Skip to main content

Deuteronomium 1

Vertroue in en gehoorsaamheid aan die Here is onverhandelbaar

Inleiding

Die tweede generasie van die Israeliete na die Uittog kamp in die vlakte van Moab. Hulle is gereed om die beloofde land Kanaän in te neem. Moses het egter aan die einde van sy reis as leier met die volk gekom. Net voordat hy sterwe, lewer hy daarom drie laaste “preke” om die volk voor te berei vir die Intog. Hy het dit, saam met al die vorige woorde van God: “tot die laaste woord toe, in ’n boek opgeteken”, en vir die Leviete gegee om in die Tabernakel by die verbondsark te bewaar as getuienis van God self aan die volk (Deut. 31:24). Daarom word die boek in Hebreeus: “Hierdie is die woorde” genoem.

Na sy dood op die berg Nebo sou Josua die volk verder lei die beloofde land in met hierdie wetboek as rigsnoer: “Oordink dit dag en nag en sorg dat jy alles uitvoer wat daarin geskryf staan. Dan sal jy slaag in wat jy moet doen, jy sal voorspoedig wees.” (Jos. 1:8).

Die drie toesprake van Moses vorm die inhoud van die boek Deuteronomium wat daarmee die vyf boeke van die Pentateug afsluit. Moses fokus in hierdie drie boodskappe op die impak van die verlede, hede en toekoms op die volk. Dit verskaf ‘n teologiese raamwerk waarbinne Israel nie net hulle identiteit as volk van God kan begryp nie, maar hulle absolute lojaliteit aan die Here as Verbondsgod kan verseker. Dit sou die lamp vir hulle weg en die lig op hulle pad wees (Ps. 119:105).

Moses begrond sy boodskappe in die genade van God wat sy beloftes vir die geloofsgemeenskap in vervulling sal bring. Hierdie genade van God sal vir hulle die lewe beteken as hulle aan God gehoorsaam is. Ongehoorsaamheid sal egter die oordele van die verbond oor hulle bring.

Met hierdie begronding van God se seën in ‘n oorsaak-gevolg skema stempel Deuteronomium die geskiedenis van Israel in die beloofde land, soos veral hierna in die Vroeë Profete – Josua, Rigters, 1 en 2 Samuel, 1 en 2 Konings – beskryf sal word. Gehoorsaamheid aan God sou met die keur van sy seëninge begroet word. Ongehoorsaamheid aan God sou hulle blootstel aan die trauma van sy strawwe wat uiteindelik in die oordeel van die onderskeie ballingskappe sou uitmond.

Deuteronomium is ook ‘n verbondsboek wat die struktuur van ander Ou Nabye Oosterse verdrae tussen konings en onderhorige volkere, bv. dié van die Hetiete, uit die 14de eeu v.C. en later vertoon. ‘n Mens kan die tradisionele indeling van sulke verdrae as volg in Deuteronomium sien:

  • Aanhef en historiese proloog (Deut. 1-4);
  • Stipulasies van die verbond (Deut. 5-26);
  • Klousules – algemeen en spesifiek – wat uitgevoer moet word (Deut. 27);
  • Seëninge en strawwe (Deut. 28-29; 32-33);
  • Getuies (Deut. 30-31).

Teks en konteks

Die eerste preek (Deut. 1:1-4:43) begin in Hebreeus met die woorde: “Dit is die woorde …” Moses herinner die volk in ‘n historiese terugblik waarvandaan hulle kom en begrond daarmee sy boodskap aan Israel in hulle gedeelde ervaring van God uit die verlede. Soos God aan hulle getrou was, sal Hy dit in die toekoms doen. Maar dan sal hulle Hom en Hom alleen moet dien.

Moses die profeet se woorde het Goddelike gesag – Deuteronomium 1:1-5

Moses tree as profeet op reg van die begin van die boek af. Anders as in die Ou Nabye Oosterse verdrae se aanhef en historiese proloog is dit nie die woorde van die koning nie, maar dié van sy woordvoerder wat opgeteken word (Deut. 1-4). Moses tree daarmee op as die woordvoerder van God wat sy wil op gesagvolle wyse bekend maak.

Abraham is natuurlik ook al ’n profeet genoem (Gen. 20:7), maar hier word Moses as die eerste van ’n reeks profete wat God se Woord aan die volk Israel bring aan ons voorgestel.

Moses verklaar die impak van die verlede as deel van God se voorskrifte vir die hede

Let op in vers 5 dat alles wat hy gaan sê as deel van die wet uitgespel word. Moses het: “die wet begin verduidelik.” Sy woorde in Deuteronomium, die verduideliking (die Hebreeuse woord bēʾēr beteken verklaring of uitleg) van die wet, dra dus dieselfde gewig as die voorskrifte wat God reeds gegee het in Eksodus tot Numeri, en het daarom Goddelike gesag.

Hiermee interpreteer Moses die verlede van God se handelinge met hulle van Sinaiberg af tot by die Jordaan en verklaar dit daarby as deel van sy voorskrifte aan hulle. Alles wat met hulle gebeur het, die goed en die sleg, die wonders en die wroegings, het hulle geleer wat sy wil vir die lewe is. Moses se verklaring daarvan moes hulle die impak daarvan vir die volgende fase van God se plan met hulle laat begryp.

Die Intog in die beloofde land is God se opdrag aan hulle – Deuteronomium 1:6-8

Nadat die plek deeglik beskryf is waar hulle steeds aan die oostekant van die Jordaan in die vlakte van Moab gekamp het (Deut. 1:1-5), begin sy preek met ’n herinnering aan die oorspronklike opdrag aan die volk by die berg Horeb (Sinai) om die land in besit te gaan neem: “Ek stel hierdie land tot hulle beskikking. Trek in en neem dit in besit.

Dit bly die basis vir die belofte van die land. Dit is God se gawe aan hulle. Dit bly ook die visie vir die toekoms wat hulle verwagting sal stimuleer as motivering vir die baie reële uitdagings wat vir hulle sou voorlê om die land in te neem.

Die Here gee vir hulle leiers om die verantwoordelikheid te help dra – Deuteronomium 1:9-18

Moses verwys terug na die proses wat gevolg is om ‘n aantal leiers aan te stel om die verantwoordelikheid vir leiding saam met Moses te dra, militêr en administratief. Dit het manne ingesluit wat verstandig is, manne met insig, manne van aansien wat as hoofde op verskillende vlakke oor hulle aangestel kon word. Jy kan meer daaroor lees in my bydrae by bybelskool.com: Eksodus 18 – Jetro mentor Moses en die Israelitiese leiers tot ‘n leierskapspan.

Ook regters is aangestel wat onpartydig moes oordeel oor die sake wat voor hulle gebring is. Die vreemdeling moes net soveel regte soos die volksgenoot geniet. Die arme net soveel as die ryke – klein en groot.

Let op dat Moses hulle aanmoedig om nie vir mense bang te wees nie, maar telkens hulleself te herinner daaraan dat hulle in diens van God is. Later sou daar ook vroue in dié hoedanigheid dien, soos bv. in die geval van Debora agterkom (Rigt. 4-5). Sy was selfs ‘n militêre aanvoerder.

Moses gee dus saam met die wet – die geskrewe wil van God – die leiers wat die uitvoerders van die wil van God in die lewe van die volk sal wees. Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan Paulus wat dieselfde proses in die lewe van die NT geloofsgemeenskap beskryf met die gawes wat God gee om die dienswerk van die gelowiges te bevorder (Ef. 4).

Let ook op dat Moses die tweede generasie van die volk aanspreek asof hulle eintlik die eerste generasie was! Daarmee wil hy hulle verseker dat dieselfde belofte van destyds hulle ingesluit het. Al was sommige van hulle nie eers gebore veertig jaar gelede nie, was hulle deel van die volk aan wie die opdrag gegee is. Alles wat God dus belowe het aan die volk was ook hulle deel. Só ook die opdragte.

Moses herinner hulle aan die gevolge van ongehoorsaamheid – Deuteronomium 1:19-46

Moses herinner die Israeliete egter ook op uitgebreide manier aan die mislukte eerste Intog soos dit reeds in Numeri 13-14 vertel is. Ten spyte van die feit dat die Here hulle heelhuids by die beloofde land aangebring het, het hulle gehuiwer in vrees.

Selfs die instuur van verkenners het nie gehelp om hulle aan te spoor om die Here te vertrou nie, en hulle het hulle verset teen die opdrag van die Here.

Die noodwendige gevolg was dat hulle die kans om die land binne te trek, verspeel het. Let op hoe Moses hulle herinner aan die gemor in die tente wat hulle verlei het om ‘n wanvoorstelling van die Here te laat maak, dat Hy hulle haat. Hulle het selfs die verkenners aangevat en verkwalik dat die nuus oor die land hulle moed gebreek het, so asof die verkenners valse voorstellings aan hulle gemaak het.

Dit laat ‘n mens besef hoe jou eie ingesteldheid jou optrede bepaal. As jy bang is vir iets gee jy baie maklik vir die Here of vir ander mense die skuld. Daarmee projekteer jy jou vrees op hulle, in plaas daarvan om eerlik te wees en hulp te vra.

In plaas daarvan dat die Here dus vir hulle sou geveg het met die inname van die land, het Hy hulle teenstander geword en die eerste generasie in die woestyn laat omkom. Wie nie aan Hom gehoorsaam is nie, kan nie sy beloftes en seën in ontvangs neem nie.

Daar is ook ‘n intense ironie in die feit dat die Here bewys het deur die eerste reis tot by die beloofde land dat Hy die beste kampplekke vir hulle uitgesoek het, begelei deur die vuur- en wolkkolom. Hy was dus die Verkenner van formaat! Hulle het Hom egter nie vertrou om dieselfde te doen met die Intog nie! Hulle het selfs hulle eie verkenners nie vertrou nie.

Craigie sê hieroor: “In spite of having already experienced both the strength and protection of God, still the people did not trust him.” (The Book of Deuteronomy). Iets om oor na te dink in jou eie lewe!

Maar, Moses herinner hulle hieraan nie om hulle negatief te maak nie, of om hulle by te kom nie. Nee, hierdie herinnering moes hulle gehoorsaamheid bepaal, want God se belofte kan net deur gehoorsaamheid in ontvangs geneem word. Hulle word opgeroep om die Here te vertrou en te gehoorsaam.

Boodskap en betekenis

Jy kan jou geheue verfris deur my bydraes oor die verhaal, soos dit in Numeri vertel is, te lees (Numeri 13 – Ons was soos sprinkane in ons eie oë; Numeri 14 – Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat?)

Jy sal oplet dat daar aksent verskille is met die vorige verhale. Bv. in Numeri 13 het die Here die leiers aangewys vir die verkenning. In Deuteronomium 1 skets Moses die ander kant daarvan, dat hulle by hom aangedring het om manne te stuur om die land te verken. Dit verander egter nie aan die boodskap wat Moses nou onderstreep nie. Hulle moes leer uit die foute van die verlede om nie weer in dieselfde ongehoorsaamheid te verval nie.

Vir die dieperdelwers

Lukas gebruik moontlik die struktuur van Deuteronomium 1-26 om die verhaal van Jesus van hfst. 9:51-19:44 te vertel, soos ‘n hele paar geleerdes al voorgestel het (bv. G.K. Beale en D.A. Carson se Commentary on the New Testament Use of the Old Testament).

Dit val op hoe die uitstuur van die verkenners met die uitstuur van die dissipels (Deut. 2 en Luk. 10), die klem op die wet (Deut. 5-6 en Luk. 10:25-27) die klem op vreemdelinge (Deut. 7 en Luk. 10:29-37), die klem op die dien van God alleen (Deut. 10-11 en Luk. 11:27-36), die wette van rein en onrein (Deut. 12 en Luk. 11-12), die hantering van rykdom (Deut. 12 en Luk. 12), die belangrikheid van die regte oordeel (Deut. 13 en Luk. 12-13), die effek van verlies en verlossing (Deut. 21 en Luk. 15) en die fokus op armes en onderdruktes (Deut. 24 en Luk. 16-18) ooreenkom. Sommige noem daarom dié deel in Lukas die “Christian Deuteronomy”.

  • Wat is die kern van die boodskap van dié hoofstuk vir jou dag en lewe – insigte, beloftes, of opdragte?
  • Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…