Skip to main content

1 Samuel 20

Mag die Here by jou wees soos Hy by my pa was

Dit tref my in hoeveel detail hierdie laaste pleidooi van Jonatan vir Dawid se lewe voor Saul vertel word. En hoe ingewikkeld die kommunikasie tussen Jonatan en Dawid beplan word – die “wit”-leuen oor Dawid se leë plek by die fees en die beplanning rondom die skiet van die pyle. Dit alles loop uit op ‘n finale breuk tussen Saul en Dawid, waarin Jonatan deur Saul verkwalik word as ‘n “eiewys klein misbaksel” vir sy verkiesing van Dawid bo sy pa. Jonatan bly egter getrou aan sy verbond met Dawid en help Dawid om weg te kom. Hy sou ook later vir hom in sy ontberinge gaan bemoedig (1 Sam 22).

Teks en konteks

Dawid verlaat uiteindelik die veilige hawe van die profeteskool in Najot in ‘n poging om die saak met Saul reg te maak. Hy het die gevaar van sy situasie beter as Jonatan besef: “Daar is maar net een tree tussen my en die dood!”

Hy reël met Jonatan dat hy ‘n “wit leuen” – die eerste karakterfout van Dawid wat genoem word, al het hulle waarskynlik gereken dat dit ‘n onskuldige lewe sou red – vertel vir Saul om sy afwesigheid by die fees met nuwemaan (wanneer die maan nie sigbaar was nie, omdat dit tussen die aarde en die son is, en die donker kant na die aarde gedraai is) te verklaar.

Dit is interessant dat Israel met nuwemaan ‘n fees gehou het (Num 10:10), ‘n ekstra sabbat, anders as ander volke wat feeste eerder met volmaan gedoen het. Die rede was dat hulle die begin van die nuwe maand daarmee gevier het (Num 28).

Hierdie fees was ‘n familie geleentheid, ‘n goeie punt om Saul te pols oor Dawid. As Saul kwaad sou raak oor Dawid nie daar opgedaag het nie, sou dit ‘n teken wees dat hy nie maklik met Dawid sou versoen nie.

Jonatan het ingestem om Saul se gesindheid oor Dawid te toets, veral omdat hy ‘n verbond met Dawid gesluit het dat hulle wedersyds vir mekaar se families sou sorg. Iets wat later uitgevoer sou word deur Dawid toe hy vir Jonatan se seun, Mefiboser, gesorg het na Jonatan se dood (2 Sam 9; hy tree selfs met genade op teen Mefiboset toe daar ‘n suspisie was dat hy koning probeer word het – 2 Sam 16; 19).

Jonatan reël ook dat hy die uitslag met ‘n ingewikkelde plan met pyle aan Dawid bekend gemaak sou word.

Saul reageer aanvanklik by die fees met geduld, maar besef teen die derde dag dat Dawid doelbewus nie opgedaag het nie, en verkwalik Jonatan dat hy vir Dawid in die bres tree en noem hom ‘n “eiewys klein misbaksel!” en probeer selfs om Jonatan dood te maak. Let op hoe Saul van hier af na Dawid as sy vyand begin verwys deur nie meer sy naam direk te gebruik nie: “die seun van Isaï.”

Saul is natuurlik reg in sy oordeel oor Jonatan, want hy hét gekies vir Dawid. Daarom ervaar hy dit as verraad. Maar, hy ignoreer daarmee sy eie aandeel in die verwydering met Dawid vanweë valse beskuldigings.

Jonatan kies natuurlik vir Dawid, nie net weens sy liefde vir hom nie, maar ook vanweë sy erkenning van God se keuse vir Dawid in die plek van sy pa. Hoe roerend seën Jonatan nie vir Dawid nie: “Mag die Here by jou wees soos Hy by my pa was.”

Jonatan verlaat self die familiefees en lig Dawid in van die verharde hart van sy pa teenoor Dawid, eers met die plan rondom die skiet van pyle, en dan in persoon.

‘n Tydperk van uiterste gevaar breek vir Dawid aan. Hy is ‘n uitgeworpene in die koningshuis, sonder sy wapens en kos, en op hierdie stadium sonder enige manskappe. Die volgende hoofstuk sal wys hoe die Here hom selfs in sulke uitmergelende omstandighede bewaar en vir hom voorsien.

Boodskap en betekenis

Die verbond van vriendskap tussen Dawid en Jonatan staan uit in hierdie hoofstuk. Hulle vriendskap is diep gewortel in hulle getrouheid aan God en hulle beloftes aan mekaar. Dit herinner ons daaraan dat ware vriendskap kosbaar is, veral in die verbintenis wat ons aan mekaar maak voor die Here. Dit is een van die maniere waardeur die Here vir ons voorsien in tye wat ons erge vyandskap en verraad van magtige persone moet verduur.

Die vriendskap tussen Dawid en Jonatan staan dus in skerp kontras met die vyandskap van Saul. Saul raak van hier af heeltemal obsessief om Dawid dood te maak. Gelukkig hou Jonatan aan om alles in sy vermoë te doen om Dawid te beskerm, al lyk dit of dit vanuit die menslike perspektief nie in sy eie beste belang is nie. Hy was immers die kroonprins. Maar, dié voorreg was hy bereid om op te offer weens sy liefde vir Dawid en sy erkenning van God se verkiesing van Dawid as toekomstige koning.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar