Skip to main content

Spreuke 23:1-35

Werk aan jou netwerk van verhoudings

Spreuke 23:1-3

Spreuk 7 – Wees tevrede met wat vir jou voorgesit word.

Let op dat dit nie soseer oor die magsverhouding gaan nie, maar oor die effek wat ‘n onbeteuelde eetlus, en die begeerte na meer op jou kan hê. Natuurlik kan dit jou in konflik bring met die hoë amptenaar, maar dit kan jou ook verlei om dieselfde te wil hê as hy, net uit jaloesie uit.

Spreuke 23:4-5

Spreuk 8 – Moenie dat jou verlange na rykdom jou jou sin vir waardes laat verloor nie.

Nie dat rykdom as sodanig noodwendig verkeerd is nie, maar rykdom kry maklik vlerke en raak verlore. En as rykdom jou fokus is, het jy dan jouself ook verloor. Die Prediker het ook hieroor nagedink en tot dieselfde gevolgtrekking gekom. Soms jaag jy rykdom na, maar gaan dood voor jy dit kan geniet (vgl Pred 4:7-8). Soms verloor jy dit bloot weens omstandighede (vgl Pred 5:13-17). Die soeke na rykdom kan jou dus duur kos.

Spreuke 23:6-8

Spreuk 9 – Moenie by ‘n suinige mens gaan eet nie.

‘n Suinige mens sal jou aanmoedig om te eet en agteraf beskinder of slegte gedagtes oor jou koester. Kies vrygewige gasvrye mense uit as jou vriende. Kies by wie jy kuier.

Spreuke 23:9

Spreuk 10 – Moenie die waarheid aan ‘n dwaas verkondig of selfs hom reghelp nie.

‘n Dwaas moet eers by ontsag vir God uitkom, voor die wysheid sin sal maak. Soos Jesus sê: “Moenie wat heilig is, aan die honde gee nie; en gooi julle pêrels nie voor die varke nie, sodat hulle dit nie miskien met hulle pote vertrap en omdraai en julle verskeur nie.” (Matt 7:6).

Spreuke 23:10-11

Spreuk 11 – Moenie weeskinders se grond vat nie.

In samehang met spreuk 4 – moenie antieke grense verlê nie – word hier eksplisiet gepraat van weeskinders se grond. Dit is kinders wie se ouers oorlede of onkapabel is, en daarom uitgelewer is aan die skuldinvorderaars wat hulle grond kan vervreem.

Wie weeskinders egter só te na kom, speel op gevaarlike grond, omdat die Beskermer, dit is God self, aan die weeskinders se kant is. Hy is die Vader van die vaderlose. Die Losser by uitnemendheid (vgl die rol van Boas in Rut). Vergelyk ook spreuk 1, wat ‘n soortgelyke gedagte oor armes en hulpeloses verwoord.

Spreuke 23:12

Spreuk 12 – Luister met aandag na wysheid.

Jou hart / gedagtes moet op korreksie / teregwysing gerig wees om dit sorgvuldig te oorweeg. Daarom moet jou ore gespits luister na die wysheid vir onderskeiding.

Spreuke 23:13-14

Spreuk 13 – Moenie bang wees om kinders te dissiplineer nie.

Ouers word aangemoedig om nie slap te lê in hulle opvoeding en dissipline van hulle kinders nie. Dit sluit lyfstraf vir seuns in. ‘n Pak slae sal nie doodmaak nie, maar sy lewe red van die doderyk.

Spreuke 23:15-16

Spreuk 14 – ‘n Wyse seun verskaf baie plesier aan sy pa.

Die plesier van ouerskap lê primêr daarin dat die opvoeding wat jy gegee het, en die opoffering wat jy ingesit het om lewenswysheid aan jou kinders oor te dra, gestalte kry in ‘n wyse lewe. Dit is ’n intense diep vreugde – jy voel dit in jou “niere” – volgens die Semiete die setel van jou diepste emosies.

Spreuke 23:17-18

Spreuk 15 – Verseker jou toekoms deur vir die Here ontsag te hê.

Daar is altyd die verleiding en versoeking om afgunstig te wees op die gemak waarmee sondaars hulle eie belange dien. Spreuke waarsku egter dat ‘n mens se heil nie daarin lê nie, maar in ‘n lewe in ontsag vir die Here. Dan het ‘n mens ‘n ware hoopvolle toekoms wat jou nie ontneem kan word nie.

Spreuke 23:19-22

Spreuk 16 – Moenie jou ophou met suiplappe en vrate nie.

In aansluiting by die waarskuwing by wie en hoeveel jy by mense eet, waarsku Spreuke hier teen ‘n gekuier saam met suiplappe en vrate. Dit is uiteindelik nie heilsaam nie, soos spreuk 18 ook sal uitwys. Dit sal jou van die wyse pad af laat afdraai. Teenoor die dwaasheid van suiplappe en vrate word die wysheid van die ouerlike voorbeeld en die navolging daarvan aangeprys. Dit sluit ook in om die vyfde gebod om jou ouers te eer tot aan die einde van jou lewe na te volg.

Spreuke 23:23-25

Spreuk 17 – Hou by die waarheid.

Let op hoe die waarheid in vele fasette sy gestalte kry. Dit bestaan uit wysheid, selfbeheersing, insig, en reg doen (dit is wat ’n regverdige kenmerk – vers 24). Dít is hierdie vier karaktereienskappe wat ouers vreugde verskaf: wysheid, selfbeheersing, insig, en reg doen.

Spreuke 23:26-28

Spreuk 18 – Bly weg van owerspel – dws enige seks buite die huwelik.

Regdeur Spreuke word gewaarsku teen die gevaar van die slegte vrou (zōnâ) of die vreemde vrou (nākrî). Spreuke is helder daaroor dat seks met sulke vrouens soos ‘n gevaarlike afgrond is. Dit is soos ‘n smal diep put waaruit jy nie kan ontsnap nie. Seks buite die huwelik beroof jou van die lewe en laat ’n samelewing in ontrouheid verval. Die slegte gevolge daarvan kan nie oorskat word nie. Die gevaar daarvan word afgeweer deur jou hart vir die Here te gee en jou oë op sy weë te hou.

Spreuke 23:29-35

Spreuk 19 – Moenie dronk word nie.

Hierdie langer spreuk is ‘n klassieke en kostelike beskrywing van die effek wat drank op ‘n mens het wat hom of haar aan oordaad, ‘n suipery, oorgee.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.