Skip to main content

2 Samuel 18

Absalom se dood is Dawid se wins en verlies

Dit is duidelik dat Absalom besef dat as hy volle beheer oor Israel en Juda wil hê, hy sy pa, Dawid, sal moet doodmaak. Hy fokus dus gewetenloos daarop. David skuif die geveg egter strategies na ‘n terrein wat by die sterkpunte van sy leër pas. Die resultaat is ‘n oorweldigende oorwinning deur Dawid se magte en die dood van sy opstandige seun, Absalom. Maar terwyl Dawid as koning uitmuntend optree in hierdie geveg, ruk die dood van sy seun steeds aan sy hart. Absalom se dood is Dawid se wins en verlies.

Teks en konteks

Dawid tree baie strategies op in die monstering van sy manskappe in drie afdelings onder bevel van drie uitnemende leiers: die twee broers, Joab en Abisai – neefs van Dawid – en Ittai, die Filistyn uit Gat wat uiters lojaal aan Dawid was (vgl 2 Sam 15:19-22). Op hulle beurt raai hulle die koning aan om nie self in die geveg uit te trek nie, want dit sou ‘n ramp wees as hy moet sneuwel. Goeie strateeg wat hy is, luister hy na hulle.

Hy gee opdrag om Absalom “saggies” te hanteer en nie dood te maak nie, hoewel Joab uiteindelik nie daaraan gehoor gee nie.

Dawid se manne kies ook om Absalom-hulle in beboste gebied die hoof te bied. Hulle ervaring sou daar van groot waarde wees. En inderdaad, hulle rig die dag ‘n groot slagting aan en oorwin die manne van Absalom.

Absalom word in die geveg aan sy hare vasgevang in ‘n boom wat hom tussen hemel en aarde laat hang. Dit sou almal laat dink het aan die vloek van God wat daar op iemand wat aan ‘n boom hang, rus (Deut 21:23). Joab voer dan op eie houtjie die straf vir sy opstand uit deur hom dood te maak. Hy is in ‘n groot gat begrawe waarop ‘n baie groot hoop klippe gepak is, soos dit ‘n keer tevore op Agan en sy familie gepak is ná sy oortredings om van die buit vir homself te steel in die veldtog teen Jerigo (Jos 7:26).

Al herinnering wat van Absalom oorgebly het, was die gedenksteen wat hy vir homself opgeëis en opgerig het. Let op dat hy met die oprigting verklaar: “Ek het nie ‘n seun om my naam in herinnering te hou nie.” Dit terwyl ons weet dat hy drie seuns (en ‘n dogter) gehad het (2 Sam 14:27). Hulle moes dus êrens gesterf het vóór die oprigting. ‘n Mens wonder watter rol sy eie hartseer in sy rebellie gespeel het?

Daarmee was die oorwinning egter verseël. Absalom se ondersteuners het gevlug. Die koning se seun het gesneuwel. Dawid het egter baie spesifiek gevra dat daar sag met Absalom gewerk word. Joab was dus bang dat Dawid onbeheersd kon optree as hy die nuus hoor van Absalom se dood. Die Kussiet is daarom verkies vir die boodskap eerder as die priesterseun, Agimaäs. Dit verklaar ook hoekom Agimaäs nie die dood van Absalom se dood aan Dawid oordra toe hy weens sy spoed eerste by Dawid aangekom het.

Dawid word regtig in die hart geruk deur Absalom se dood. Let hoe hy aanvanklik praat van die “jongman”. En toe hy besef Absalom is dood, op hartverskeurende manier praat van sy seun: “My seun Absalom; my seun, my seun Absalom! As ek maar in jou plek kon sterf! Absalom, my seun, my seun!”

Boodskap en betekenis

Die gedeelte raak ‘n mens op ‘n hele aantal vlakke. Die dood van Absalom is aan die een kant ‘n wins vir Dawid as koning. Dit is egter terselfdertyd aan die ander kant ‘n geweldige verlies. Dawid is immers nie net ‘n koning nie. Hy is ook ‘n pa wat diep geraak word deur die dood van sy seun.

Ons sien verder dat die gevolge van die sonde van Dawid voort woed in sy familie met die dood van Absalom. Absalom moet natuurlik self verantwoordelikheid vir sy rebellie neem, maar die immoraliteit van Dawid en die gebrek aan optrede in Tamar se geval, en die effek daarvan op Absalom, gee ‘n mens tog ‘n beter perspektief op die tragedie.

‘n Mens wil ook amper-amper simpatie hê met Absalom se bewussyn van sy verganklikheid met die oprig van ‘n gedenkteken vir homself (moontlik weens die verlies van sy eie seuns). Maar, dan besef ‘n mens dat dit getuig van ‘n man wat nie in afhanklikheid van die Here vra vir regstelling nie. Hy neem eerder dinge in sy eie hande op eiegeregtige manier. En in die proses kom hy in opstand ook teen die Here, want Dawid, sy pa, is uiteindelik die gesalfde van die Here.

Eiegeregtigheid kan egter nooit op ‘n gelukkige einde afstuur nie. Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele, dié plek waar God sy heerskappy nie net vestig nie, maar uitoefen (Matt 5:3).

Wanneer ons binnekort Psalm 9-10 gaan lees – wat verbind word aan die tyd ná Absalom se dood – sal ons lees hoe Dawid oor hierdie intriges en konflikte verder nagedink en met die Here deurgeworstel het.

‘n Laaste gedagte. Ons hang natuurlik metafories gesproke self ook tussen hemel en aarde as vervloektes weens ons eie sonde. Absalom se verhaal is dus ook in ‘n mate ons eie verhaal. Gelukkig dat daar Iemand anders was wat sondeloos aan die kruis tussen hemel en aarde vasgespyker was. Wat ons verlos het van die vloek van die sonde. Sodat ons nie in ‘n diep graf gebêre sal word aan die einde van die tyd nie. Maar, aan die bruilofstafel sal aansit saam met die Bruidegom, die Lam wat vir ons geslag is.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda