Skip to main content

2 Samuel 10

Dawid tree sterk op waar onderlinge ooreenkomste verbreek word

Ons lees vandag 2 Samuel 10 en môre 1 Kronieke 19 wat verder handel oor Dawid se oorloë. Daarna lees ons Psalm 20 en 35 wat waarskynlik in hierdie tyd geskryf is. Daaropvolgend fokus ons op die verhaal van Dawid se sonde met Batseba in 2 Samuel 11-12 wat ook in die loop van hierdie tyd plaasgevind het. Kronieke ignoreer die verhaal van Batseba, maar ons lees wel van dieselfde oorloë in 1 Kronieke 20 wat ooreenstem met die laaste deel van 2 Samuel 12:26-31.

Die verhaal van hierdie reeks oorloë begin in 2 Samuel 10 met die dood van Nagas, koning van die Ammoniete, nageslag van Lot by een van sy dogters (Gen 19). Dawid stuur gesante na Nagas se seun, Ganun, uit respek vir hom, en dring daarop aan dat hy hul vorige reëlings eerbiedig. Ganun aanvaar egter dwase raad en rebelleer teen Dawid. Hy roep ook die Arameërs (Siriërs) op om saam met hom in opstand teen Dawid te kom. Aangesien die Here met Dawid is net waar hy ook al gaan (2 Sam 8:6, 14), verslaan Dawid met die hulp van sy leërowerstes die opstandelinge en herwin weer beheer oor hierdie streke.

Teks en konteks

Ons  lees in 2 Samuel 10 net van die eerste deel van die oorlog teen die Ammoniete. Daarna fokus 2 Samuel 11-12 op Dawid se owerspel en die moord wat hy laat pleeg in die midde van hierdie oorlog. Die res van die oorlog word wel in meer detail in Kronieke vertel.

Dawid probeer eers diplomatieke betrekking met hulle vestig, maar sy gesante word verneder. Hy steek ‘n welwillende hand uit na Ganun, toe sy pa, Nagas, gesterf het. Sy raadgewers verdink Dawid egter van vuilspel. Dit laat Ganun verraderlik optree deur Dawid se gesante te verneder deur die helfte van hulle baarde af te skeer en die onderste deel van hulle klere af te sny.

Die afskeer van die een kant van hulle baard, die sieraad van mans in die Ou Nabye Ooste, was reeds ‘n groot vernedering, en ‘n parodie op rou-gebruike van dié tyd (Jer 48:37; Job 1:20; vgl ook Jes 20:4 waar dit metafories vir die oordeel van God gebruik word). Die afsny van die helfte van hulle klere was ‘n nog groter vernedering, want dit het hulle basies kaal gelaat.

Voordat Dawid-hulle nog kon optree teen dié veragtelik daad het die besef tot die Ammoniete gekom dat hulle hulleself nou eintlik blootgestel het vir teenreaksie en huur 33 000 soldate van die Arameërs vir die oorlog wat waarskynlik nou sou uitbreek.

Met reg was hulle bang, want Dawid hanteer sy gesante met deernis, en stuur vir Joab en die hele leër van helde om die Ammoniete ‘n les te leer. Joab het sy keurtroepe gebruik teen die huursoldate van die Arameërs en sy broer, Abisai, teen die Ammoniete opgestel.

Let op hoe Joab sy troepe moed inpraat deurdat hulle ooreenkom om mekaar te hulp te snel as enige van die twee leërmagte gevaar sou loop om oorwin te word, want hulle veg immers ter wille van die volk van God. Maar, terselfdertyd beroep Joab hom op die Here: “Die Here sal doen wat goed is in sy oë.”

Aanvanklik bied die Ammoniete teenstand, veral met die terugtrek in hulle stad. Hulle bondgenote, die Arameërs, selfs met die versterkings wat hulle oproep, kom egter sleg tweede in die oorlog, veral met Dawid wat by sy leërmagte aansluit. Dit lei daartoe dat Israel ‘n groot oorwinning oor die Arameërs behaal en die Aramëers gedwing word om vrede met Israel te maak en só aan Dawid onderhorig te word.

Die gevolg was dat die Ammoniete hierdeur so verswak is, dat dit uiteindelik tot ‘n groot oorwinning van Dawid oor die Ammoniete sou lei. Ons lees daarvan in hoofstuk 12.

Die getalle wat in 2 Samuel 10:18 en 1 Kronieke 19:18 verskil. Die verskil tussen 700 en 7 000 trekperde (of strydwabemanning) kan weens ‘n skryffout verklaar word. Vertalings verskil ook of die verwysings na mense of perde verwys en of dit 40 000 of 40 afdelings sou wees.

Die Griekse LXX vertaling van 2 Samuel 10:18 harmonieer dit met 1 Kronieke 19:18 en lui in albei gevalle: “sewe duisend van die strydwabemanning en veertig duisend voetsoldate”. Dit is moontlik die beste interpretasie daarvan.

Hoe dit ook al sy, Dawid-hulle wis amper die hele gehuurde leërmag van die Arameërs uit.

Boodskap en betekenis

Hierdie oorwinning was regtig betekenisvol. Nie net is ‘n groot deel van die weerbare manne van die Arameërs uitgewis nie, maar hulle bevelvoerder is dodelik gewond, en hulle strydwabemanning ‘n ernstige knou toegedien.

Dit is ook betekenisvol dat dit uiteindelik Dawid self is wat die leër in die oorlog lei en daarmee beide die Arameërs en hulle bondgenote onderwerp het. Ons sien ‘n baie besliste en uiters bekwame Dawid wat nie net sterk optree as ooreenkomste verbreek word nie, maar inderdaad die vyand tot oorgawe kan bring.

Dawid het nou beheer gehad regdeur Israel van die Filistynse kant aan die Middelandse See tot aan die anderkant van die Jordaan in die ooste. Hierdie politieke oorheersing het vir almal groot ekonomiese voordeel gebring, omdat die groot handesroetes nou deur hom beskerm is.

Die mag van die Ammoniete is terselfdertyd verminder, omdat hulle bondgenote nou aan Dawid onderdanig was. Ook hulle sou uiteindelik aan Dawid onderhorig word… as Dawid maar net nie hierna op sy louere sou rus en nie meer in die oorlog sou uittrek nie. In 2 Samuel 11 sal ons die tragiese gevolge vertel wat gebeur as ‘n mens nie meer voluit in die stryd betrokke is nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar