Skip to main content

Eksodus 40

Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel

Teks en konteks

Die trio van die Trek, die Tora, en die Tabernakel word uiteindelik voltooi met die Here se teenwoordigheid wat die Tabernakel vul. As die gee van die Tora op Sinai die onderbou verskaf het vir die lewenswyse en gedrag van die volk, het die volmaak van die Tabernakel met die teenwoordigheid van die Here die ruimte verskaf vir die aanbidding van die volk. Etiek en liturgiek in volmaakte samehang, iets wat ‘n mens later in die Psalms gereflekteer sal sien (ek sal een of ander tyd iets daaroor publiseer na aanleiding van ‘n referaat wat ek by ‘n OT kongres gelewer het).

Daarmee skets die boek die volle prentjie van wat dit beteken om coram Deo, voor die Here, te lewe. Jou hele lewe word ingesluit in die moreel-etiese tipe lewe wat die Tora voorskrywe, veral begrond in die Tien Gebooie van Eksodus 20. Jou hele lewe vind ook sy betekenis in die tipe aanbidding wat moontlik is in die ruimte van die Tabernakel wat deur God se teenwoordigheid gevul word (later natuurlik in die Here Jesus Christus), onder andere begrond in die Twaalf Gebooie van Eksodus 34.

Die tabernakel word opgeslaan en ingewy – Eks. 40:1-33

Die Here gee die opdrag dat die voltooide tabernakel op die eerste dag van die eerste maand in die tweede jaar na die Uittog opgeslaan moet word met al sy toebehore. Die werk is dus in min of meer nege maande voltooi nadat hulle by die berg van die Here aangekom het (Eks. 19).

Die tabernakel moet eers opgeslaan word – soos dit telkens moes gebeur as hulle getrek het – waarna die ark met die getuienis daarin neergesit moet word en afgeskort word met die voorhangsel. Daarna moet die tafel vir die offerbrood, die kandelaar met sy lampe neergesit en opgesteek word, sowel as die goue wierookaltaar voor die voorhangsel.

Die brandofferaltaar en die waskom moet dan neergesit word voor die Heiligste en Allerheiligste deel van die tabernakel waarna die voorhof opgeslaan moet word en die afskorting in die ingang van die voorhof gehang word. Met die salfolie moet die tabernakel en alles wat daarin is daarna aan die Here gewy word, sowel as die brandofferaltaar en die waskom.

Daarna kom die priesters aan die beurt wat gewas, geklee, gesalf en gewy moet word om die Here te kan dien. Die Here beklemtoon ook dat priesterskap ‘n lewenslange roeping is.

Met ‘n bietjie meer detail word Moses se uitvoering van die Here se opdragte gegee waarin hy bv. die voetstukke, rame, dwarslatte en style regop gesit het. Die tentdoeke en bedekkings is daarbo-oor gespan, soos die Here hom beveel het. Daarna is die getuienis – die Tien Gebooie – vir die eerste keer in die ark gesit, die draaghoute ingesteek en die deksel bo-op die ark neergesit. Daarna is die ark in die tabernakel ingebring en die voorhangsel opgehang as afskorting. So ook die tafel vir die offerbrood aan die noordekant van die tabernakel, en die kandelaar aan die suidekant waarvan die lampe opgesteek is en die wierook op die wierookaltaar aan die brand gesteek is.

Die afskorting in die deur van die tabernakel is volgende gehang, die brandofferaltaar neergesit by die deur van die tabernakel, en daarop brandoffers en graanoffers aan die brand gesteek. Die waskom en die brandofferaltaar was volgende aan die beurt en Moses en Aäron en sy seuns het hulle hande en voete daarin gewas, soos hulle dit telkens gedoen het as hulle by die tent van ontmoeting kom. Daarna het hy die voorhof rondom die tabernakel en die altaar opgerig en die afskorting voor die ingang van die voorhof gehang.

So het Moses sy werk aan die tabernakel afgehandel. En dit was nog nie eers ‘n jaar ná die trek uit Egipte nie! ‘n Moeilike en uitdagende werk, maar ‘n werk wat welgedaan is in afhanklikheid van die direkte leiding van die Here God.

Die teenwoordigheid van die Here vul die tabernakel – Eks. 40:32-38

Die verwagting van die teenwoordigheid van die Here word vervul met die wolk wat die tent van ontmoeting oordek, en die magtige teenwoordigheid van die Here wat die tabernakel gevul het, ‘n Godsverskyning (epifanie). Dit is iets wat die aartsvaders al ten dele ervaar het (Abraham in Gen. 18-19; Isak in Gen. 27:7; Jakob in Gen. 28 en 32), en Moses met die brandende doringbos (Eks. 3), sowel as die Israeliete in die woestyn (Eks. 16) en by die Sinaiberg (Eks. 19-24).

Hierna sou dié teenwoordigheid veral by die Tabernakel sigbaar wees, soos dit ook later by die tempel sou gebeur (Salomo – 1 Kon. 8; 2 Kron. 7; Jesaja – Jes. 6; In Eseg. 9-11 verlaat die teenwoordigheid van die Here die tempel met die ballingskap om weer met die nuwe tempel terug te keer, soos Eseg. 43 vv. dit vertel). Uiteraard sou God se teenwoordigheid uiteindelik nie tot ‘n verbintenis aan ‘n gebou of ‘n plek beperk kon word nie, en voorspel Habakuk 2:14 dat ná die ballingskap: “soos waters die seebodem bedek, so sal die magtige teenwoordigheid van die Here oral op die aarde geken word.”

Dit is waarom Paulus later skrywe oor Jesus as: “die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul.” (Ef. 4:10). Daarteenoor sal die ewige verdoemenis bestaan uit die straf van dié mense wat die Here Jesus Christus nie gehoorsaam nie, om: “altyd geban (te wees) uit die teenwoordigheid van die Here en van sy wonderbaarlike mag.” (2 Tess. 1:9).

Christus is dus die Nuwe Testamentiese Tabernakel van God by wyse van spreke. Dié wat in ‘n verhouding met Hom leef, leef in die teenwoordigheid van God. Dié wat nie in ‘n verhouding met Hom leef nie, leef nie in die teenwoordigheid van God nie, soos Johannes later kripties skryf: “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.” (1 Joh. 5:12).

Die eerste Godsverskyning by die Tabernakel was só magtig dat Moses nie in die tent van ontmoeting kon inkom nie: die wolk was daarin, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tabernakel gevul. Die wolk sou ook die teken bly – soos dit alreeds die geval was met die Trek deur die woestyn tot by Sinaiberg – van God se begeleiding op die res van hulle pad na Kanaän. Hulle het agter die wolk aan versit. As die wolk nie weggetrek het nie, het hulle daar gebly totdat dit wel weggetrek het. Die wolk van die Here was bedags ’n wolk oor die tabernakel en snags het dit ’n vuur daarbo-oor geword.

Hulle sou nog ses weke hier bly voor die opdrag sou kom om te trek na die beloofde land (Num. 10:11). Altesame sou hulle dus amper ‘n jaar by die berg vertoef. In die tyd het Moses nog wette van die Here ontvang, die begin van die boek Levitikus, en ander riglyne wat Hy vir die volk moes deurgee, soos Numeri 1-10 dit vir ons duidelik maak.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda