Skip to main content

Job 4:1-5:1

Elifas: Gee jou vroomheid jou geen hoop nie?

Job se drie vriende kan nie meer stilbly nie en begin hom antwoord.  In drie gespreksrondtes sal hulle telkens om die beurt hulle perspektief op die ellende van Job gee.  En Job sal ook telkens met hulle in gesprek tree, al dink hy nie veel van hulle argumente nie.  Hulle is immers volgens hom onbetroubare (6:15) en hopelose troosters (16:2) wat hom met sinlose praatjies probeer troos. Hulle troos is eintlik net bedrog (21:34).  Hulle moes liewer stil gebly het soos in die begin.

Elifas se bydrae hier in Job 4-5 is die langste bydrae van die drie vriende.  Hulle bydraes raak interessant genoeg al hoe korter soos die gesprek ontvou.  Sofar neem in die laaste rondte nie eers ‘n spreekbeurt nie.  Job se bydraes daarenteen neem egter toe in lengte in die loop van die gespreksrondtes.

Elifas praat in die eerste rondte veral uit sy persoonlike ervaring van die lewe.  Hy is baie oortuig dat hy reg is, soos ‘n mens agterkom uit sy gebruik van die woorde ek en ooit.

  • ‘n Mens sien regdeur dat sy mening op sy eie waarneming gebaseer is. Selfs wanneer hy die woord ons gebruik in die laaste vers is dit eintlik sy eie mening: “Kyk, dit het ons ontdek, so is dit, luister daarna en neem dit ter harte.” (5:27). Die gesig wat hy gesien het, verleen aan hierdie persoonlike mening eintlik ‘n “hemelse” gesag, volgens hom, maar waarin ‘n ontstellende negatiewe prentjie van die lewe geteken word (4:12-21).
  • Dieselfde selfvertroue in sy eie standpunt sien ‘n mens in die gebruik van die woord ooit in 4:7 (“Het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan? Waar is regverdiges ooit uitgewis?”) en 4:17 (“Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God?”). Daar is geen onsekerheid by hom nie.  Daarom gebruik hy woorde wat die absolute waarheid – uit sy perspektief – van sy standpunte oordra (vgl. ook niks, en geen).

Sy bydrae bevat drie groot vrae aan Job: 1) Gee jou vrome lewe jou geen hoop nie? – 4:1-6; 2) Het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan? – 4:7-11; 3) Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God? – 4:12-5:1.  Dit hak losweg aan by die twee groepe van drie waaroms wat Job oor sy lewe gevra het, maar dra ‘n ontstellende fatalistiese karakter.

Sy bydrae bevat ook drie groot stellings oor die lewe voor God: 1) Die mens is vir swaarkry gebore – 5:2-7; 2) As ek jy was, sou ek my tot God wend – 5:8-16; 3) Dit gaan goed met die mens wat deur God tereggewys word – 5:17-27.  Dit dra egter dieselfde negatiewe karakter, hoewel hy die opening laat dat daar hoop anderkant teregwysing is.

Daarmee begin hy egter implisiet ook alreeds vir Job aanvat dat die tragedies in sy lewe op een of ander sonde in sy lewe dui.  Job se teenspoed dui volgens Elifas op Job se skuld, ‘n eenvoudige oorsaak-en-gevolg teologie, gerugsteun deur die gesig.

Gee jou vrome lewe jou geen hoop nie? – 4:1-6

Elifas kan nie stilbly nie en fokus op Job se vroeëre impak op ander se lewens.  Hy was die een wat moed ingepraat het en dié wat struikel opgebeur het.  Nou is hy teen die grond weens die rampe wat hom getref het.  ‘n Mens sou dink dat sy vrome lewe hom hoop sou gee in dié situasie, en Elifas wonder hoekom nie?  Beteken sy vroomheid dan niks vir hom nie?  En hoekom?

Het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan? – 4:7-11

Elifas is so seker van sy saak dat hy aanneem dat Job met hom sal saamstem: “Dink daaroor na: het iemand ooit onskuldig te gronde gegaan?”  God laat dus volgens hom nie onskuldiges en regverdiges in die steek nie.

Maar, die teenoorgestelde is ook waar, sê hy: “Ek het ondervind: dié wat onreg plant en moeilikheid saai, oes dit ook.  Deur die toorn van God gaan hulle te gronde.” (Job 4:8-9).

Die antwoord op sy eie vraag ontbloot die ongemaklikheid van Elifas se trooswoorde aan Job.  Oppervlakkig gesproke wil Elifas vir Job troos bied uit die sekerheid van sy eie wyse woorde.  Maar as ‘n mens dieper kyk, besef jy hoe oppervlakkig is die wyshede, hoe teoreties, en hoe wreed, selfs al klee Elifas dit in ‘n gewaad van persoonlike ervaring.

Sy rigiede blik op die lewe – wat die teoretiese aard daarvan verraai – is dat dit goed gaan met regverdiges en vromes, en sleg gaan met onregverdiges en goddeloses.  Dit is die wet van die geestelike lewe soos dit die wet is van die natuur, geïllustreer met die voorbeeld van die leeus.

Elifas ignoreer die data wat nie inpas in sy skema nie, want hy moes tog van Abel geweet het wat onskuldig as regverdige gesterf het (Gen. 4).  En hy neem ook nie nuwe data in, soos Job se situasie kennelik is nie.

Kan ‘n mens ooit onskuldig wees in die oë van God? – 4:12-5:1

Elifas beroep hom verder op ‘n nagtelike gesig wat aan hom die boodskap oorgedra het dat geen mens onskuldig ooit onskuldig kan wees in die oë van God nie.  Selfs die engele het gebreke, hoeveel te meer nie sterflike wesens nie: “wat soos ‘n mot pap gedruk kan word.”

Die rigiede onafwendbare implikasie hiervan is duidelik: Goddelike vergelding is eintlik onafwendbaar, want niemand is onskuldig voor God nie.

‘n Mens wonder natuurlik daarom of hierdie gesig nie ‘n bose oorsprong het nie vanweë die hopelose inhoud daarvan spesifiek ook ten opsigte van die fatalistiese wanhoop op ‘n antwoord uit die hemel: “Roep maar!  Niemand sal jou antwoord nie.  Is daar selfs ‘n engel na wie jy jou sou kon wend om hulp?” Vergelyk die soortgelyke gebeure in 1 Konings 22:19–22 waar ‘n leuengees se aksies beskryf word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…