Skip to main content

Psalm 113

Prys die Here van waar die son opkom tot waar dit ondergaan

Psalm 113-118 is die sogenaamde “Hallel” Psalms. Hierdie Psalms is met Paasfees gebruik om die Uittog uit Egipte te herdenk. Psalm 113 en 114 is voor die maaltyd gesing (voordat die tweede beker oorgegee is) en Psalm 115–118 na die maaltyd (wanneer die vierde beker gevul is). Dit is ook die Psalms wat in die drie daaglikse gebede van die Jode gebruik is (vgl https://bybelskool.com/drie-vaste-gebedstye-vir-elke-dag/). Dit is Psalms wat nie spesifiek gedateer kan word nie, maar pas in die tyd van die vestiging van God se teenwoordigheid in Jerusalem.

Teks en konteks

Psalm 113 is vir my: “Hanna se lied,” die onvrugbare vrou aan wie die Here vir Samuel gegee het (1 Sam 2). Die Psalm roep almal onder die son op om die Here te prys vir sy heerskappy en majesteit (Ps 113:4-6). God illustreer dit immers in sy genade wat hulpeloses verhef (113:7-8) en kinders aan ‘n kinderlose gee (Ps 113:9). So maak van Hy haar huis ‘n tuiste, en maak van ‘n onvrugbare vrou: “’n gelukkige ma van kinders”! Daarom moet almal die Here prys: “van waar die son opkom tot waar dit ondergaan.” (Ps 113:1-3).

Dit is dan ook die drie dele van die Psalm.

Almal onder die son moet die Here loof – Psalm 113:1-3

Die hele wêreld word opgeroep om die Here te prys. Nie net in dié tyd nie, maar vir altyd. Nie net in die land nie, maar: “van waar die son opkom tot waar dit ondergaan.” Nie net sy diensknegte nie, maar eintlik almal oor wie Hy heers.

Wie is so majestueus soos die Here? – Psalm 113:4-6

Want, die Here is hoog bo al die nasies, selfs hoog bó die hemel uit. Daar is niemand so majestueus soos Hy nie. Hy: “moet “afbuk om na die hemel en die aarde te kyk”! Dit is asof die ganse hemelruim en die aarde soos ‘n speelding vir die Here is wat Hy van hoek tot kant met een oogopslag kan raaksien.

Die Here hef hulpeloses op en maak ma’s gelukkig met kinders – Psalm 113:7-9

Dié Here is nie net groots en majestueus nie, maar Hy bekommer Hom oor hulpeloses en behoeftiges en laat hulle van die ashoop af opstaan en by die vooraanstaande mense van die volk sit. Hy hef hulpeloses en behoeftiges dus op vanuit hulle nederige “stof”-bestaan en maak van hulle mense van betekenis.

Die Here bekommer Hom ook oor onvrugbare vroue en gee vir hulle kinders sodat hulle huise tuistes word. Só word elke onvrugbare vrou: “‘n gelukkige ma van kinders.” Die verhaal van Hanna is die inspirerende krag agter dié verwysing. Lees haar wonderlike lofgebed in 1 Samuel 2 nadat Eli vir haar gebid en die Here: “aan haar gedink” het en vir haar ‘n seun gegee het.

Vgl. ook Jesaja 54:1 wat soos dié Psalm die Here loof vir sy voorsiening (William Carey se moderne sendingbeweging is uit dié profesie gebore!) en Maria se loflied wat verbind word aan Hanna se wonderlike lofgebed: Lukas 1:46–55.

Boodskap en betekenis

Die Psalm steek in my ‘n bruisende vreugde aan, ‘n dankbaarheid oor God se majesteit en grootsheid, maar ook ‘n ontsag vir sy genade aan hulpelose mense en sy geskenke aan kinderlose mense. Dié Psalm ontlok in my ‘n begeerte om: “van waar die son opkom tot waar dit ondergaan” die Here te loof, elke dag, en vir altyd. Nie net vir wat ek ontvang nie, al is dit baie, maar vir wat God ook vir ander mense gee. Dit verskaf my ‘n intense vreugde.

Die beskrywing van ‘n tuiste is natuurlik ook ‘n metafoor vir God se geskenk van ‘n gemeenskap aan elkeen van ons waar ‘n mens kan gedy, al sou jy die gawe van eie kinders self nooit smaak nie. Hoe nodig het almal van ons dit nie! En dié Psalm nooi ons uit om die Here daarvoor te vertrou. Selfs al kom die tuiskoms nie deur kinders nie, maar deur die gemeenskap met ander gelowiges, of miskien deur ouerlose kinders vir wie jy ‘n ma of pa kan wees.

Wie weet wat kan met jou gebeur ná jy dié Psalm gelees het!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar