Skip to main content

Spreuke 9:1-18

Kies die pad van insig as lewenshouding

Ons kom in hoofstuk 9 aan die einde van die lang inleiding van Spreuke. Spreuke 9 gee nou ‘n opsomming van wat tot dusver gesê is as ‘n basis vir alles wat hierna gaan volg.

Die slotsom van Spreuke 1-8 is dat ‘n mens kan luister óf na Vrou Wysheid (Spr 9:1-6) óf na Vrou Dwaasheid (Spr 9:13-18). Jy moet kies watter een se leiding om te volg in jou lewe.

Hierdie keuse vir een van dié twee stemme word aangevul met ‘n gedeelte oor die ligsinnige mens (Spr 9:7-12) wat die gevolge van die verkeerde keuse vir vrou Dwaasheid uitspel. Dit gee ook ‘n dwarsklap na dié wie se opvoeding ligsinnigheid tot gevolg het (Spr 9:7). Pa’s en ma’s luister!

Let op dat beide vrou Wysheid as vrou Dwaasheid hier fokus op dié wat nog onervare is en kennis kortkom. Dit beteken dat dit die rol van opvoeders is om kinders te inspireer dat hulle die regte lewenshouding aankweek om uit die verskillende stemme wat met hulle in die lewe praat – Vrou Wysheid en Vrou Dwaasheid – dié stemme te kies waarvan die inhoud wys is.

  1. Vrou Wysheid nooi uit na ‘n lewe wat afskeid neem van onkunde en die pad van insig omhels.
  2. Vrou Dwaasheid nooi uit na ‘n lewe van gesteelde genot sonder verantwoordelikheid wat eindig in die dood.

Teks en konteks

Spreuke 9:1-6

Vrou Wysheid word in vers 1-6 in ‘n uitgebreide gelykenis as ‘n verstandige vrou voorgestel wat vir haar ‘n huis gebou het met sewe klippilare – ‘n simbool van standvastigheid en duursaamheid. Die groot getal van sewe pilare laat ‘n mens eintlik dink aan ‘n tempel eerder as ‘n huis (huise het minder pilare gehad, indien enigsins), wat die gesag en goddelike invloed van haar wysheid beklemtoon.

Haar wyshede word in dié gelykenis voorgestel as ‘n feesmaal waarheen onkundiges uitgenooi word om in ‘n feestelike atmosfeer te kom leer. Só sal hulle die pad van insig vind om regtig te kan lewe.

Let op hoe leerbaarheid as een van die kernwaardes van hierdie tipe lewe voorgestel word: “Bly weg van onkundiges, en leef! Betree die weg van insig” (Spr 9:6).

Spreuke 9:7-8

Die 1983-vertaling van Spreuke 9:7-8 is misleidend. Die punt wat dit maak, is dat wyses leerbaar is en dwases onleerbaar. Lees dit liewer in die 2020-vertaling: “Wie ’n spotter vermaan, haal vir homself skande op die hals, en wie ’n goddelose teregwys, kry ’n klad op sy naam. Moenie ’n spotter teregwys nie, anders haat hy jou; wys ’n wyse tereg, en hy sal jou liefhê.” Kies dus nie net jou woorde wys nie, maar ook met wie jy dit deel.

Hierdie gedeelte beskryf die opstand van ligsinnige mense teen die wysheid en die gevolge wat dit vir hulle het. Maar, die opvoeders van sulke mense word ook aangespreek, omdat ligsinnigheid altyd ook ‘n vingerwysing is na dié wat verantwoordelik was vir kinders wat ligsinnigheid as lewenstyl kies (Spr 9:7). Ligsinnigheid lei onvermydelik tot goddeloosheid, omdat ‘n mens nie wysheid kan ignoreer sonder om dan ook die Bron van wysheid daarmee saam te ignoreer nie.

Interessant genoeg wil dié gedeelte ‘n mens ook waarsku daarteen om jou wysheid met ligsinnige mense te deel, omdat die kanse vir sukses so gering is (Spr 9:8). Mense wat die waarde van wysheid ervaar het, is meer ontvanklik, en meer leerbaar. Daarom moet jy jou wysheid met sulke mense deel. Met hulle kan jy moeite doen om verder en dieper te gaan.

Spreuke 9:9-10

Die pa sit die ontleding van leerbaarheid voort en verklaar dit vanuit twee beginsels. 1) Die vrees of ontsag vir die Here wat die begin is van alle wysheid. 2) Die kennis van die Heilige wat tot ’n groei in insig lei. Dit is waarom heiligmaking so ononderhandelbaar is, want dit laat jou groei in wysheid en insig in die lewe

Ligsinniges moet dus eers weer na die begin toe terug gevat word, die ontsag vir God (Spr 9:10 – vgl 1:1-7), voor die lewenshouding van leerbaarheid weer sal inskop en die voete op die pad van insig geplaas kan word.

Spreuke 9:11-12

Die pa spel die beginsel uit dat wysheid jou lewe verleng en verdiep, maar dat dwaasheid jou vervreem en vereensaam. Iets wat opvoeders met meer ywer en verantwoordelikheid moet laat optree. En iets wat almal van ons motiveer om erns te maak met Vrou Wysheid.

Spreuke 9:13-18

Vrou Wysheid nooi ons uit na ‘n lewe wat afskeid neem van onkunde en die pad van insig omhels (Spr 9:1-6). Vrou Dwaasheid nooi ons daarenteen uit na ‘n lewe van gesteelde genot sonder verantwoordelikheid wat eindig in die dood (Spr 9:13-18).

Let op hoe vrou Dwaasheid vir vrou Wysheid naboots in die banket wat vir die onervare onkundiges gehou word, maar op ‘n wyse wat herinner aan die verleidelike gedrag van die slegte vrou van vroeër. Let op hoe die verleiding van haar aanbod lê in die gesteelde karakter daarvan – jy hoef jou nie in te span om dit te verkry nie – sowel as in die verborge aard daarvan – dit is iets wat jy stilletjies doen, waar niemand kan sien of beperkings kan plaas nie.

Die einde van dié pad is egter die dood, omdat daar geen verantwoordelikheid of verantwoordbaarheid ingebou is in die verkryging van hierdie kennis nie.

Dit onderstreep op ‘n waarskuwende manier die noodsaak daarvan om versigtig te wees met die uitdeel van kennis bv in ‘n leerervaring, sonder om ‘n worsteling daarmee, en ‘n toetsing daarvan, in te bou.

‘n Mens moet self werk aan dít wat jy leer, en jy moet op een of ander manier iets daarvan weergee. Dán het dit deel van jou menswees en lewenswyse geword. Anders is dit plagiaat en oppervlakkig by wyse van spreke.

Die tafel is nou gedek om na die spreuke te begin luister, daaroor diep na te dink, en dit deel van jou lewe te maak.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar