Skip to main content

Klaagliedere 1

“Ag, hoe verlate lê die stad”

Die Klaagliedere van Jeremia is ‘n versameling van vyf klaagliedere oor die val van Jerusalem en die tempel in 586 v.C. Die eerste woord van die eerste vers (die Hebreeuse woord ekâ) druk alreeds sy verslaentheid uit: “Ag, hoe verlate lê die stad.” Geen wonder dat dié woord ook as Hebreeuse titel gebruik is vir die versameling klaagliedere oor wat Jeremia moes waarneem met die val van Jerusalem.

Hoewel Jeremia nie in die boek genoem word nie, en baie geleerdes daarom dink dat die klaagliedere aan anonieme digters uit sy tyd toegeskryf moet word – daar is immers heelwat soortgelyke klaagliedere oor die verwoesting van stede, bv. die bekende en antieke Klaaglied oor die Verwoesting van Ur – kom baie van die frases in die boek ooreen met dié van die boek van die profeet Jeremia (vgl. bv. Klaagl. 1:15 met Jer. 8:21; Klaagl. 3:64–66 met Jer. 11:20; Klaagl. 4:21 met Jer. 49:12), en werk die twee boeke met dieselfde teologiese perspektiewe op oordeel en verlossing. Dit is ook duidelik ’n ooggetuie digter.

2 Kronieke 35:25 noem verder dat Jeremia klaagliedere geskryf het en dat dit in ’n boek opgeteken is: “Jeremia het ’n treurlied oor Josia gedig, en al die sangers en sangeresse het oor Josia gesing in hulle treurliedere. Dit word nou nog gedoen, dit het ’n gebruik in Israel geword. Die liedere is opgeteken in Die Treurliedere.” Hoewel dit nog steeds uiteraard nie sy outeurskap van hierdie vyf klaagliedere bewys nie, maak dit ’n stewig genoeg argument uit om Jeremia as skrywer van dié boek te aanvaar, soos dit inderdaad in die tradisie aan ons oorgelewer is.

Jeremia huil in hierdie boek hartroerend oor die toorn van God wat hy oor die land sien losbars het. Hy skryf as ’n ooggetuie van die traumatiese verwoesting van die stad, die verkragting en vernietiging van die mense en die verstrooiing van die volk in ballingskap. In hartverskeurende detail brei hy uit oor die dodelike impak daarvan op die geloofsgemeenskap.

Die probleem was ook nie net dat die volk Juda sosiaal, ekonomies en polities verwoes is nie. Dit was immers al erg genoeg. Maar, hulle worstel nou in ballingskap veral met die feit dat hulle teologiese sekerhede vernietig is.

Hulle het geglo dat God Sy volk, Sy huis (die tempel) en Sy stad sou beskerm. Dit het sy verbond met Abraham, Moses en Dawid immers behels, soos die Skrifte hulle beloof het. Maar Hy het nie sy verbond in stand gehou nie. Hy het die stad van belofte en die plek van Sy teenwoordigheid vernietig en die volk in ballingskap laat wegvoer.

Die vraag was dus brandende: Hoe kon God soveel ellende oor Sy volk laat kom? Hoe kon Hy Sy eie beloftes só versaak? En waar laat dit hulle nou? Sou daar nog iets oor wees vir die toekoms? Wat kon hulle nou van God verwag? Sou daar ’n omkeer moontlik wees?

Dit is in dié situasie dat Jeremia met sy Klaagliedere die hartseer en verydeling van die volk verwoord. Sy digwerk gee woorde aan die worsteling, gee redes vir die oordeelsvoltrekking, veral redes wat verband hou met die feit dat die volk hulle kant van die verbond nie nagekom het nie, maar formuleer tog ook die hoop dat God Hom weer sal ontferm, want “Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop.” (3:25).

Indeling

Die vyf klaagliedere is kunstig opgebou in akrostiese vorm. Dit beteken dat in hfst. 1,2,en 4 elke vers met ‘n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin, 22 in getal. In hfst. 3, die middelste hoofstuk, begin telkens drie verse op ‘n keer elkeen met dieselfde opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet. Die hoofstuk is dan ook die kern van die boodskap van Jeremia wat God se hart vir die volk in ballingskap die diepste verwoord. Sy slotsom dat ’n mens alleen op God se barmhartigheid jou hoop kan bou. Hfst. 5 het ’n vryer opbou, maar steeds 22 verse, hoewel elke vers nie met ’n opeenvolgende letter van die Hebreeuse alfabet begin nie.

Hierdie aanpak van die skrywer is nie net ’n goeie kommunikasie metode wat ’n mens help om die verse agter mekaar te kan opsê nie, maar dit kommunikeer in ’n sekere sin ook ’n konsekwentheid in God se optrede. Daar is ’n orde in wat Hy doen. Jy kan op sy integriteit om te doen wat Hy beloof, staatmaak. Daarom kan ’n mens selfs in oordeel op God se karakter vertrou, waarvan sy troue liefde en sy goedheid twee konsepte is wat Jeremia aangryp as die basis vir sy hoop op die toekoms.

Die vyf klaagliedere volg op mekaar in terme van ’n perspektief op die verlede (hfst. 1-2), die hede (hfst. 3), en die hoop vir die toekoms (hfst. 4-5). My titels vir hoofstuk 1,2 en 4 kom uit die eerste verse van dié hoofstukke, terwyl hoofstuk 3 en 5 se titels uit die kernvers van die onderskeie klaagliedere kom.

Teks en konteks

Twee sprekers tree op in hierdie gedig, die profeet en die verpersoonlikte Jerusalem. Dit gee ook ’n handige verdeling van die inhoud van die gedig:

  • 1:1-11b – Profeet: “Ag, hoe verlate lê die stad wat vol mense was.
  • 1:11c-16 – Jerusalem: “Kyk tog, Here, en sien tog raak hoe verag ek is.
  • 1:17 – Profeet: “Sion steek haar hande uit om hulp, maar daar is niemand wat haar bystaan nie.
  • 1:18-22 – Jerusalem: “Die Here het reg gedoen: ek was ongehoorsaam aan sy woord.

Klaagliedere 1:1-11b – Profeet: “Ag, hoe verlate lê die stad wat vol mense was.

Jeremia huil in hierdie gedig hartroerend oor die effek van God se toorn oor Jerusalem. Dit is soos ’n begrafnis wat hy moes gadeslaan (die woord wat hier vertaal is met “Ag, hoe” is baie keer in rouprosesse gebruik). Dit is duidelik dat hy hier as ’n ooggetuie skrywe van twee van die gevolge van God se toorn:

  1. Die traumatiese effek van die verwoesting van die stad op die psige van die volk:
  • Die prominente stad het soos ’n weduwee geword.
  • Sy moet nou dwangarbeid doen: “sy wat heerskappy gevoer het”.
  • Daar is niemand van haar vorige bondgenote naby om haar te help nie. Hulle het haar verraai en haar vyande geword.
  • Hulle onthou die kosbare dinge uit die verlede, maar weet dit is nou verby, die stad het onrein geword soos ’n menstruerende vrou, dit wys selfs op haar klere, sy is in haar naaktheid ontbloot (’n metafoor vir verkragting).
  1. Die ongebreidelde chaos wat in die gemeenskap sowel as in die heiligdom heers weens die verstrooiing van die volk in ballingskap:
  • Juda se mense is weggevoer en kry swaar tussen vreemde mense.
  • Hulle is nou ’n slawevolk. “Haar teenstanders het haar heersers geword.
  • Die paaie na Sion toe treur omdat daar geen feesgangers is nie.” Die pelgrimstogte na Jerusalem vir die verskillende feeste het tot stilstand geknars. Die priesters sug, die plek is verlate, Jerusalem het dit bitter.
  • Die prag van Sion het alles verdwyn en haar leiers moes magteloos wegtrek. Dink aan Sedekia wat vir Nebukadnesar gevlug het (Jer. 40), Ismael wat die agtergeblewe volk na die Ammoniete probeer wegvoer het (Jer. 41) en uiteindelik Joganan wat met hulle na Egipte toe getrek het ná die val van Jerusalem (Jer. 43).
  • Die waardevolle dinge in die tempel is uit die heiligdom weggevoer en die tempel ontheilig.
  • Die volk ly broodsgebrek.

Op twee plekke word die rede daarvoor aangegee. Dit is oor “haar baie sonde” – die woord vir sonde in vers 5 is eintlik opstande of rebellies, boonop in die meervoud – en die “groot sonde” wat sy gedoen het. In vers 8 word die meer normale woord vir sonde gebruik.

Klaagliedere 1:11c-16 – Jerusalem: “Kyk tog, Here, en sien tog raak hoe verag ek is.

Jerusalem verwoord haar eie leed in ’n gebed aan die Here: “Kyk tog, Here, en sien tog raak hoe verag ek is.” Sy vra ook aan die omringende nasies of haar onnoembare leed hulle nie raak nie: “of daar ’n smart is soos die smart wat oor my gekom het nie”.

Sy wyt dié smart aan die toorn van die Here wat oor haar losgebreek het. Haar sondes is as’t ware saamgebind tot ’n juk en op haar nek gesit wat haar kragte getap en laat ingee het. Sy kon dus nie weerstand bied teen haar teëstanders nie.

In die parskuip het die Here vir Juda fyngetrap.” Dit is daarom dat sy so huil: “dat die trane uit my oë stroom.” Daar is geen trooster naby nie. Die bevolking is verslaan. Die vyand het die oorhand gekry.

Klaagliedere 1:17 – Profeet: “Sion steek haar hande uit om hulp, maar daar is niemand wat haar bystaan nie.

Jeremia eggo in ’n enkele vers dat daar niemand is wat haar bystaan nie, al steek sy haar hande uit om hulp.

Klaagliedere 1:18-22 – Jerusalem: “Die Here het reg gedoen: ek was ongehoorsaam aan sy woord.

In ’n boodskap bedoel vir die ander nasies erken Jerusalem nie net dat haar straf weens haar verkeerde alliansies gekom het nie – “Ek het na my bondgenote geroep, maar hulle het my in die steek gelaat” – maar veral omdat die Here reg gedoen het. Dit is die punt van omkeer, van vernuwing, die besef dat die Here se reg bó alles staan, en dat die erkenning daarvan die begin van nuwe moontlikhede is.

Daarom kan sy die Here vra vir ingrype in haar nood, al word sy deur die swaard van die Here afgemaai. Sy wens ook dieselfde straf vir haar teëstanders wat hulle verlekker in haar smart: “Doen met hulle soos U met my gedoen het oor al my sondes.

Boodskap en betekenis

Dit is duidelik dat die waarheid pynlik is om te sluk, maar Jerusalem kon dié chaos vermy het as hulle nie teen God gerebelleer het in hulle sonde nie. Die straf van ballingskap kon afgewend geword het as hulle maar net geluister het na die boodskap van die Here wat hulle gewaarsku het dat sy toorn oor hulle sal ontvlam weens hulle ongehoorsaamheid.

Die evangelie in hierdie gedeelte is die besef dat die erkenning van sonde gekoppel aan die erkenning dat die Here reg opgetree het, die begin van die verandering kan wees. Dit is ’n boodskap wat vir alle tye geld. Soos die tollenaar in die tempel, anders as die Fariseër, daar ver gaan staan het en selfs nie na die hemel toe wou opkyk nie, só moet ons ook bid: “O God, wees my, sondaar, genadig.” (Luk. 18:9-14).

Dit is dan wanneer ons die Here Jesus hoor sê: “Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…