Skip to main content

1 Konings 15:9-15; 2 Kronieke 14-15

Asa: Die Here laat Hom vind deur dié vir wie dit ‘n vreugde is om Hom te vra

Asa het sy pa Abia opgevolg en 41 jaar regeer in Juda van 910-873 vC. Ons lees ‘n kort oorsig daarvan in 1 Konings 15:9-15 en ‘n baie meer uitgebreide verslag in 2 Kronieke 14-15. Asa het talle godsdienstige hervormings aangebring deur bv die manlike selfdegeslag tempelprostitute te verban en die afgodsbeelde te verwoes. Sy aktiewe regeringstyd was eintlik 39 jaar, want die laaste twee jaar het Josafat begin regeer weens sy pa se siekte.

Teks en konteks

Konings vertel vir ons dat Asa die manlike selfdegeslag tempelprostitute verban het (vgl Deut 23:17-18 waar dit verbied is; ook Hiskia het hulle verban – 2 Kon 23:7; Hosea spreek hom ook sterk daarteen uit – Hos 4:14), die afgodsbeelde verwoes, selfs sy ouma Maäka as koninginmoeder onttroon en haar Asjerabeeld vernietig het. Hoewel die hoogtes nie heeltemal verdwyn het nie, was Asa, volgens Konings, sy hele lewe lank getrou aan die Here.

Kronieke gee ’n meer uitgebreide weergawe van die regering van Asa as die skrywer van Konings. Uit die 6 episodes uit sy lewe in 2 Kronieke 14-16 het net 2 raakpunte met dié van Konings 15 en die Kronis vertel dié verhale met meer detail.

Vier van die episodes uit Asa se lewe kom nie voor in Konings nie en drie daarvan vorm ons leeswerk vandag in hoofstuk 14-15:

  • Asa hervorm die godsdiens en versterk die land militêr weens die rus wat God hulle gee – 2 Kronieke 14:2-7
  • Asa verslaan die Kussiete deur op God te steun – 2 Kronieke 14:8-15
  • Asa sit sy godsdienstige hervormings voort en sit ook die Asjera-aanbidder koninginmoeder Maäka af – 2 Kronieke 15:1-19

Asa hervorm die godsdiens en versterk die land militêr weens die rus wat God hulle gee – 2 Kronieke 14:2-7

Die hoof-oordeel oor Asa se lewe is dat hy gedoen het wat goed en reg is in die oë van die Here sy God.

  • Hy het op godsdienstige vlak omvattende hervormings aangebring. Aan die een kant was dit formeel godsdienstig van aard: altare, hoogtes, klippilare en gewyde pale het in die slag gebly sodat die volk God self kon aanbid. Aan die ander kant was dit ook persoonlik geestelik van aard: hy het die volk beveel om aan God gehoorsaam te wees deur sy wil te doen en sy gebooie na te kom.
  • Hy het op militêre vlak die rus wat hy geniet het van oorlog aan die begin van sy regeringstyd goed benut om die vestingstede in Juda te bou met versterkte mure, torings, poorte en sluitbalke.

Hy kon dit doen omdat sy pa Abia sy koningskap ’n tyd van vrede nagelaat het en die Here sy seën op Asa laat rus het.

Asa verslaan die Kussiete deur op God te steun – 2 Kronieke 14:8-15

Toe die (amper onvermydelike tyd van) oorlog uiteindelik aanbreek, was Asa nie net gereed in terme van sy vestingstede en 580 eenhede (dit is een van die interpretasie van die term 1000 in dié konteks) weerbare manne uit Juda en Benjamin nie, maar Asa roep die Here aan en maak eksplisiet staat op God se steun in die oorlog teen die Kussiete (ook teen die Libiërs soos ons aflei uit 1 Kron 16:8).

Die Here antwoord hom deur oorwinning in die oorlog teen ’n groot oormag waarna hulle ’n groot buit van kleinvee en kamele teruggeneem het. Ontstellend dat dié diere natuurlik geplunder is by gewone mense… oorlog was nog nooit aangenaam nie.

Asa sit sy godsdienstige hervormings voort en sit ook die Asjera-aanbidder koninginmoeder – 2 Kronieke 15:1-19

Asarja, die seun van Oded, verskyn nou op die toneel, waarskynlik omdat Asa bemoediging nodig gehad het om verder te gaan met sy godsdienstige hervormings ná die ervarings in die oorlog. Die Gees van God kom oor hom en bring God se boodskap vir Asa en al die manne van Juda en Benjamin om vas te staan en nie moedeloos te word nie. Hulle moes doodgewoon na die Here bly vra en by Hom staan, al kom wat. Dan sou hulle voorspoedig wees in alles wat hulle aanpak.

Dit inspireer Asa om die afgodsbeelde vêrder af te takel en die altaar wat voor die tempel was, te laat regmaak. Dit kan wees dat die Asjera-beeld wat deur die koninginmoeder Maäka opgerig is, die plek van dié altaar geneem het, maar met Asa se afdanking van haar as koninginmoeder natuurlik ook in die slag gebly het.

Dit het sy volk só geïnspireer dat die volk se aanhang van Asa gegroei het en selfs immigrante uit Efraim en Manasse (ryk van Israel) en selfs van Simeon uit die suide, by hom aangesluit het (2 Kron 15:9). Dieselfde sou later gebeur in die tyd van Hiskia (2 Kon 17-20; Jes 36-39) en nog later in die tyd van Jeremia (Jer 40).

Nie net is die politieke bande hiermee versterk nie. Ook die verbond met God is hernu en die algemene geestelike vlak van toewyding het beduidend gestyg, sodat die Kronis kan skryf: “Dit was vir hulle ‘n vreugde om na die Here te vra, en Hy het Hom deur hulle laat vind!” (2 Kron. 15:15).

Die opmerking oor die feit dat daar nie oorlog was tot in Asa se 35ste jaar moet waarskynlik só verstaan word, dat daar nie oorlog op Judese grondgebied was nie. Anders maak dit nie sin in die lig van die Kussiete se aanval en die voortdurende oorlog met Israel nie (1 Kon. 15:16).

Boodskap en betekenis

Hoe inspirerend is dit nie om te lees van Asa en die volk in hierdie stadium van sy regering:

Dit was vir hulle ‘n vreugde om na die Here te vra, en Hy het Hom deur hulle laat vind!” (2 Kron. 15:15).

Wat ’n getuienis en voorbeeld vir ons om na te volg!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda