Skip to main content

Filippense 1:12-2:4

Wees eensgesind na buite en na binne

Die vertroue op God se werk in hulle, en die verantwoordelikheid om daaraan gestalte te gee in hulle praktiese lewens, word nou toegepas in hulle verhoudinge na buite en na binne. Hulle eenheid moet in ‘n evangeliese lewenstyl na buite tot sy reg kom, sowel as in die eensgesindheid wat hulle op talle maniere na binne handhaaf. Dit is wat die doel van die ondersteuning van die Here Jesus Christus sowel as sy Gees in hulle geloofslewe wil bewerk.

Teks en konteks

Dit tref my dat Paulus hulle adelphoi noem, die voorkeur manier waarop die broers en susters in die familie van God aangespreek is. Dit is ’n woord wat beide geslagte ingesluit het. Hulle is ook die heiliges in Christus Jesus (Fil. 1:1), die kinders (tekna) van God (Fil. 2:15), en die geliefdes (agapetoi) uit Paulus se perspektief, mense wat na aan sy hart lê (Fil. 2:12), maar in terme van hulle onderlinge gemeenskap, familie van mekaar (Fil. 1:12,14; 3:1,13,17; 4:1,8,17). Hierdie verbintenis aan mekaar in die Here is belangriker as enige ander band wat mense aan mekaar bind.

Ons sien hier ook dat Paulus se evangelie veral ’n evangelie van eenheid was. Vandaar nie net sy teologiese motivering daarvan in Efesiërs 2-3 nie, maar ook sy vroeëre baie praktiese stryd om die Joodse en heidense Christene in Galasië aan een tafel te kry in Antiogië (Gal. 2). Ons sien in sy briewe:

  • dat waar hierdie eenheid deur verskillende legitieme opinies oor die gebruik van kos en wyn, die hantering van werknemers en die nakom van dagritmes bedreig is (1 Kor. 8-10; Rom. 14-15) sy raad was om die eenheid te bewaar deur nie wedersyds te veroordeel of te verag nie, en mekaar toe te laat om eie opinies te hê.
  • Wanneer daar egter kwessies opgeduik het waaroor daar net een legitieme opinie kon bestaan, bv. oor Jesus Christus se opstanding (1 Kor. 15), of etiese vraagstukke soos bloedskande en ander immorele verhoudings (1 Kor. 5-6), is die eenheid juis beskerm deur op te tree teen die verkeerde opinies of lewenstyl .

Oor al die ander kwessies waaroor gelowiges kon verskil, was die uitdaging egter altyd om nie net verdraagsaam te wees nie, maar “to welcome one another; to rejoice in each other’s presence and the rich diversity of God’s people; and, ultimately, to worship together with one heart, mind and voice” (Wright), presies dit wat nou hier in Filippense aangeroer word.

Hierdie eenheid moet tot sy reg kom in ’n evangeliese lewenstyl na buite

Paulus roep die gemeente van Filippi op om in hulle onderskeiding van wat regtig belangrik is, te fokus op hulle lewenswandel na buite. Die prioriteit moet wees dat hulle publieke gedrag in ooreenstemming sal wees met die evangelie van Jesus Christus. En dit moet hulle onverskrokke en kompromieloos doen. Dit gaan vir hom nie in die eerste plek of hulle reg glo, of dit reg kan verwoord nie – hoe belangrik dit ook al mag wees – maar of hulle lewenstyl die evangelie waardig is, al beteken dit ook dat hulle daarvoor moet ly. Lyding is immers ’n voorreg, en ’n teken van ware geloof. Die rede hoekom dit vir hom so belangrik is, het met die publieke getuienis van die evangelie te make. Die woordjie wat hy hier in vers 27 gebruik vir lewenswandel kom van politeuomai af (die woorde politiek en polities is hiervan afgelei) wat gewoonlik gebruik is om die gepaste burgerlike gedrag uit te druk, d.w.s om soos ’n ware Griek of Romein op te tree.

Paulus roep die gemeente in Filippi dus op om soos burgers van die hemelse koninkryk op te tree (vgl. Fil. 3:20 waar hy dit eksplisiet sê: “Ons is burgers van die hemel …”), om in vennootskap met mekaar na buite op te tree. Niks rand immers mense se geloof in die evangelie so ernstig aan, as gelowiges wie se lewens nie die waarheid en wonder daarvan sigbaar maak in hierdie lewe nie. Daarom roep Paulus die gelowiges op om een van gees en siel saam te stry vir “die geloof in die evangelie”, al is daar ook hoeveel teëstand teen die evangelie. Hulle lewenswandel moet ’n kragtige getuienis wees wat mense aan die waarheid van die geloof kan blootstel, sodat die Gees sy oortuigingswerk kan doen.

Hierdie eensgesind moet ook na binne gehandhaaf word

Saam met hierdie publieke eensgesindheid is dit net so belangrik om eensgesind na binne toe te wees. Paulus roep die gemeente op om “eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, en een in strewe” (Fil. 2:2). Die frase wat met eensgesind vertaal word (auto phronête) beteken letterlik “om dieselfde te dink”, of like-minded te wees, soos ’n paar Engelse vertalings dit het (in Fil. 4:2 word dieselfde frase gebruik en gekwalifiseer met “in die Here”; ook in Rom. 12:16; 15:5; 2 Kor. 13:11). Die woord phronête dui nie net op intellektuele denke nie, maar sluit emosies, houdings en die wil in. Dit beteken dat die like-mindedness nie net intellektueel kan wees nie, d.w.s om dieselfde te dink nie. Dit is eerder, soos Hawthorne dit pragtig sê: “a unity of spirit and sentiment in which powerful tensions are held together by an overmastering loyalty to each other as brothers and sisters in Christ”. Hierdie eensgesindheid word met drie frases gekwalifiseer wat die betekenis verder uitspel: deur “dieselfde liefde (agape – liefde ten spyte van) te hê” (vgl. 1:9), deur “een van siel te wees” (sumpsuchos – “togetherness in soul”, emosies in harmonie – ‘n mens sien hier miskien iets van die Griekse idee dat ware vriende een siel was wat in twee liggame geleef het), en deur “een van gedagte” (phronountes – denke in harmonie) te wees. Hulle word dus hier opgeroep om eenheid in Christus te soek, en nie in hulle eie onvolkome begrip of ervaring van die evangelie (intellektueel of emosioneel) nie, en dit veral nie te gebruik as ’n verskoning om mekaar te los of ten minste nie die moeite te doen om mekaar te vind nie. Hiervoor het ’n mens nederigheid nodig, sowel as baie dapperheid, presies dít wat Christus gedemonstreer het, soos Paulus net hierna sal verduidelik!

Ondersteun en geïnspireer deur Christus en die Gees

Daarvoor het hulle die ondersteuning en inspirasie van Christus – Sy troos (paraklesis – ’n woord wat ook veral vir die Gees se werk gebruik word) en, die aansporing van Sy liefde – en Sy Gees – die gemeenskap (koinonia) en innige meegevoel en meelewing van Sy Gees. Dit is die dinge wat selfsug en eersug laat plek maak om aan ander se belange te dink.

Boodskap en betekenis

Eensgesindheid sal net ’n droom bly, as elkeen ingestel sal bly op hulle eie belange. Waar moeite gedoen word om eie belange of voordeel te bevorder, eerder as ander s’n, bly eenheid altyd in die slag. Let egter op dat Paulus nie hier sê dat ’n mens jouself en jou eie belange moet ontken of vermy nie, maar juis nederig in diens moet stel van ander se belange. Soos Albert Schweitzer (The Mysticism of Paul the Apostle) oor Paulus se hantering van die self skryf: “no loss of self but an enriching of it; no erasure of time or place but a comprehension of how time and place fit within the eternal.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar