Skip to main content

Matteus 27

Jesus word verhoor, gekruisig en begrawe

Matteus 27 gee ‘n oorsig van Jesus se finale lydensweg, van sy verhoor voor Pilatus tot sy dood aan die kruis en begrafnis. Hierdie gebeure beklemtoon die mensdom se skuld en God se genade. Die Evangelie toon hoe verharde harte, valse aanklagte en godsdienstige ywer lei tot Jesus se dood, maar terselfdertyd openbaar dit sy bereidheid om gehoorsaam die kruis te dra vir die verlossing van die wêreld.

Teks en konteks

Die Jode gee Jesus oor aan Pilatus (Matteus 27:1-2)
Die Joodse leiers, vasberade om Jesus te laat sterf, lewer Hom geboeid oor aan Pilatus. Hulle plan is duidelik: hulle wil hê dat Pilatus die doodstraf moet uitreik. Hierdie oorgawe illustreer hoe ver godsdienstige ywer kan gaan wanneer dit losstaande is van ware geregtigheid en waarheid.

Boodskap en betekenis

Die Joodse leiers fokus op veroordeling, terwyl Jesus deur dieselfde kruis die wêreld wil red.

Judas se spyt en tragiese einde (Matteus 27:3-10)
Judas, wat Jesus verraai het, kry spyt wanneer hy sien dat Jesus veroordeel word. Hy probeer sy fout regmaak deur die dertig silwerstukke terug te gee, maar die leiers verwerp hom. Uiteindelik neem Judas sy eie lewe. Die leiers gebruik die geld om ’n veld as begraafplaas vir vreemdelinge te koop, wat Matteus as ’n vervulling van profesie interpreteer.

Boodskap en betekenis

Judas se spyt kom te laat. Anders as Petrus, bely hy nie sy skuld voor God nie, en sy tragiese keuse beklemtoon die noodsaak van bekering en genade.

Jesus voor Pilatus (Matteus 27:11-14)
Voor Pilatus bevestig Jesus op subtiele wyse dat Hy die koning van die Jode is, maar Hy verduidelik nie verder nie. Pilatus is verbaas oor Jesus se stilte en waardigheid, selfs te midde van vals beskuldigings. Hy probeer Hom verdedig, maar slaag nie.

Boodskap en betekenis

Jesus se stilte dui op sy bewuste keuse om die kruis te dra. Pilatus, verward en onder druk, toon hoe politieke en persoonlike oorwegings regverdigheid kan kniehalter.

Pilatus faal in sy planne en Jesus word gekruisig (Matteus 27:15-26)
Pilatus gee die skare ’n keuse tussen Jesus en Barabbas, ’n berugte misdadiger. Die skare kies Barabbas. Pilatus was sy hande in onskuld, maar gee Jesus oor om gegésel en gekruisig te word. Die Joodse skare roep: “Laat sy bloed op ons en ons kinders kom,” ’n uitspraak wat hul eie skuld beklemtoon.

Boodskap en betekenis

Pilatus probeer neutraal bly, maar sy weifeling lei tot onreg. Die Jode se arrogante veroordeling wys hul blindheid vir wie Jesus werklik is.

Spot en laster deur die soldate (Matteus 27:27-31)
Jesus word na die soldate geneem, waar hulle Hom op liederlike wyse bespot. Hulle sit ’n doringkroon op sy kop en slaan Hom terwyl hulle spottend buig en Hom “Koning van die Jode” noem. Daarna lei hulle Hom weg om gekruisig te word.

Boodskap en betekenis

Die soldate se optrede beklemtoon die uiterste vernedering wat Jesus verduur het, terwyl Hy steeds die ware Koning bly.

Jesus word gekruisig (Matteus 27:32-44)
Simon van Sirene dra Jesus se kruis na Golgota. Jesus weier ’n verdowingsmiddel en word gekruisig tussen twee misdadigers. Die Joodse leiers en verbygangers spot met Hom en daag Hom uit om Homself te red as Hy die Seun van God is. Maar Jesus kies om nie Homself te red nie, sodat Hy ander kan red.

Boodskap en betekenis

Die Jode se gespot onthul hul wanbegrip van verlossing. Jesus se keuse om te bly aan die kruis toon sy onmeetbare liefde en gehoorsaamheid aan God.

Jesus sterf aan die kruis (Matteus 27:45-56)
Van twaalfuur tot drie-uur is daar duisternis oor die land. Jesus roep uit: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Psalm 22:2). Ná ’n finale uitroep sterf Hy. Die voorhangsel van die tempel skeur, die aarde beef, en grafte van ontslape heiliges gaan oop. ’n Romeinse offisier en sy manne verklaar: “Hy was werklik die Seun van God.”

Boodskap en betekenis

Jesus se sterwe openbaar beide God se oordeel oor sonde en sy genade in versoening. Die natuur en mense getuig van sy goddelike identiteit.

Jesus se begrafnis (Matteus 27:57-61)
Teen die aand van Goeie Vrydag nader Josef van Arimatea, ’n ryk dissipel van Jesus, vir Pilatus om Jesus se liggaam te begrawe. Hy en Nikodemus behandel die liggaam met sorg en begrawe dit in ’n nuwe graf. Maria Magdalena en die “ander Maria” bly by die graf om toe te sien waar Jesus begrawe word.

Boodskap en betekenis:
Josef en Nikodemus se optrede is ’n teken van hulle openlike lojaliteit aan Jesus, wat uitstaan teenoor die verraad en veroordeling vroeër die dag. Die feit dat die graf nuut en leeg was, beklemtoon die onmiskenbare aard van die opstanding wat sou volg.

Die graf word bewaak (Matteus 27:62-66)
Die leierpriesters en Fariseërs, bewus van Jesus se voorspellings oor sy opstanding, vra Pilatus op die Sabbat om die graf te beveilig. Hulle vrees dat die dissipels Jesus se liggaam sou steel en valslik sou beweer dat Hy opgestaan het. Pilatus gee toestemming vir ’n wag en die graf word verseël.

Boodskap en betekenis
Ironies genoeg help die leiers, wat die opstanding wil voorkom, om die opstanding onteenseglik te bewys. Die Romeinse wag en die seëling van die graf maak enige menslike inmenging onmoontlik, en beklemtoon dat slegs Goddelike ingryping Jesus kon opwek.

Die verwysing na “drie dae en drie nagte” moet verstaan word binne die Hebreeuse idiomatiese konteks, waar enige deel van drie opeenvolgende dae as “drie dae” beskou word.

  • Dag 1 (Vrydag): Jesus sterf en word begrawe.
  • Dag 2 (Saterdag): Die graf word bewaak.
  • Dag 3 (Sondag): Jesus staan op uit die dood.

Hierdie interpretasie stem ooreen met die profesieë en Paulus se verduideliking in 1 Korintiërs 15:4, asook die belofte van Hosea 6:2, wat dui op God se vinnige en besliste verlossing.

Jesus se tyd in die graf vervul die Skrifte en bevestig die sekerheid van sy opstanding. Dit onderstreep dat God in beheer is, selfs wanneer die dood skynbaar oorwin het.

Vir ‘n bietjie meer agtergrond: die dag van die kruising was op die 14de van die Joodse maand Nisan. Omdat ons ook weet dat dit op ‘n Vrydag was, is daar twee moontlike datums vir die kruising, die 7de April 30 nC óf die 3de April 33 nC.

Geleerdes kies gewoonlik vir die eerste datum 30 nC., veral omdat dit ‘n bietjie beter inpas met Matteus se mededeling dat Jesus se bediening op “ongeveer dertig jaar oud” begin het (Matt 1:23).

Daar is egter historiese gegewens van vier antieke geskiedkundiges van daardie tyd wat van ‘n aardbewing en sonsverduistering in Israel praat en dit verbind met die vierde jaar van die 202de Olimpiade, dit is 33 nC (Phlegon, Thallus, Africanus en Tertullianus). Daar is ook geologiese gegewens wat van ‘n aardbewing rondom daardie tyd in April getuig (Jefferson Williams, Markus Schwab en Achim Brauer). Dit maak die 33 nC. datum vir my die waarskynlike een.

Indien dié datum korrek is, het Jesus, volgens ons jaartelling, op 3 April 33 nC. aan die kruis gesterwe, min of meer 38 jaar oud. Anders was hy ongeveer 35 jaar oud met sy kruisdood as dit in 30 nC plaasgevind het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar