Skip to main content

2 Korintiërs 5:11-6:13

Ambassadeurs van die versoening

Paulus sit sy beskrywing van die evangelie en die impak daarvan in ons lewe voort deur te fokus op Christene as nuwe mense of skeppings van God wat die bediening van die versoening ontvang het en nou God se gesante of ambassadeurs is.

Teks en konteks

Paulus skryf ons oor ons roeping as God se gesante teen die agtergrond van sy teenstanders wat beswaar maak teen sy bediening. Sommige skryf hom af as te emosioneel (in geestesvervoering) en ander dat hy te intellektueel (by ons verstand) is. Praat nou van ‘n “catch 22” situasie!

Hy antwoord daarop deur te wys dat innerlike bedoelings belangriker is as uiterlike prestasies, hoewel daar darem ook baie van sy prestasies is waarop hulle trots sou kon wees. Dit is die liefde van Christus wat hom dring – nie die oorweging van geldmaak wat by sy teenstanders die hoofmotivering was nie (2 Kor. 2:17).

Daardie liefde van Christus is so ‘n groot werklikheid vir hom dat niks belangriker is as Hy nie, en omdat die evangelie vir alle mense bedoel is, kan Paulus nie anders as om net daarvoor te lewe nie.

Let op die ooreenkomste met die beskrywing van sy roeping in sy eerste brief – “vir almal het ek alles geword om in elk geval sommiges te red” (1 Kor 9:19-23).

Hierdie redding is natuurlik nie vanselfsprekend nie, omdat mense in geloof op die aanbod van versoening moet reageer. Maar Paulus doen alles wat hy moontlik kan om God se aanbod van versoening by mense uit te bring.

Paulus skets versoening dus hier as die hart van die bediening – versoening met God in die sin van ‘n vryspraak van sonde en ‘n nuwe verhouding met Hom, en versoening met ander deur hulle harte onderling wyd oop te maak vir mekaar.

Maar let op:

  1. Dit is God se program van versoening waarby Paulus-hulle inskakel – en dit is ook hoe ons die taak van versoening moet behartig, as medewerkers van God, as sy ambassadeurs.
  2. Dit is bedoel vir die hele wêreld, en moet deur ons na almal geneem word.

Daarmee deel Christene reeds in die nuwe skepping wat God gaan bring, en is eintlik ook reeds nuwe skepsels of skeppinge van God (2 Kor. 5:17) deur hulle verhouding met Christus.

Daarom kyk ons ook nou na mekaar uit die hoek van ons Christenskap en die waarde van ons lewe vir die koninkryk en nie meer uit die hoek van ons menslike eienskappe en prestasies en die waarde vir hierdie lewe nie.

“Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.”

Paulus spel dan in hoofstuk 6 die praktiese implikasies hiervan uit. Hierdie genade van God, die aanbod van die versoening, is so ‘n groot gawe dat dit omhels moet word, anders kan dit heeltemal verniet wees.

Hy gebruik ‘n aanhaling uit Jesaja om hulle daartoe aan te spoor. Net soos die ballinge op die boodskap van verlossing in Babel moes reageer, só moet hulle dit nou ook doen: “Op die regte tyd het Ek na jou geluister, en op die dag van verlossing het Ek jou gehelp.” (Jes. 49:8)

Dit tref my dat hierdie genade van God vir Paulus so belangrik is, dat hy, soos iemand een keer gesê het, eintlik in die “opposite spirit” lewe. D.w.s., al word hy bedroef, hy is altyd opgeruimd; al is hy arm, is hy bly dat hy ander mense ryk maak (vers 10).

Let op weereens op hoe kunstig kontrasteer Paulus die uitdagings van hulle bediening teenoor die invloed wat dit het (soos hy dit in hoofstuk vier gedoen het met die kontras tussen die dood en lewe van Jesus) weens die krag van God wat in hulle werk.

  • Hulle uitdagings was verdrukkings, ontberings, benoudhede, geslaan, in tronke gegooi, in oproere en in swaar arbeid, in slaaploosheid en honger.
  • Hulle optrede was met eerbaarheid, begrip, verdraagsaamheid en vriendelikheid, in die Heilige Gees, en met ongeveinsde liefde; met die woord van die waarheid, met die krag van God, met die wapens van geregtigheid vir die regterhand en die linkerhand.

Dit het hulle gedoen

  • “te midde van eer en oneer, te midde van laster en lof, as misleiers, wat tog opreg is; as onbekendes, en tog goed bekend, as sterwendes – maar kyk, ons leef; as gekastydes, wat tog nie doodgemaak word nie; as bedroefdes, maar altyd blymoedig, as armes, maar wat baie ander mense ryk maak, as mense wat niks het nie, en tog alles besit.”

Dit is die paradoks van die Christelike bediening. Die “dood” van die bedienaar is die “lewe” van die wat bedien word. Paulus stel dit dus as sy eer om ten spyte van belediging en minagting betroubaar te wees, want God se genade en Christus se liefde het hom van binne verander.

Soos Chrisostomus, die groot prediker van Antiogië, later hieroor sou skryf: “Just as what brings heat makes things expand, so it is the gift of love to stretch hearts wide open; it is a warm and glowing virtue.”

Dit was Jesus se dryfveer… dit was Paulus se dryfveer… en dit is die enigste dryfveer wat ook ons lewens moet rig – die liefde vir God en vir ons naaste.

Daarom kan hy die Korintiërs vra om hulle harte wyd oop te maak vir Paulus-hulle, want hulle harte is wyd oop vir die Korintiërs.

Boodskap en betekenis

Die fundamentele waarheid van alle kinders van God is dat ons nuwe skeppings van God is wat as sy ambassadeurs die bediening van versoening na hierdie wêreld uitdra. Ons word gedring deur Christus se liefde om getrou in lyding, en vrygewig in die oopmaak van ons harte vir God en ander te wees.

Dat die bediening uit paradokse bestaan is ‘n feit. Maar, ons swaarkry bring seën. Dit beteken dat hierdie teenstrydighede nie vir ons struikelblokke is nie, maar tekens dat God se krag in swakheid werk (vgl. 2 Kor. 4; Paulus sal terugkom hierna in 2 Kor. 12).

Uiteindelik is ons oproep aan gelowiges duidelik: “Moenie God se genade tevergeefs ontvang nie…” En aan hierdie wêreld: “Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar