Skip to main content

2 Korintiërs 5:11-6:13

Ambassadeurs van die versoening

Paulus sit sy beskrywing van die evangelie en die impak daarvan in ons lewe voort deur te fokus op Christene as nuwe mense of skeppings van God wat die bediening van die versoening ontvang het en nou God se gesante of ambassadeurs is.

Teks en konteks

Paulus skryf ons oor ons roeping as God se gesante teen die agtergrond van sy teenstanders wat beswaar maak teen sy bediening. Sommige skryf hom af as te emosioneel (in geestesvervoering) en ander dat hy te intellektueel (by ons verstand) is. Praat nou van ‘n “catch 22” situasie!

Hy antwoord daarop deur te wys dat innerlike bedoelings belangriker is as uiterlike prestasies, hoewel daar darem ook baie van sy prestasies is waarop hulle trots sou kon wees. Dit is die liefde van Christus wat hom dring – nie die oorweging van geldmaak wat by sy teenstanders die hoofmotivering was nie (2 Kor. 2:17).

Daardie liefde van Christus is so ‘n groot werklikheid vir hom dat niks belangriker is as Hy nie, en omdat die evangelie vir alle mense bedoel is, kan Paulus nie anders as om net daarvoor te lewe nie.

Let op die ooreenkomste met die beskrywing van sy roeping in sy eerste brief – “vir almal het ek alles geword om in elk geval sommiges te red” (1 Kor 9:19-23).

Hierdie redding is natuurlik nie vanselfsprekend nie, omdat mense in geloof op die aanbod van versoening moet reageer. Maar Paulus doen alles wat hy moontlik kan om God se aanbod van versoening by mense uit te bring.

Paulus skets versoening dus hier as die hart van die bediening – versoening met God in die sin van ‘n vryspraak van sonde en ‘n nuwe verhouding met Hom, en versoening met ander deur hulle harte onderling wyd oop te maak vir mekaar.

Maar let op:

  1. Dit is God se program van versoening waarby Paulus-hulle inskakel – en dit is ook hoe ons die taak van versoening moet behartig, as medewerkers van God, as sy ambassadeurs.
  2. Dit is bedoel vir die hele wêreld, en moet deur ons na almal geneem word.

Daarmee deel Christene reeds in die nuwe skepping wat God gaan bring, en is eintlik ook reeds nuwe skepsels of skeppinge van God (2 Kor. 5:17) deur hulle verhouding met Christus.

Daarom kyk ons ook nou na mekaar uit die hoek van ons Christenskap en die waarde van ons lewe vir die koninkryk en nie meer uit die hoek van ons menslike eienskappe en prestasies en die waarde vir hierdie lewe nie.

“Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.”

Paulus spel dan in hoofstuk 6 die praktiese implikasies hiervan uit. Hierdie genade van God, die aanbod van die versoening, is so ‘n groot gawe dat dit omhels moet word, anders kan dit heeltemal verniet wees.

Hy gebruik ‘n aanhaling uit Jesaja om hulle daartoe aan te spoor. Net soos die ballinge op die boodskap van verlossing in Babel moes reageer, só moet hulle dit nou ook doen: “Op die regte tyd het Ek na jou geluister, en op die dag van verlossing het Ek jou gehelp.” (Jes. 49:8)

Dit tref my dat hierdie genade van God vir Paulus so belangrik is, dat hy, soos iemand een keer gesê het, eintlik in die “opposite spirit” lewe. D.w.s., al word hy bedroef, hy is altyd opgeruimd; al is hy arm, is hy bly dat hy ander mense ryk maak (vers 10).

Let op weereens op hoe kunstig kontrasteer Paulus die uitdagings van hulle bediening teenoor die invloed wat dit het (soos hy dit in hoofstuk vier gedoen het met die kontras tussen die dood en lewe van Jesus) weens die krag van God wat in hulle werk.

  • Hulle uitdagings was verdrukkings, ontberings, benoudhede, geslaan, in tronke gegooi, in oproere en in swaar arbeid, in slaaploosheid en honger.
  • Hulle optrede was met eerbaarheid, begrip, verdraagsaamheid en vriendelikheid, in die Heilige Gees, en met ongeveinsde liefde; met die woord van die waarheid, met die krag van God, met die wapens van geregtigheid vir die regterhand en die linkerhand.

Dit het hulle gedoen

  • “te midde van eer en oneer, te midde van laster en lof, as misleiers, wat tog opreg is; as onbekendes, en tog goed bekend, as sterwendes – maar kyk, ons leef; as gekastydes, wat tog nie doodgemaak word nie; as bedroefdes, maar altyd blymoedig, as armes, maar wat baie ander mense ryk maak, as mense wat niks het nie, en tog alles besit.”

Dit is die paradoks van die Christelike bediening. Die “dood” van die bedienaar is die “lewe” van die wat bedien word. Paulus stel dit dus as sy eer om ten spyte van belediging en minagting betroubaar te wees, want God se genade en Christus se liefde het hom van binne verander.

Soos Chrisostomus, die groot prediker van Antiogië, later hieroor sou skryf: “Just as what brings heat makes things expand, so it is the gift of love to stretch hearts wide open; it is a warm and glowing virtue.”

Dit was Jesus se dryfveer… dit was Paulus se dryfveer… en dit is die enigste dryfveer wat ook ons lewens moet rig – die liefde vir God en vir ons naaste.

Daarom kan hy die Korintiërs vra om hulle harte wyd oop te maak vir Paulus-hulle, want hulle harte is wyd oop vir die Korintiërs.

Boodskap en betekenis

Die fundamentele waarheid van alle kinders van God is dat ons nuwe skeppings van God is wat as sy ambassadeurs die bediening van versoening na hierdie wêreld uitdra. Ons word gedring deur Christus se liefde om getrou in lyding, en vrygewig in die oopmaak van ons harte vir God en ander te wees.

Dat die bediening uit paradokse bestaan is ‘n feit. Maar, ons swaarkry bring seën. Dit beteken dat hierdie teenstrydighede nie vir ons struikelblokke is nie, maar tekens dat God se krag in swakheid werk (vgl. 2 Kor. 4; Paulus sal terugkom hierna in 2 Kor. 12).

Uiteindelik is ons oproep aan gelowiges duidelik: “Moenie God se genade tevergeefs ontvang nie…” En aan hierdie wêreld: “Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…