Skip to main content

1 Tessalonisense 1

Geloof, liefde en hoop energeer

Die eerste brief aan die Tessalonisense kom van Paulus, Silvanus (Silas se Latynse naam) en Timoteus wat so pas in Korinte aangekom het, soos ons in Handelinge 18 gelees het. Hulle het nuus gebring van die gemeente saam met vrae oor sekere aspekte van die evangelie. Paulus kon op sy medewerkers staatmaak om die gemeente – wat nog nie ‘n jaar oud was nie! – te versorg, maar daar was sekere dinge waaroor hulle ook raad en leiding nodig gehad het.

Teks en konteks

Paulus reageer in sy brief deur die gemeente te beskryf as een: “wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort”. In die oorspronklike Grieks staan daar letterlik “wat IN God …is”. En in hulle verbintenis aan God is hulle ook verbind aan alle ander gemeentes wat aan God behoort.

Dit is die eerste ding wat Paulus wil beklemtoon, want God is die spil waarom gemeentewees draai.

Paulus raak tweedens die tema van geloof, liefde en hoop aan en gebruik dit as beskrywing van ‘n Christelike lewe wat die moeite werd is (vgl 1 Tess. 5:8; Rom. 5:2-5; 1 Kor. 13:13; Gal. 5:5-6; Kol. 1:4-5)

Interessant is dat die orde van die woorde in die onderskeie briewe verskil, na gelang van die omstandighede van die mense waarvoor geskryf word. Hier is die klem van Paulus op die hoop, waaroor hy in verband met die wederkoms verder sal uitbrei. Die drie woorde word ook deur ander skrywers in die NT gebruik (Hebr. 6:10-12; 10:22-24; 1 Pet. 1:21-22).

Dit is ook een van die mees fundamentele beskrywings van die Christelike lewe. En wat spesifiek interessant is, is dat dit so aksievol en konkreet beskryf word:

  1. die werk van julle geloof,
  2. die inspanning van julle liefde en
  3. die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus.

Let verder op hoe vers 5-6 met die werk van hulle geloof te make het, vers 7-8 met die inspanning van hulle liefde, en vers 9-10 met die volharding van hulle hoop. Voorwaar nie net ’n kunstige manier om te skryf nie, maar ’n uitstaande samevatting van wat die Christelike lewe behels.

En deur hulle geloof, hoop en liefde word die Tessalonisense ’n voorbeeld vir al die gelowiges van Griekeland (vanuit die getuienis van die gelowiges in die provinsies Masedonië waar Tessalonika geleë is, en Agaje waar Korinte geleë is). Daarvoor dank Paulus God, omdat dit ’n kragtige getuienis is van die werk van die Heilige Gees.

Dit alles word verbind aan die wyse waarop die evangelie tot hulle gekom het:

  1. met woorde,
  2. met krag en die Heilige Gees, en
  3. met volle oortuiging.

Dit legitimeer dus ook Paulus-hulle se eie bediening, al was hy daar net vir drie weke. Gelukkig kon Silas en Timoteus verder in die gemeente bedien.

Soos die spreekwoord lui in Afrika: “jy kan nie met een vinger ’n vlooi knyp of ’n drom speel nie”. Die bediening is ’n gesamentlike onderneming. En hulle was nodig om daar Paulus se hande en voete te wees.

Op die koop toe het die gelowiges se reaksie bevestig dat God hulle liefhet en uitverkies het vir dié lewe.

Let op hoe die uitverkiesing hier aan God se liefde verbind word, en nie aan sy oordeel nie. Die uitverkiesing word sigbaar in die gelowiges se ontvanklikheid vir die evangelie, soos ons in Handelinge 13:49 gesien het: “Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword.”

Die uitverkiesing is dus iets waaroor jy juig as jy dit sien, nie iets waaroor jy spekuleer as jy dit nog nie sien nie.

Let ook op dat daar ’n duidelike verandering in hulle lewens plaasgevind het. Hulle het hul afgode gelos om die lewende God te aanbid. Geen wonder dit het tot vervolging aanleiding gegee nie, want hulle bekering plaas ander mense voor ’n keuse.

Dit Trinitariese beskrywing van God regdeur die gedeelte val ook op. Soos Paulus-hulle saamwerk, doen God dit ook (of is dit juis andersom!).

Boodskap en betekenis

Die gloeiende beskrywing van hierdie gelowiges se ywer motiveer my in my eie volharding in geloof. As hulle so drasties en dramaties tot bekering kon kom en vir die Here kon begin lewe – na net drie weke se bediening! – dan spoor dit my aan om meer te doen met wat ek oor die jare van die Here (en ander gelowiges) ontvang het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar