaars, Sena, ‘n regsgeleerde (verder onbekend), en Apollos, waarskynlik dieselfde een wat in Efese (Hand. 18:24-28) en Korinte (1 Kor. 1:12) groot werk gedoen het, om hulle reis via Kreta te kan voortsit.  Ons weet nie presies waarheen nie.

Paulus sluit af met ‘n verdere opdrag aan die gemeente oor eerlike werk om in hulle eie behoeftes te kan voorsien, en wat sal sorg dat hulle nie geestelik onvrugbaar sal wees nie.

Boodskap en betekenis

Paulus verskuif sy klem na die publieke impak van ’n gesonde geloofslewe. Gelowiges se nuwe lewe in Christus moet nie net in die gemeente gesien word nie, maar ook in die breër gemeenskap. Hulle word opgeroep om ‘n positiewe bydrae te maak deur goeie dade wat die gemeenskap opbou.

Die motivering lê in God se verlossingswerk. Hy het ons vernuwe deur die werk van die Heilige Gees. Hierdie genade transformeer mense van ’n haatlike bestaan tot ’n lewe van liefde en goeie werke wat nuttig is vir almal. Die doop is teken en instrument van hierdie nuwe begin.

Verder moet gelowiges hulle nie in nuttelose twiste en strydvrae verloor nie, maar vasstaan in eenheid en goeie werke. Só raak hulle geloof ’n sigbare seën vir die samelewing en leef hulle in die lig van die ewige lewe wat reeds begin het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…